HOE KAN EK WEET DIT IS ONS HERE WAT MET MY PRAAT EN NIE SATAN WAT MY IN ‘N SITUASIE IN WIL LEI NIE?

HOE KAN EK WEET DIT IS ONS HERE WAT MET MY PRAAT EN NIE SATAN WAT MY IN ‘N SITUASIE IN WIL LEI NIE?

Sakkie Parsons

Iemand het my gevra:

“Hoe kan ek weet dit is ons Here wat met my praat en nie satan wat my in ‘n situasie in wil lei nie?”

Oor die eeue het baie mense al met dieselfde probleem geworstel.
In die Bybel is daar ook gevalle waar mense nie geweet het dat God met hulle deel nie en ek noem twee waaraan ek nou kan dink:

Die eerste is Gídeon en dit het baie oorreding van ons Here gekos om hom te laat glo dat hy nou die stem van die Here hoor.  Jy kan dit gaan lees in Rigters 6 van af vers 11.

Nog ‘n voorbeeld is waar ons Here met Samuel gepraat het.  Jy kan dit gaan lees in 1 Samuel hoofstuk 3.

Die verskil egter tussen Gídeon, Samuel en ander mense van daardie tyd en ons vandag, is: Hulle het nie die volle Bybel tot hulle beskikking gehad om te lees en te bestudeer soos ek en jy nie.

Die meeste Christene word na my mening om die bos gelei deur satan en mense omdat hulle nie gereeld die Woord lees, bestudeer en bid vir die regte leiding oor wat hulle gelees het nie.  Daarom beland so baie van Sy kinders in situasies waarin ‘n kind van God nie behoort te beland nie.  Ons Here sê dan ook in Sy Woord vir ons:

HOS 4:6  My volk gaan te gronde weens gebrek aan kennis; omdat jy die kennis verwerp het, sal Ek jou verwerp, sodat jy vir My die priesteramp nie sal bedien nie; omdat jy die wet van jou God vergeet het, sal Ek ook jou kinders vergeet.

As ek die Woord gereeld lees, bestudeer, glo en oor dit wat ek gelees het, bid – met ander woorde met ons Here daaroor in gesprek tree, sal satan my nie met ‘n slap riem kan vang nie.  Want ek sal soos die voorbeeld wat Jesus vir ons gee om met versoekings ens te deel, vir satan kan sê:
“Daar is geskrywe …”

MAT 4:2-4 
2 En nadat Hy veertig dae en veertig nagte gevas het, het Hy naderhand honger geword.
3  En die versoeker het na Hom gekom en gesê: As U die Seun van God is, sê dat hierdie klippe brode word.
4  Maar Hy antwoord en sê: Daar is geskrywe: Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat deur die mond van God uitgaan.

Die gedeelte waarmee Jesus satan getroef het is:

DEU 8:3  En Hy het jou verootmoedig en jou laat honger ly en jou die manna laat eet wat jy en jou vaders nie geken het nie, om aan jou bekend te maak dat die mens nie van brood alleen lewe nie, maar dat die mens lewe van alles wat uit die mond van die HERE uitgaan.

So, lees die Woord en bid oor dit wat jy gelees het. 
Daar is na my mening nie ‘n beter manier om na ons Here se stem in jou hart te luister nie.  Want, onthou:

2TIM 3:16  Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid,
2TIM 3:17  sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus.

Om dan op te som:
Ons Here praat met ons deur byvoorbeeld drome, gesigte, mense en omstandighede maar hoofsaaklik deur Sy Woord.

As ons Sy Woord gereeld lees, bestudeer en met Hom in gebed daaroor praat, sal satan ons nie met een van sy valse foefies waarin hy voorgee dat dit van ons Here af kom vang nie.

Want, prys die Naam van ons Here!
Dan ken ons mos ons Herder se stem.

JHN 10:27  My skape luister na my stem, en Ek ken hulle, en hulle volg My.

JHN 10:28  En Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie, en niemand sal hulle uit my hand ruk nie.
              

Groete,
Sakkie