HOE KOM EK IN DIE HEMEL?

Skrywer:  Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my:

“Daar is `n vraag by my wat vir jare al spook –  “Wat kwalifiseer my om hemel toe te gaan.?”

Weet jy mense wil dit soms so baie, baie ingewikkeld maak om hierdie wonderlike sekerheid te hê, dat ek is ‘n kind van ons Here en op pad Hemel toe en dan kom hulle gewoonlik met ‘n hele string dinge, soos my groot held Paulus dit stel:

KOL 2:20 Aangesien julle, deur saam met Christus te sterf, die bose wêreldse magte afgesterf het, waarom leef julle nog volgens wêreldse voorskrifte soos:
KOL 2:21 "moenie vat nie", "moenie dit eet nie" en "moenie aanraak nie"?
KOL 2:22 Dit is alles dinge wat verbruik word en vergaan – soos dit gaan met mensgemaakte voorskrifte en leringe.

Hoe heerlik!

Jesus het klaar álles gedoen om ons, soos jy dit stel te laat “kwalifiseer” vir die ewige lewe saam met Hom.

Al wat jy en ek moet doen, is om Jesus Christus aan te neem as Verlosser en Saligmaker.

Nou is satan so listig, en met duisende jare se kennis van die mens, weet hy ook net met wie hy dit kan probeer.
Dan kry jy dit dat mense wat Jesus aangeneem het as hulle Verlosser en Saligmaker, wonder:
“Het ek werklik vir Jesus aangeneem, of dink ek maar net ek het?”

Voor ek nou sê wat ek gaan sê, sê ek net weer en dit is werklik hoe dit is –

As jy Jesus aangeneem het as jou Verlosser en Saligmaker, om jou woorde te gebruik, kwalifiseer jy om Hemel toe te gaan:

JOH 1:12 Aan almal wat Hom egter aanvaar het, dié wat in sy Naam glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word.

Wat is die eenvoudigste, om dit so te stel, menslike bewys in jou hart, dat jy, om jou woorde te gebruik, vir die Hemel kwalifiseer?

ROM 10:9 Want as jy met jou mond bely (en dit werklik glo) dat Jesus die Here is en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word.

As dit werklik jou sienswyse is, is jy op pad Hemel toe en sal jy ook werklik so probeer lewe, dat die mense die familietrekke tussen jou en Christus sal sien:

MAT 5:14 Julle is die lig wat die wêreld moet verlig.  ‘n Stad wat bo-op ‘n berg lê, kan mos nie weggesteek word nie!
MAT 5:15 ‘n Mens steek ook nie ‘n lamp op en maak dit dan onder ‘n emmer toe nie.  Allesbehalwe!  Jy sit dit bo-op ‘n lampstander.  Dan maak dit lig vir almal in die huis.
MAT 5:16 Julle moet so voorbeeldig lewe dat julle ‘n helder lig sal laat uitstraal.  Dan sal die mense dit sien, en julle hemelse Vader daarvoor prys!”

Lewe dan jou lewe soos jy nou gelees het en onthou, dat Jesus vir ons sê:

MAT 24:13 ”Maar elkeen wat enduit volhard, sal gered word.”

Onthou met ander woorde ook net, dat met MAT 24:13 wat jy nou net gelees het ingedagte, dit nie waar is, dat eenmaal gered is altyd gered nie.

Jy en ek het ‘n wil van ons eie.  Ons is nie ons Here se marionette nie.
Die satan gaan sorg, dat dit vir ons so moeilik as moontlik gemaak word om deur die Hemel se poort te stap maar ons het ook hierdie versekering:

1 KOR 10:13 Onthou, die versoekings wat oor julle pad kom, is nie uniek nie; ander ondervind dit ook. God is getrou. Hy sal keer dat die versoeking te sterk vir julle word. Midde-in die versoeking sal Hy vir 'n uitweg sorg sodat julle dit kan verduur.

Hoe absoluut heerlik om dit te weet en dan ook te onthou:

HEB 4:14 Ons het dan nou 'n groot Hoofpriester wat deur die hemele beweeg het, Jesus die Seun van God. Laat ons voortdurend aan ons geloofsbelydenis aangaande hierdie Jesus vashou.
HEB 4:15 Hierdie Hoofpriester van ons kan ten volle met ons in ons swakhede saamvoel, want Hy is in elke opsig op dieselfde manier as ons versoek, maar Hy het nie voor die sonde geswig nie.
HEB 4:16 Kom ons gaan dan met volle vrymoedigheid na die troon van ons genadige God.  Hy sal aan ons sy ontferming en genade bewys sodat ons op die regte tyd gehelp sal word.

Dit maak nie saak wat hier op aarde met ons gebeur nie, as ons, ons oë op Jesus hou, is ons uiteindelik deur ons Here se liefdevolle reddende genade Oorwinnaars.

So, laat ons dan volhard en doen wat ons Here vir ons sê:

OPB 3:11 “Ek kom gou; hou vas wat jy het sodat niemand jou kroon wegneem nie.” 

Groete,
Sakkie