HOE TREE EK TEENOOR MY SKEPPER OP IN TYE VAN BENOUDHEID?

HOE TREE EK TEENOOR MY SKEPPER OP IN TYE VAN BENOUDHEID?

Sakkie Parsons

Iemand het my gevra, of ons, ons Here mag vra, dat Hy aste ware moet verduidelik hoekom hy hierdie of daardie met ons of mense om ons of wat ook al laat gebeur.

Ek deel dan nou met jou hoe ek persoonlik dit sien en nog altyd in my eie lewe uitgelewe het:

Ons moet nooit vergeet, dat ons werklik nooit eens amper, in wat ook al, kan dink om God te bevraagteken nie.

Jy kan die hele hoofstuk gaan lees maar ek herinner net weer aan die volgende, want dit is by my ‘n baie groot erns, dat ‘n mens nie eens daaraan moet dink om jou wenkbroue amper vir God Almagtig te lig nie.  Wat nog te sê jou mond oop te maak:

JES 45:9 Ellende wag vir hom
wat sy Skepper verwyt,
’n potskerf tussen potskerwe.
Kan die kleipot vir sy maker sê:
‘Wat maak jy?’
Kan jou handewerk vir jou sê:
‘Hy kan nie sy hande
gebruik nie’?

Hier wil ek net noem; ek praat nie net sommer nie.  Ek weet wat wanhoop is en ek kan getuig dat jy net 100% op ons Here moet vertrou en dit wat jy in jou mensheid kan doen, dan doen – en ook net dit.  Moet nie iets, om dit so te stel, probeer forseer nie, of ryp druk nie.  Met ander woorde, moet nie met God se werk inmeng of daaraan torring terwyl Hy nog daarmee besig is nie.
Doen net wat jy kan, al is dit hoe min, of al lyk dit vir jou hoe nietig en vertrou jou Skepper verder.

Ek skryf wat ek nou skryf in absolute nederigheid maar dit is die werklikheid.
Ek weet dit is nie maklik om te doen wat ek sê nie maar een ding wat iemand nie kan sê as ek dit so stel nie –
Niemand kan sê dat ek nie weet waarvan ek praat nie.  Ek was regtig al ‘n paar keer in my lewe daar en dit het vir my gewerk.  So hoekom sal dit nie vir jou werk nie?

Ons almal is ons Here se skeppings en nie sommer sulke skeppings nie.  Ons is geskep tot Sy verheerliking.
Soos iemand iets mooi skep om hom/haar te plesier.  So het God jou en my geskep om Hom te plesier, bly te maak en waarop Hy trots kan wees.  Ja! Tot Sy verheerliking en nie almal is uit dieselfde stoffasie geskep nie.

Daar is baie meer loutering nodig vir iets wat uit silwer of goud en ook ‘n rowwe diamant geskep moet word, as iets wat uit ‘n stuk pragtige stinkhout of geelhout of so iets geskep moet word maar alles, as dit klaar deur ‘n meester geskep is, is baie, baie waardevol.

Nie een van daardie voorbeelde wat ek genoem het, kan tog vir die meester wat dit geskep het vra, hoekom het jy hierdie of daardie proses met my geneem nie?

Vandag is daar selfs predikers wat sal sê jy het die reg om God, om dit so te stel aan te vat maar dan daar is vandag so baie predikers wat so baie uit die Woord neem of byvoeg, en dan vir jou sê:
”So sê die Here.”

Ek wat maar net ‘n potskerf, nie eens ‘n pot is nie, sal dit nie waag – en mag ons Here my help, dat ek dit soos in die verlede ook so in die toekoms uit sal lewe – maar ek sal nie my Skepper aanvat nie.

