HOE WONDERLIK IS GOD NIE! WIE KAN SY GROOT GOEDHEID VERSTAAN

HOE WONDERLIK IS GOD NIE! WIE KAN SY GROOT GOEDHEID VERSTAAN

Sakkie Parsons

Ek het nou weer ‘n gedeelte uit die Woord gelees en dit het my weer heerlik herinner, watter wonderlikheid dit gewees het, toe ons Here my uit satan se kloue gegryp en Homself aan my bekend  gemaak het en ek Hom toe kon aanneem as my God, Verlosser en Saligmaker.

Ek kwoteer soms 2 vertalings, sommer omdat ek graag wil hê dat jy twee keer die heerlikheid moet lees, van wat Jesus aan die kruis vir ons vermag het.

KOL 2:13-15 
13 En julle, wat dood was deur die misdade en die onbesnedenheid van julle vlees, het Hy saam met Hom lewend gemaak deurdat Hy julle al die misdade vergeef het,
14  en die skuldbrief teen ons, wat met sy insettinge ons vyandig was, uitgedelg en weggeruim het deur dit aan die kruis vas te nael,
15  nadat Hy die owerhede en magte uitgeklee en hulle in die openbaar tentoongestel en daardeur oor hulle getriomfeer het.

‘n Nuwer Vertaling:
13 Vroeër was julle dood omdat julle behoort aan die nie-Joodse nasies wat sonder die wet van God leef en julle het ’n lewe van sonde gelei. Maar nou het God julle saam met Christus lewendig gemaak en al julle sondes vergewe.
14 Hy het ’n streep getrek deur die rekening van ons skuld, die lys van al die wette wat ons oortree het. Dit het alles teen ons getel, maar God het hierdie rekening tot niet gemaak toe Hy dit teen die kruis vasgespyker het.
15 Hy het vooraf die bose magte van die duiwel ontwapen en in die openbaar gewys watter skandelike neerlaag hulle gely het, want Hy het hulle heeltemal oorwin deur wat Christus gedoen het.

Is dit nie wonderlik nie?
As ek gesondig  het  en ek vra ons Here om my te vergewe, dan omdat Jesus Golgota toe gestap en aan die kruis gaan hang het, maak ons Here daardie oortreding van my tot nuut.  Dan bestaan dit nie meer nie.

JES 1:18  Kom nou en laat ons die saak uitmaak, sê die HERE: al was julle sondes soos skarlaken, dit sal wit word soos sneeu; al was dit rooi soos purper, dit sal word soos wol.

PSM 103:12  So ver as die ooste verwyderd is van die weste, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons.

Dit beteken natuurlik nie dat ek nou maar moedswillig kan sondig, omdat ek daarna net ekskuus kan sê nie.

ROM 6:1-4 
1 Wat sal ons dan sê? Sal ons in die sonde bly, dat die genade meer kan word?
2  Nee, stellig nie! Ons wat die sonde afgesterf het, hoe kan ons nog daarin lewe?
3  Of weet julle nie dat ons almal wat in Christus Jesus gedoop is, in sy dood gedoop is nie?
4  Ons is dus saam met Hom begrawe deur die doop in die dood, sodat net soos Christus uit die dode opgewek is deur die heerlikheid van die Vader, ons ook so in ‘n nuwe lewe kan wandel.

Nou, juis omdat ek weet wat ek weet, het ek ‘n heel ander uitkyk en doel in die lewe.

FIL 3:12-14 
12 Nie dat ek dit al verkry het of al volmaak is nie, maar ek jaag daarna of ek dit ook kan gryp, omdat ek ook deur Christus Jesus gegryp is.
13  Broeders, ek reken nie dat ek dit self gegryp het nie.
14  Maar een ding: ek vergeet die dinge wat agter is en strek my uit na wat voor is, en jaag na die doel om die prys te verkry van die hoë roeping van God in Christus Jesus.

In ‘n nuwer Vertaling lees hierdie gedeelte so:

12 Hierdie doel het ek nog nie bereik nie. Ek is ook nog nie volmaak nie, maar ek gryp met al my mag daarna omdat Jesus Christus my ook gegryp het sodat ek aan Hom kan behoort.
13 Broers, ek sê nie dat ek reeds volmaak is nie. Maar die een ding wat ek wel doen, is om nie weer om te kyk na die dinge wat ek agtergelaat het nie. Soos ’n atleet op die baan, pyl ek op die wenstreep af.
14 Ek haal alles uit om by die eindpunt aan te kom en die prys te wen—die nuwe lewe in die hemel waarvoor God ons geroep het deur alles wat Jesus Christus gedoen het.

ROM 11:33  o Diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele en onnaspeurlik sy weë!

‘n nuwer Vertaling:

ROM 11:33 Hoe wonderlik is God nie! Wie kan sy groot goedheid verstaan, of sy kennis en wysheid? Wie kan God se besluite verduidelik of die dinge verstaan wat God doen?

Groete,
Sakkie