HOE MOET EK MY KIND OPVOED?

HOE MOET EK MY KIND OPVOED?

Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my en vra my of ek nie uit ‘n Christelike oogpunt gesien ‘n bietjie wil praat oor ouers se opvoeding van en optrede teenoor hulle kinders in hierdie tye wat ons leef nie.

Ek wil dan begin deur te sê:
Persoonlik is ek van mening dat die opvoeding van ‘n kind, waar die begin en die einde van daardie opvoeding nie op ons Here se Woord gebaseer is nie, geen goeie opvoeding is nie en as ‘n opvoeding nie ‘n goeie opvoeding is nie, is dit ‘n slegte opvoeding.
Ek begin dan om oor, volgens die Woord, van die hoof van die huis te praat, naamlik die Pa.
In die Christelike wyse van opvoeding, werk dit so:

SPR 22:6 Leer ’n jongmens om die regte pad te kies en wanneer hy eendag oud is, sal hy nie daarvan afwyk nie.

Die Pa, wat ook die hoof van die huis is, moet natuurlik sy kind leiding gee, soos wat Jesus dit sou gedoen het.
Met ander Woorde ook in die opvoeding van my kind moet ek soos in alle ander dinge, myself altyd hierdie vraag vra:
Wat sou Jesus nou gedoen het en dan mooi in my hart na die Heilige Gees in my luister.
Omdat dinge soms maklik in ‘n verkeerde rigting kan beweeg, lees ons ook in die Woord:

EFE 6:4. En julle, pa’s, moenie julle kinders so behandel dat hulle verbitterd word nie, maar voed hulle op met dissipline en teregwysing wat die Here se goedkeuring wegdra.
Sien jy waarmee hierdie instruksie eindig?

EFE 6:4  … maar voed hulle op met dissipline en teregwysing wat die Here se goedkeuring wegdra.

Anders gestel:

EFE 6:4  … maar voed hulle op met dissipline en teregwysing (soos Jesus dit sou gedoen het) wat die Here se goedkeuring wegdra.

Volgens my persoonlike sienswyse is die 4 vernaamste beginsels wat in ‘n Pa se lewe gevind moet word die volgende:

• ‘n Ware liefdesverhouding met ons Here,.
• ‘n Ware liefdesverhouding met die vrou met wie hy getroud is.
• ‘n Goeie kennis van en ‘n gereelde bestudering van die Woord.
• Dan moet hy vir sy kinders ook ‘n rolmodel wees van wat dit beteken om ‘n volgeling van Jesus te wees.

Nou wil ek ook graag met jou die een en ander oor ‘n Ma in die huisgesin deel.
Dit is vir my persoonlik baie insiggewend, dat alhoewel die Pa die hoof van die huisgesin is, is die Ma van die kinders in die huisgesin vir ons Here van só ‘n kardinale belang en is haar rol in die opvoeding van die kinders vir ons Here so ‘n belangrike deel, dat Hy dit so in die skepping van Sy hoogste skepping, naamlik die mens,  vasgestel het, dat die Ma die heel eerste fisiese kontak met die kind het en ook by verre die intiemste kontak met die kind na sy/haar geboorte heel aan die begin van die kind se lewe het.
Want sien –
Vir ons Here se hoogste skepping wil Hy hê, dat daar die absolute presiese fondament reg aan die begin gelê word en die Ma van die kind is die persoon vir wie Hy vertrou om dit te bewerkstellig.
Daarvandaan en verder, is dit nie net meer die Pa of net die Ma wat die opvoeding van die kind behartig nie, maar die ouers.
Vir die Ma geld dit dan ook net soos vir die Pa, dat die volgende 4 beginsels in haar lewe verseker gevind sal word naamlik:

• ‘n Ware liefdesverhouding met ons Here,.
• ‘n Ware liefdesverhouding met die man met wie sy getroud is.
• ‘n Goeie kennis van en ‘n gereelde bestudering van die Woord.
• Dan moet sy vir haar kinders ook ‘n rolmodel wees van wat dit beteken om ‘n volgeling van Jesus te wees.

Met hierdie 4 beginsels in plek in ouers se lewe, is ‘n goeie opvoeding van hulle kinders onvermydelik.
Laat ons as ouers ook nooit die volgende feit uit die oog verloor nie:

PSM 127:3 Kinders is ’n gawe van die Here;
die vrug van die moederskoot

Ek wil dit weer benadruk, dat die beste wyse om as ouer jou kind op te voed is, deur die voorbeeld wat jy deur jou lewe stel.
Want dan en dan alleen het dít wat jy aan jou kind wil oordra wérklik krag en waarde.

Ek sluit dan hierdie skrywe aan jou af met die volgende uit ons Here se woord:
Onthou jy wat ek gewys het?

EFE 6:4  … maar voed hulle op met dissipline en teregwysing (soos Jesus dit sou gedoen het) wat die Here se goedkeuring wegdra.

Ons lees:

EFE 5:1 Omdat julle God se kinders is wat Hy liefhet, moet julle sy voorbeeld volg.
EFE 5:2 Ja, leef ‘n lewe van liefde.  Christus het julle mos ook so liefgehad deur sy lewe vir julle op te offer.  Dit was ‘n lieflike reukoffer vir God.

1PET 3:8 ‘n Laaste word hieroor:  Wees almal eensgesind, simpatiek, lief vir mekaar, goedhartig en nederig.

Groete,
Sakkie