HOE KAN EK HEILIG LEWE?

HOE KAN EK HEILIG LEWE?

Skrywer:  Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my die volgende:

“Ek het 'n vraag, miskien gaan dit vir jou belaglik klink, maar terwyl ek jou e-pos lees en kom by die vers "Wees heilig want Ek is heilig." Toe wonder ek hoe kan ons regtig heilig word?  Kan jy dalk help?

Die gedeelte waaroor die persoon aan my geskryf het is:

1 PET 1:16  Hy het immers self gesê:  “Wees heilig, want Ék is heilig!”

Petrus kwoteer hier ‘n gedeelte van LEV 11:44.  Ons lees daar:

LEV 11:44  Ek, die HERE, is jou God.  Julle moet heilig wees omdat Ek heilig is..”

Hoe kan jy en ek nou heilig word?
Eintlik stel ek die vraag verkeerd.  Want sien, ons Here sien jou en my al klaar as heilig:

1PET 2:9  ..want God het julle as Sy volk gekies.  Julle is ‘n koninkryk wat uit priesters bestaan, ‘n nasie wat heeltemal in God se diens staan, ‘n volk wat heeltemal God s’n is.  Dít het God bewerk sodat julle vir almal kan wys hoe goed Hy is.  Dit is immers Hý wat julle uit die duisternis in Sy wonderlike lig ingeroep het.

Dit is maar net een van die baie, baie voorbeelde wat ek jou kon voorhou, om te wys, dat ons Here jou en my, ons wat Jesus Christus aangeneem het as ons Verlosser en Saligmaker as heilig sien.

Ek glo, dat as ons Here vir ons sê:
“Wees heilig, want Ek is Heilig” bedoel ons Here, dat hoe meer ons Sy
Liefdesgebod wat HY aan ons gegee het uitlewe, hoe heiliger word ons.

Van watter Liefdesgebod praat ek?

Ons lees van hierdie liefdesgebod aan ons onder andere in MAT 22:36-40.

MAT 22:36-40  “Leermeester,” vra hy, “wat is die belangrikste opdrag in die wet van Moses?”  37Jesus se antwoord was:  “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand.  38Dit is die eerste en belangrikste opdrag.  39Die tweede, ewe belangrike opdrag is:  ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’  40Al die ander vereistes van die wet en die profete berus op hierdie twee hoofgebooie.”

My groot held Paulus skryf by geleentheid as volg:

ROM 13:8-10  Betaal alles wat julle verskuldig is, maar die een rekening wat julle altyd verskuldig sal bly, is om mekaar lief te hê. As jy jou naaste liefhet, vervul jy die wet.  9Want elke verbod, dié teen egbreuk, teen moord, teen diefstal, teen verkeerde begeertes – en watter ander een daar ook mag wees – word opgevang in hierdie een groot opdrag:  “Jy moet jou medemens net so liefhê soos jouself.”  10Die liefde doen niemand kwaad aan nie.  Daarom voldoen die liefde aan al God se vereistes.

Want sien –
As my liefde in my hart vir God en ander mense is op die vlak waar ons HERE wil dat my liefde moet wees, sal ek nie enige iets doen aan my medemens wat ons HERE nie wil dat ek behoort te doen nie.
Die Ou Vertaling stel dit so:

ROM 13:10  Die liefde doen die naaste geen kwaad nie; daarom is die liefde die vervulling van die wet.

Iemand kan nou dalk vra:
“Hoe maak my liefde vir my medemens my nou meer heilig, of selfs hoegenaamd heilig?
Wel, eintlik is die antwoord op hierdie vraag heel eenvoudig.

Deur, so sien ek dit, die vrug van die Heilige Gees te dra, gebeur dit eintlik te heerlik sommer vanself.
Jesus sê byvoorbeeld van die vrugte wat die mens dra die volgende:
Eers wys ek jou waar Jesus van die verkeerde soort vrug praat.
Ek noem dit sommer die dodelik giftige vrugte:

MAT 7:15  “Pas op vir die vals profete.  Op die oog af lyk hulle soos onskuldige lammetjies, maar in werklikheid is hulle gulsige wolwe.  16Julle sal hulle aan hulle optrede uitken, net soos ‘n mens ‘n boom aan sy vrugte kan uitken.  ‘n Mens pluk tog nie druiwetrosse van doringbosse af, of vye van dissels nie.    17‘n Gesonde boom dra immers goeie vrugte en ‘n siek boom slegte vrugte.  18‘n Gesonde boom kan nie slegte vrugte dra en ‘n siek boom goeie vrugte nie. 19 Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi.  20So sal julle hierdie mense aan hulle vrugte uitken.”

