HOE KAN EK VREUGDE IN DIE HEMEL VEROORSAAK?

HOE KAN EK VREUGDE IN DIE HEMEL VEROORSAAK?

Sakkie Parsons

Graag deel ek met jou die volgende maar ek wil dit net reg aan die begin van hierdie skrywe baie duidelik stel:

Jy kan niks, absoluut níks doen om die ewige lewe te beërwe nadat jy werklik met jou hele hart jou bekeer en Jesus Christus aangeneem het as jou Verlosser en Saligmaker nie en ook dit is alles liefdevolle genade, louter liefdevolle genade.

Alles, letterlik álles wat gedoen moes word om die pad na die hemel vir jou en my oop te maak, het Jesus reeds gedoen.

ROM 3:22-27
22 God spreek ons vry deur geloof in Christus Jesus en dit geld sonder onderskeid vir almal wat glo.
23 Ons het immers almal gesondig. Ons almal het God beroof van die eer wat Hom toekom.
24 Maar nou spreek God ons in sy genade vry op grond van die verlossing wat Christus Jesus vir ons verkry het – en dit sonder enige verdienste van ons kant.
25-26 Want God het Hom gestuur as ’n offer wat deur sy sterwe versoening bewerk het vir almal wat glo. Op hierdie manier het Hy duidelik aangetoon wat sy vryspraak behels: Aan die een kant het Hy die sondes vergewe wat vroeër in die tyd van sy verdraagsaamheid begaan is; aan die ander kant het Hy ook duidelik aangetoon wat sy vryspraak nóú behels. Op hierdie manier blyk dit dat Hy nie net regverdig is nie, maar terselfdertyd ook elkeen regverdig verklaar wat in Jesus glo.
27 Kan ons ons dus daarop beroem dat ons enigiets gedoen het om die vryspraak te verdien? Dis heeltemal buite die kwessie, want ons vryspraak berus nie opons goeie dade nie, maar op ons geloof.

Nou probeer ek uit liefde vir Hom en ook vir my medemens, om soveel mense as moontlik saam met my hemel toe te neem. 

Ja, nie omdat ek daarmee iets kan verdien nie maar uit liefde, eerbied en respek vir Hom.
Tog weet ek ook, dat Hy dit wat ek vir Hom hier op aarde gedoen het, raaksien en om dit so te stel, in berekening gaan bring, as ek eendag voor Hom staan.

1KOR 3:11-15 
11 Want niemand kan ’n ander fondament lê as die een wat alreeds gelê is nie – Jesus Christus.
12  As enigiemand op daardie fondament bou, kan hy goud gebruik of silwer of edelstene of hout of hooi of stoppels.
13  Daar kom egter ’n dag wanneer die kwaliteit van elkeen se werk aan die lig sal kom, want die vuurtoets sal dit bekendmaak. Dié vuurtoets sal elkeen se werk beproef – of dit standhou.
14  Die mense wie se bouwerk standhou, sal deur God beloon word.
15  Maar die mense wie se bouwerk deur die vuur verteer word, sal skade ly, alhoewel hulle self gered sal word. Hulle sal egter wees soos mense wat op die laaste oomblik uit ’n brand gered word.

Nou wil ek met jou die volgende deel:

Ek was besig om te werk op my rekenaar en het iets gelees wat iemand geskryf het.
Toe gaan lees ek ‘n gedagte uit die Woord wat my een medewerker in Christus vir my vertaal het, sonder dat ek haar eens gevra het maar hier wil ek eers ‘n getuienis met jou deel:
Toe ek in 2011 agterkom dat my vrou wat aan dementia lei, dit was toe nog in die heel begin stadium, nie meer my werk vir my kan redigeer nie en ook nie meer vir my op die internet naslaanwerk kan doen nie, het ek begin wonder hoe my bediening vorentoe gaan funksioneer.
Hier moet ek net verduidelik, dat ek van ‘n program gebruik maak om my rekenaar met my te laat praat en omdat ek, seker maar net nie tegnologies slim is nie, sukkel ek  soms op die rekenaar en op die internet.
Ons Here wat my ken en my bekommernis gesien het, laat toe ‘n dame aan my skryf, wat toe meer as 15 jaar voor haar skrywe aan my, saam met haar gesin in ‘n diens gesit het wat ek waargeneem het en sy bied haar dienste aan om my met enige iets te help in my bediening waar ek haar kan gebruik en van toe af, het ek seker een van die beste persoonlike assistente in die wêreld.
Sy het haarself aangestel as my PA en dit sonder vergoeding.
Want jy sien –
Ons Here het my behoefte gesien en haar vir my gestuur.
Sy en haar man, wat haar weer baie help met haar rekenaar en ek, soos my groot held Paulus en al die ander apostels van sy tyd en al die ander werkers van Jesus Christus oor die eeue heen, ook vandag, het hierdie groot begeerte om siele vir Jesus te wen en al die siele wat ons wen eendag in die hemel te sien.

My groot held Paulus stel dit by geleentheid so:

1THS 2:19-20
19 Immers, as ons met Jesus ons Here se terugkeer voor Hom moet staan, wie sal ons vooruitsig of blydskap of erekrans wees, as dit nie julle (almal wie ons gehelp het om by Jesus Christus uit te kom) is nie?
20 Júlle is mos ons eer en ons blydskap!