As iemand nou wil sê, dat ek maklik kan praat maar ek weet nie waardeur jy gaan nie, is jy reg, dat ek nie weet waardeur jy gaan nie maar glo my ek weet wat wanhoop en erge trauma is.
Ek kan met reg sê ek was daar.
Ek wil nou nie soos my groot Held Paulus wat aste ware gedwing was om te vertel waardeur hy alles in sy lewe gegaan het nie maar ek noem net:
Ek het in ‘n baie kort tyd my sig verloor en dit was skrikwekkend net om te besef, ek gaan nooit weer my kinders se gesiggies sien nie.
Dit was erg, baie erg, toe die dokter vir my genoem het dat ek melanoom kanker het en as hulle dit nie kan keer nie ek 3 en as ek gelukkig is 6 maande het om te lewe.
Dit was wanhopig skrikwekkend om vir sewe jaar daagliks te sien hoe jou vrou met wie jy in ‘n wonderlike huwelik vir meer as dertig jaar getroud was weens dementia al hoe verder wat haar verstand aanbetref in die misnewels van dementia verdwyn.

Ek weet egter ook hoe dit voel om te ervaar hoe ons Here my vashou, dra en vorm tot Sy verheerliking, omdat ek die wil waarmee Hy my geskape het, gebruik het om my oë op hom te hou en te volg soos wat Hy my lei.
Onthou ook en moet nie dat satan eens begin in ‘n ander rigting met jou praat nie:

LUK 21:19  Deur julle volharding moet julle jul lewe in besit kry.

ROM 12:12  verbly julle in die hoop; wees geduldig in die verdrukking; volhard in die gebed.

1TIM 4:16  Let op jouself en op die leer; volhard daarin; want deur dit te doen, sal jy jouself red sowel as die wat jou hoor.

OPG 2:25  Hou maar net vas wat julle het, totdat Ek kom.
OPG 2:26  En aan hom wat oorwin en my werke tot die einde toe bewaar, sal Ek mag oor die nasies gee,

Weet jy as ek terug dink en ek onthou sekere gebeurtenisse in daardie tyd, kry ek sommer weer die gevoel van die benoudheid en angs wat so erg was dat ek amper nie kan glo ek het dit ervaar en oorleef nie.
Dan kan ek maar net weer in my gees uitroep:
O, Die wonderlike liefde so vol van genade en deernis van ons Here!!!
Ek kan dit egter nooit so wonderlik uitdruk soos wat my groot held Paulus dit by geleentheid uitgejubel het nie:

ROM 11:33,36
33  Hoe ongelooflik wonderlik is God nie – hoe ontsaglik ryk en wys en vol kennis is Hy nie! Sy beslissings gaan ons begrip te bowe; sy manier van doen kan ons nie deurvors nie.
36  Hy is die bron van alles. Alles bestaan deur sy krag, en alles is op Hom gerig. Aan Hom behoort die heerlikheid vir altyd en altyd. Amen.

Voordat ekself ons Here, Almagtige God en my Skepper wil bevraagteken, of dan wil aantree, want dit is tog wat ek doen as ek God bevraagteken –
As jy dit afsny tot op die been, soos ek dit altyd graag stel, is wat jy eintlik doen om vir God te sê en ek skryf dit selfs in huiwering:
“Kom ‘n bietjie hier.  Staan hier voor my en verduidelik Jou optrede.”

Ook as ek voorskriftelik wil optree –
Ja, voor ek hierdie verkeerd wil doen, onthou ek – en nou kan ek ander voorbeelde gebruik het maar ek bly maar in die gedeelte wat my groot held Paulus geskryf het, terwyl hy in die tronk gesit en wag het, dat hulle hom moet kom haal om sy kop af te kap:

ROM 11:34  Wie van ons kan regtig verstaan hoe God dink?
Of wie sou as sy raadgewer kon optree?
ROM 11:35  Of wie sou ooit aan Hom ’n guns kon bewys vir wie Hy dit sou moes vergoed?
ROM 11:36  Hy is die bron van alles. Alles bestaan deur sy krag, en alles is op Hom gerig. Aan Hom behoort die heerlikheid vir altyd en altyd. Amen.

Groete,
Sakkie