HOE PAS ‘N CHRISTEN DIE OU TESTAMENT IN SY/HAAR LEWE TOE? DEEL 2

HOE PAS ‘N CHRISTEN DIE OU TESTAMENT IN SY/HAAR LEWE TOE? DEEL 2

Die verskil hoe ons HERE in die Nuwe Testament met Sy kinders handel en hoe Hy met Israel in die Ou Testament gehandel het

Sakkie Parsons

Iemand het aan my geskryf en gevra, watter maatstawe ‘n mens kan gebruik om te weet wat in die Ou Testament mag ‘n Christen op hom of haar van toepassing maak.

Hier is dan die opvolg van my vorige skrywe, deel 1, hoe ek dit uit die Woord verstaan.

Eerstens is die onbetwisbare feit dit:
Daar is twee Testamente.  ‘n Ou Testament en ‘n Nuwe Testament.
Nou weet ons dat maak nie saak hoeveel testamente ‘n mens opgestel het nie.  Die laaste getekende testament is die een waarvolgens daar gewerk gaan word.
Nou lees ons ook in die Nuwe Testament wat hierdie onbetwisbare waarheid aanbetref, die volgende:

HEB 8:13  As Hy sê ‘n nuwe verbond, het Hy die eerste oud gemaak; en wat oud word en verouder, is naby die verdwyning.

In die NLV lees hierdie gedeelte as volg:

HEB 8:13 Deur van ’n nuwe verbond te praat het God die vorige een as uitgedien verklaar. En wat uitgedien is en steeds nog verder verouder, staan gereed om heeltemal
afgeskaf te word.

Want jy sien –
In die Ou Testament wat ook die eerste Testament, of dan Verbond is, het God deur mense gepraat maar in die Nuwe Testament, die laaste een voor Jesus gekruisig is en so vir ons sonde gely en gesterf het, het God mens geword en self vir ons in ongeveer 3 jaar vir 11 mense, en nadat Hy opgestaan het ook vir Saul wie later Paulus sou word, alles geleer wat hulle moes skryf:

HEB 1:1  Nadat God baiekeer en op baie maniere in die ou tyd gespreek het tot die vaders deur die profete, het Hy in hierdie laaste dae tot ons gespreek deur die Seun

Jesus bekragtig hierdie Nuwe Testament waarvan Hy die inhoud oor ongeveer 3 jaar aan Sy dissipels en later ook aan Paulus geleer en verduidelik het as volg

MAT 26:26-28 
26 En terwyl hulle eet, neem Jesus die brood, en nadat Hy gedank het, breek Hy dit en gee dit aan sy dissipels en sê: Neem, eet, dit is my liggaam.
27  Toe neem Hy die beker, en nadat Hy gedank het, gee Hy dit aan hulle en sê: Drink almal daaruit.
28  Want dit is my bloed, die bloed van die nuwe testament, (waarmee, om dit so te stel, Jesus Sy nuwe testament bekragtig en aste ware onderteken het) wat vir baie uitgestort word tot vergifnis van sondes.

Nou wil ek, net gou so effe vir ‘n oomblik van rigting verander.
Hoe sal jy voel as jy ‘n testament opgestel en onderteken het en iemand kom en verander byvoorbeeld die bewoording om hulle te pas?
Sodat dit bevoordeel hulle sienswyse pas? Of hulle verkondiging van hulle soort evangelie meer aanvaarbaar maak?
Ek praat nou van die mense wat hierdie uit die Nuwe Testament haal of daardie byvoeg.
Want sê hulle:
“Tye het verander.  Destyds het hulle dinge so gedoen maar ons leef in ander tye en ons doen nou dinge so.”  “So, ons verbeter net die wyse waarvolgens Jesus Christus destyds Sy testament laat opstel het, want tye het verander en die Testament soos wat Hy dit oorspronklik laat opstel het, is nou so effe uitgedien.”

Tog het Jesus in Sy oorspronklike nuwe of dan laaste Testament wat Hy opgestel het juis met die tye waar ons in lewe laat skryf:

2TIM 3:16  Die hele Skrif (verseker wat die nuwe en die laaste testament aanbetref) is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid,
2TIM 3:17  sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus.

Verder lees ons dan in hierdie Nuwe Testament wat Jesus vir ons opgestel het, met almal in gedagte wat die Woord verdraai en hierdie uithaal en daardie insit, die volgende:

2TIM 4:3  want daar sal ‘n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ‘n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede,
2TIM 4:4  en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels.