Die slegte vrugte wat Jesus hier van praat, is so dodelik giftig, dat dit jou so kan
vergiftig, dat dit jou geestelik dood kan maak en jou, jou Ewige Lewe kan kos.

Want net nadat Jesus met ons oor hierdie slegte vrugte gepraat het, deel Hy met
ons hierdie geweldige groot werklikheid:

MAT 7:21  “Nie almal wat ewe vroom vir My ‘Here, Here’ sê, sal in God se koninkryk ingaan nie.  Wat die deurslag sal gee, is of hulle aan my hemelse Vader gehoorsaam was.

Hoe lyk die optrede van die mens wat uiteindelik die goeie vrugte van die Heilige
Gees dra?  Anders gestel –
Hoe lyk en is mý optrede as ek die wil doen van my Vader wat in die Hemel is?

MAT 13:23  “Hulle by wie op die goeie grond gesaai is, is dié wat die boodskap hoor en verstaan.  Hulle dra vrug en bring ‘n oorvloedige oes voort:  honderd of sestig of dertig maal soveel as wat oorspronklik gesaai is.”

Hierdie honderd, sestig en of dertigvoudig vrug wat by ons gevind sal word, is waardeur mense die heiligheid van ons Here in ons sal sien.

Hoe lyk hierdie heerlike vrug van die Heilige Gees, as mense dit by ons kom kry
en om dit so te stel, daarvan geniet?

GAL 5:22-23  Maar as die Gees ons lewe beheer, is die gevolg:  Liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, 23sagmoedigheid en selfbeheersing.  Teen sulke dinge is daar nie ‘n wet nie.

My strewe is – en ek wil jou vra om dit ook jóú strewe te maak.

Om uiteindelik hierdie vrugte van die Gees waarvan jy nou gelees het, nie net dertig, of dalk sestig nie maar uiteindelik sommer heerlik honderdvoudig van daardie wonderlike vrug van die Gees voort te bring, sodat ons ook, so uitvoering aan daardie opdrag van ons Here kan gee, waaroor jy aan my geskryf het naamlik:

1 PET 1:16  … “Wees heilig, want Ek is heilig!”

Dit doen ons deur die vrugte van die Heilige Gees te dra waarvan GAL 5:22-23 ons leer.

Die dra van hierdie vrug is net regtig moontlik as ek werklik in my hart liefde vir my God en my medemens het.
Want dán, en dan alleen, is dit moontlik om ons Here se Liefdeswet te vervul!
Daar staan dit, om dit so te stel, op wit en swart geskryf:

ROM 13:8  … want hy wat ‘n ander liefhet, het die wet vervul.

Van watter wet praat die Christen Paulus wat aan Christene skryf?
Van Jesus se liefdeswet natuurlik.

Die Ou Vertaling stel dit so:

MAT 22:36  Meester, wat is die groot gebod in die wet? 37En Jesus antwoord hom: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. 38Dit is die eerste en groot gebod. 39En die tweede wat hiermee gelykstaan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. 40Aan hierdie twee gebooie hang die hele wet en die profete.

Op ‘n ander plek sê die Woord van MAT 22:39-40 die volgende:

MRK 12:31  “Die tweede gebod is net so belangrik:  ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’  Dit is die allerbelangrikste opdrag.”

Nou kan jy maar weet.  As die Woord sê:

MRK 12:31  … Dit is die allerbelangrikste opdrag.”

Wel, dan is “daar geen ander gebod groter as dié nie.”

Leef hierdie wet uit, deur die vrugte van die Heilige Gees te dra en jy sal ‘n heilige lewe lewe en dan kan jy, om dit so te stel, aste ware, van hierdie heerlike vrug van die Heilige Gees ook aan die mense om jou uitdeel.

Ja, leef in opregtheid volgens hierdie Bybelse beginsels en jy sal uiteindelik op daardie plek kom, waar die mense sal sien.  Jy is heilig, want jou God wat in jou woon is heilig.

Groete
Sakkie