HOE PAS ‘N CHRISTEN DIE OU TESTAMENT IN SY/HAAR LEWE TOE? DEEL 1

HOE PAS ‘N CHRISTEN DIE OU TESTAMENT IN SY/HAAR LEWE TOE? DEEL 1

Die verskil hoe ons HERE in die Nuwe Testament met Sy kinders handel en hoe Hy met Israel in die Ou Testament gehandel het

Sakkie Parsons

Iemand het die vraag aan my gestel, naamlik watter maatstawe ‘n mens kan gebruik om te weet wat in die Ou Testament mag ‘n Christen op hom of haar van toepassing maak. 

Ek het in my antwoord geskryf dat eerstens is die onbetwisbare feit dit:
Daar is twee Testamente.  ‘n Ou Testament en ‘n Nuwe Testament en wat ek ookal uit die Ou Testament op ‘n Christen van toepassing wil maak, moet 100% deur die Nuwe Testament onderskryf word.  Dit mag nie eens amper verskil met wat ek in die Nuwe Testament, wat op die Christen van toepassing is, verskil nie.

Hier volg dan deel 1 van my antwoord aan die persoon hoe ek dit uit ons HERE se Woord verstaan:

Sommige mense weet nie waar om die verskil te sien, waar ons Here met en net met Israel deel en nie ook met die Christene, die erfgename saam met Christus deel nie.

Hulle verwar hoe God met Israel gehandel het en hoe Hy met die Christene handel.

Ons mag nooit, en ongelukkig is dit presies wat mense met die Ou Testament en Israel doen, die wyse wat ons Here met Israel omgegaan het en die wyse hoe Hy met die Christene omgaan – vir wie Sy Seun aan die kruis gaan hang het – die twee meng/ vermeng, of as voorbeelde gebruik van hoe ons Here met ons, Sy mede-erfgename saam met Christus omgaan nie.

Eerstens moet ek onthou, dat ons Here met Israel deur die Mosaïese Wet gedeel het en die eenvoudigste wyse om te verduidelik wat dit behels en hoekom ons Here dit so gedoen het, is om my groot held Paulus te kwoteer:

GAl 3:24-27 
24 Die wet was dus ons tugmeester na Christus toe, sodat ons geregverdig kan word uit die geloof.
25  Maar nou dat die geloof gekom het, is ons nie meer onder ‘n tugmeester nie.
26  Want julle is almal kinders van God deur die geloof in Christus Jesus;
27  want julle almal wat in Christus gedoop is, het julle met Christus beklee.

Vir my ‘n Christen, volgeling van Christus, geld ons Here se Nuwe Testament en soos die Mosaïese Wet in die 10 gebooie ‘n samevatting of dan opsoming van die Mosaïese Wet vir die ou Testamentiese tyd is,  so is Christus se Liefdeswet die samevatting, of dan opsomming vir ons Sy volgelinge.

Ons lees hierdie samevatting, of dan opsomming in byvoorbeeld Matteus 22:37 en verder:

MAT 22:37-40 
37 En Jesus antwoord hom: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand.
38  Dit is die eerste en groot gebod.
39  En die tweede wat hiermee gelykstaan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.
40  Aan hierdie twee gebooie hang die hele wet en die profete.

Daarom kon my groot held Paulus dan ook by geleentheid skryf:

ROM 13:8-10 
8 Wees aan niemand iets skuldig nie, behalwe om mekaar lief te hê; want hy wat ‘n ander liefhet, het die wet vervul.
9  Want dít: Jy mag nie egbreek nie, jy mag nie doodslaan nie, jy mag nie steel nie, jy mag geen valse getuienis gee nie, jy mag nie begeer nie, en watter ander gebod ook al, word in hierdie woord saamgevat: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.
10  Die liefde doen die naaste geen kwaad nie; daarom is die liefde die vervulling van die wet.

Laat ek dan nou deur twee voorbeelde te gebruik vir jou voorbeelde wys hoekom ek baie versigtig moet wees voor ek iets uit die Ou Testament sommer, om dit so te stel, goedsmoeds op mense of op myself van toepassing maak.