As Jesus se dissipels skryf wat jy nou gelees het, skryf hulle dit, omdat Jesus dit, sowel as al die ander dinge wat hulle geskryf het, self vir hulle gegee het.
In hierdie geval het Jesus onder andere vir hulle gesê:

MAT 7:15-21 
15 Maar pas op vir die valse profete wat in skaapsklere na julle kom en van binne roofsugtige wolwe is.
16  Aan hulle vrugte sal julle hulle ken. ‘n Mens pluk tog nie druiwe van dorings of vye van distels nie!
17  So dra elke goeie boom goeie vrugte; (deur byvoorbeeld, die Woord te verkondig soos dit daar in Sy nuwe testament vir die christen geskryf is) maar ‘n slegte boom dra slegte vrugte. (onder andere, deur te verkondig, hierdie moet uit die Woord, want dit is nie meer van toepassing nie)
18  ‘n Goeie boom kan geen slegte vrugte dra nie, en ‘n slegte boom ook geen goeie vrugte nie.
19  Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi.
20  So sal julle hulle dan aan hul vrugte ken.
21  Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is.

Ek wil jou met liefde aanraai, om as iemand na jou kom met: “hierdie het verander,” of “daar moet ons eintlik so lees, want tye het verander.  Die eerste dissipels het dinge so gedoen maar ons leef mos in ‘n ander tyd en nou doen ons dinge anders.”
Dat jy as kind van ons Here sal onthou, dat Jesus vir jou, by alles wat jy nou reeds in hierdie skrywe gelees het, ook laat skryf het:

1PET 1:23-25 
23 want julle is wedergebore nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike, deur die lewende woord van God wat tot in ewigheid bly.
24  Want alle vlees is soos gras, en al die heerlikheid van die mens soos ‘n blom van die gras. Die gras verdor en sy blom val af,
25  maar die woord van die Here bly tot in ewigheid. En dit is die woord wat aan julle verkondig is

HEB 13:8  Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid.
HEB 13:9  Moenie rondgeslinger word deur allerhande en vreemde leringe nie; …

Terug by die vraag an my –

Eerstens weet ons, dat Jesus se Nuwe Testament die geldige Testament is.
Ek verstaan ook, dat ‘n mens natuurlik iets uit ‘n vorige testament kan neem en dit deel van jou nuwe testament maak.
Met dit in gedagte, hanteer ek wat ek in die Ou Testament lees, soos wat ek alles so ver moontlik in my eie lewe hanteer.
Ek bid oor dit waarvoor ek ‘n oplossing wil hê.
Dan doen ek van my kant af dit wat ek kan doen en in die vraag wat aan my gevra is se geval, is die eerste wat ek doen, om te weet of iets wat ek in die Ou Testament lees op my van toepassing is die volgende:
Ek gaan kyk of dit waaroor ek wonder in die Nuwe Testament ook vir my as kind van ons Here, op wie die Nuwe Testament van toepassing is, gevind word.
As dit nie in die Nuwe Testament ook gevind kan word nie, of selfs soos in ‘n hele paar gevalle, in die Nuwe Testament weerspreek, of anders gesê, omgekeer word., is dit natuurlik nie op my as Christen, volgeling van Jesus, van toepassing nie
Dan wag  ek, as ek gebid het, op ons Here en ek onthou, dat ons Here my altyd sal antwoord  as ek Hom in opregtheid vra en dat as ek na my mening nie ‘n antwoord kry nie, dit ook ‘n antwoord is, waarin ek verstaan:
Ek weet nie of ons Here wil doen soos ek gevra het nie maar ek weet, Hy wil verseker nie nou doen wat ek gevra het nie en dit is dan vir my genoeg en ek gaan aan met my lewe:

1JHN 5:14  En dit is die vrymoedigheid wat ons teenoor Hom het, dat Hy ons verhoor as ons iets vra volgens sy wil.

Wat ek ookal uit die Ou Testament op ‘n Christen van toepassing wil maak, moet 100% deur die Nuwe Testament onderskryf word.  Dit mag nie eens amper verskil met wat ek in die Nuwe Testament wat op die Christen van toepassing is verskil nie.

As ek in my mensheid nie ‘n antwoord kry waarvan ek hou nie, of dalk volgens my wete nie van ons Here hoor nie, wel dan, vol dankbaarheid in die wete, dat ek met ‘n doel deur ons Here geskep is om te wees waar ek nou is en op my pad hemel toe, na die ewige lewe saam met Hom is, trek ek my skouers in die gees terug, ek voel of die bande van die pak op my rug nog reg sit, skuif reg waar reggeskuif moet word en ek stap met stewige tree voort:

HEB 12:2  die oog gevestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof, wat vir die vreugde wat Hom voorgehou is, die kruis verdra het, die skande verag het en aan die regterkant van die troon van God gaan sit het.

Terwyl ek op maat van my geestelike voetstappe en my eie wysie in my hart die volgende woorde al stappende sing:

ROM 8:28  En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is.

Groete,
Sakkie