By geleentheid gee Jesus ons, Sy kinders, hierdie goeie raad/opdrag:

MAT 6:19-20 
19  “Moenie vir julle hier op aarde skatte bymekaarmaak waar motte en roes dit wegvreet en diewe inbreek en roof nie.
20 Maak vir julle skatte in die hemel bymekaar waar geen mot en roes dit sal kan bykom nie, en waar diewe nooit sal kan inbreek en roof nie. 21Onthou, waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees.

Jy sien, volgens wat ek in hierdie verband verstaan werk dit so:

Ek kan niks uit hierdie wêreld saam met my hemel toe neem nie:

1TIM 6:7  Alles in aanmerking geneem, het ons tog niks saamgebring toe ons in die wêreld gekom het nie, en ons sal ook nie enigiets saamneem wanneer ons sterf nie.

Tog kan ek skatte in die hemel bymekaar maak.

Aan elkeen aan wie jy en ek die evangelie van Jesus Christus alreeds verkondig het en nog gaan verkondig, en wie Jesus dan aanneem as Verlosser en Saligmaker, of hulle wie weer terugkeer na Jesus en Hom dan die res van hul lewens volg tot in die Hemel, is ‘n skat waaraan jy en ek deel het.

Weet jy hoeveel vreugde veroorsaak ons in die hemel wanneer ons ons Here help om ‘n ander mens tot bekering te lei, deur die evangelie aan hom/haar te verkondig?

Dit is Jesus wat hier praat:

LUK 15:10  “Net so is daar blydskap onder God se engele as net een sondaar tot inkeer kom.”

Al die engele in die hemel sien en deel in die blydskap van God oor ‘n siel wat hom/haar bekeer.

As jy vandag op daardie plek in jou lewe is, waar jy so besig met die dinge van hierdie lewe is, dat jy net eenvoudig nie die tyd het om nog vir ons Here ook te werk, deur byvoorbeeld by God se verkondiging van Sy evangelie op die een of ander wyse betrokke te raak nie.
Tog weet jy, dat jy wel vir Jesus aangeneem het as jou Verlosser en saligmaker –
Dan wil ek jou vra om daaroor te bid en weer ons Verlosser en Saligmaker se woorde aan ons te gaan oordink naamlik:

MAT 6:33 “Nee, maak die koningsheerskappy van God en dit wat voor Hom reg is, julle prioriteit; dan sal God vir julle al hierdie ander dinge byvoeg.

Dink net hoe oneindig wonderlik sal dit by al die wonderlikheid wees wat ons in hierdie lewe nie eens met ons verstand kan bedink nie – As jy en ek eendag voor ons Here staan en Hy so na al die skatte om ons kyk en met Sy wonderlike tevrede glimlag na ons kyk en sê:

MAT 25:21 … ‘Uitstekend! Jy is ’n voortreflike slaaf; een op wie ek kan staatmaak.
In die kleine het jy jou betroubaar bewys. Daarom gaan ek nog baie groter verantwoordelikhede aan jou toevertrou. Kom vier saam met my fees!’

Ek sou nie eerlik met jou wees, as ek nie ook jou herinner wat ons Here ook net ‘n bietjie verder in hierdie gedeelte vir ons laat skryf het nie. 

Onthou ook as jy dit lees watter verskriklike prys het Jesus, die een wat hierdie Woorde vir ons laat neerskryf het, betaal, dat jy en ek die liefdevolle genade van ons Here kon ontvang het om eendag in die hemel by Hom te wees en nie vIr ewig in die hel die verskriklikste dood te sterf en tog nooit te sterf nie:

MAT 25:29-30
29 Aan hulle wat dit wat aan hulle toevertrou is goed gebruik, sal nog meer gegee word. Ja, hulle sal oorvloed hê. Maar van hulle wat niks kan wys nie, sal selfs die bietjie wat hulle het, ook nog weggeneem word.
30 En daardie nikswerd slaaf – (dit is hulle wat byvoorbeeld hulleself nie wou bekeer het nie) gooi hom uit in die donkerte daar buite. Dáár sal hulle bitterlik huil en van selfverwyt op die tande kners.’”

Luister mooi –
As jy Jesus aangeneem het as jou Verlosser en Saligmaker en jy volg Hom deur en uit hierdie lewe uit die hiernamaals in, stap jy ook saam met Jesus die hemel in.

So, maak nou te heerlik op jou pad na die hemel, kosbare skatte bymekaar, deur nog ander mense saam met jou hemel toe te neem.

Want onthou jy en hoe absoluut wonderlik heerlik?

HAN 1:8  Maar wanneer die Heilige Gees oor julle kom, sal julle krag ontvang en oral (met daardie groot liefde vir Hom in ons harte) mense eerstehands van My vertel – in Jerusalem, oor die hele Judea, in Samaria, en tot in die uithoeke van die aarde.”

Soos ek altyd in die een of ander variasie sê, sê ek nou ook weer:
Ons kan nie almal preek of evangelieseer ensovoorts nie, maar ons het almal ‘n lewe.
So gebruik dit wat jy wel kan en leef jou geloof en maak só skatte in die hemel bymekaar.

Groete,
Sakkie