Terwyl ek ook terdeë daarvan bewus moet wees, dat as ek iets op myself van toepassing maak uit die Mosaïese Wet, wat nié in Jesus se Nuwe Testament vir Sy volgelinge daar geplaas is nie ek moet onthou:

GAL 5:3  En ek betuig dit weer aan elke mens wat hom laat besny, (of enige ander mosaïese wet wil hou) dat hy onder verpligting is om die hele wet te onderhou.
GAL 5:4  Julle wat geregverdig wil wees deur die wet, is losgemaak van Christus; julle het van die genade verval.

JAK 2:10-12 
10 Want wie die hele wet onderhou, maar in een opsig struikel, het aan almal skuldig geword.
11  Want Hy wat gesê het: Jy mag nie egbreek nie, het ook gesê: Jy mag nie doodslaan nie. As jy nou nie egbreek nie, maar doodslaan, het jy ‘n oortreder van die wet geword.
12  Julle moet so spreek en so doen soos diegene wat deur die wet van vryheid geoordeel sal word.

Soos genoem, gebruik ek elke keer net een voorbeeld uit die Mosaïese Wet en vergelyk dit dan met wat Jesus se Nuwe-Testamentiese Wet vir Sy kinders wys hoe die Liefdeswet werk.

Ek gebruik, duidelik ooglopende voorbeelde, sodat jy duidelik kan sien, dat ek moet bid en dan baie mooi moet kyk, of dít wat ek of iemand anders op myself wil van toepassing maak.

Eers, wat die Ou Testament in die volgende situasie van ‘n vrou sê moet stiptelik tot op die letter gehoorsaam word en dit geld natuurlik ook vir ‘n man – en van die man kan jy self gaan lees in Levitikus 15:2 en verder – maar lees gou hier in verband met ‘n vrou:

LEV 15:19-23 
19 En as ‘n vrou ‘n vloeiing het, en die vloeiing in haar vlees bloed is, dan bly sy sewe dae lank in haar onreinheid; en elkeen wat aan haar raak, sal tot die aand toe onrein wees.
20  En alles waar sy in haar onreinheid op lê, sal onrein wees; en alles waar sy op sit, sal onrein wees.
21  En elkeen wat aan haar bed raak, moet sy klere was en ‘n bad neem en hy bly tot die aand toe onrein.
22  En elkeen wat raak aan enige voorwerp waar sy op sit, moet sy klere was en ‘n bad neem en hy bly tot die aand toe onrein;
23  en as daar iets op die bed is of op die voorwerp waar sy op sit, as hy dit aanraak, sal hy tot die aand toe onrein wees.

Nou kyk ons in verband met hierdie soort omstandighede in ‘n mens se lewe in die Nuwe Testament.
Ons lees:

MARKUS 5:25-31 
25  En ‘n sekere vrou wat twaalf jaar lank bloedvloeiing gehad het
26  en veel onder baie geneeshere gely en al haar besittings uitgegee het sonder om enige baat te vind, maar eerder erger geword het,
27  het van Jesus gehoor en onder die skare van agter gekom en sy kleed aangeraak;
28  want sy het gesê: As ek maar sy klere kan aanraak, sal ek gesond word.
29  En dadelik het die fontein van haar bloed opgedroog, en sy het aan haar liggaam bemerk dat sy van haar kwaal genees was.
30  En dadelik toe Jesus in Homself die krag gewaarword wat van Hom uitgegaan het, draai Hy Hom om onder die skare en sê: Wie het my klere aangeraak?
31  En sy dissipels antwoord Hom: U sien dat die skare U verdring, en U sê: Wie het My aangeraak?

As ‘n mens uit ‘n Ou-Testamentiese Mosaïese Tugmeester-bril na hierdie vrou kyk, sou jy kon sê, dat sy op die minste baie onbedagsaam gewees het.
Sy het geweet sy is volgens die Wet waaronder sy en die mense om haar gebuk gegaan het, onrein – en dat almal wie aan haar raak en aan wie sy raak onrein is, en dan sal sy nog aan Jesus se soom van sy kleed raak! – Maar sy was nie onbedagsaam nie.  Sy was desperaat in haar geloof oor Jesus en Jesus, om dit so te stel, word nie onrein nie.  Nee, maar Goddelike krag in Goddelike liefde gaan van Hom na haar uit.

Jy sien –
Volgens Jesus se Nuwe-Testamentiese Liefdesgebod, is jy nie vir 7 of hoeveel dae ookal onrein as jy na Hom kom nie.
As jy in opregtheid in jou hart na Hom gaan, is jy onmiddellik rein van waaroor jy ook al na Hom gegaan het.

Nou my tweede voorbeeld.
Ons lees en dit kom driemaal in die Ou Testament voor:

EXO 21:23-25 
23 Maar is daar ‘n letsel, dan moet jy gee lewe vir lewe,
24  oog vir oog, tand vir tand, hand vir hand, voet vir voet,
25  brandplek vir brandplek, wond vir wond, kwesplek vir kwesplek.

Nou kom Jesus in Sy Nuwe Testament met Sy liefdeswet wat Hy vir ons opgestel het en Hy sê:

MAT 5:38-41 
38 Julle het gehoor dat daar gesê is: Oog vir oog en tand vir tand.
39  Maar Ek sê vir julle dat julle ‘n slegte mens nie moet weerstaan nie; maar as iemand jou op jou regterwang slaan, draai ook die ander een na hom toe.
40  En hy wat met jou na die gereg wil gaan en jou onderkleed wil neem, laat hom ook die bo-kleed kry.
41  En elkeen wat van jou een myl afdwing, loop met hom twee myl saam.

Wat Jesus vir ons Sy kinders sê is dit:

As iemand lelik met jou is, moet jy aste ware agteroor buig om hom, om dit so te stel, Jesus in jou te laat sien.
Jy sien dit baie duidelik in die laaste gedeelte wat ek nou aan jou kwoteer het.
Daar was destyds ‘n Wet.
As ‘n Romeinse soldaat byvoorbeeld van voor af op die pad jou teë kom, kon hy jou vra om saam met hom te stap en moes jy soos dit hier vertaal word, ‘n myl saam met hom op jou pad terug stap en die pak of wat ook al vir hom dra.

Nou sê Jesus, dat as jy die gedwonge myl saam met hom terug op jou pad gestap het, en hy wil sy pak terug neem om verder te stap, moet jy sê:
“Nee, ek dra dit sommer vir jou nog ‘n myl.”

Om dan af te sluit:
As jy iets in die Ou Testament vind en jy wonder of jy dit op jouself van toepassing moet maak:
Bid eers vir leiding.  Dan gaan kyk jy of jy dit of iets soortgelyk in die Nuwe Testament vind en as jy dit, of iets soortgelyk nie in die Nuwe Testament vind nie, dan los jy dit en gaan aan met jou lewe.  Met jou oë in die gees op Jesus, terwyl jy onthou:

GAL 6:2  Dra mekaar se laste en vervul so die wet van Christus.

Hoe lees die wet van Christus?

MAT 22:36-40 
36  Meester, wat is die groot gebod in die wet?
37  En Jesus antwoord hom: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand.
38  Dit is die eerste en groot gebod.
39  En die tweede wat hiermee gelykstaan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.
40  Aan hierdie twee gebooie hang die hele wet en die profete.

Dan kom Jesus en onderstreep wat jy nou gelees het, as Sy Heilige Gees Paulus laat skryf:

ROM 13:9  Want dít: Jy mag nie egbreek nie, jy mag nie doodslaan nie, jy mag nie steel nie, jy mag geen valse getuienis gee nie, jy mag nie begeer nie, en watter ander gebod ook al, word in hierdie woord saamgevat: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.

Deel 2 volg net hierna.

Groete,
Sakkie