HOE WORD EK MEER EN MEER HEILIG?

HOE WORD EK MEER EN MEER HEILIG?

Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my en ek maak die vraag so effe korter:
Hoe word ek meer en meer heilig?”

Soms antwoord mense ‘n vraag baie ingewikkeld.

Ek probeer – en ek hoop ek kry dit reg, om ‘n vraag so eenvoudig moontlik, met die lig tot my beskikking, te antwoord.

Vir my is die eenvoudigste antwoord as iemand my vra oor hoe om meer heilig te word die volgende:
As ek my werklik bekeer het en Jesus Christus aangeneem het as my Verlosser en Saligmaker,, dan behoort my strewe te wees om al hoe meer volgens Jesus se beginsels te lewe. 
Ek onthou egter dadelik, dat Jesus, God is wat mens geword het:

JHN 1:1-5 
1 In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God.
2  Hy was in die begin by God.
3  Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie.
4  In Hom was lewe, en die lewe was die lig van die mense.
5  En die lig skyn in die duisternis, en die duisternis het dit nie oorweldig nie.

JHN 1:14  En die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon—en ons het sy heerlikheid aanskou, ‘n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom—vol van genade en waarheid.

Ek sal nooit in hierdie lewe so heilig soos Jesus kan lewe nie maar om my te help om meer en meer heilig te lewe onthou ek, dat nou leef Jesus se Heilige Gees in my.
Nou leef ek mos nie  meer nie maar Hy leef in my en nou moet ek Sy heilige gees toelaat om my te help om al hoe meer soos Hy te word.
GAL 2:20  Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het.

Natuurlik gaan ek dit nooit heeltemal reg kry in hierdie lewe nie maar my strewe moet wees om so na daaraan te kom as wat dit menslik moontlik is:

FIL 3:12-14 
12 Nie dat ek dit al verkry het of al volmaak is nie, maar ek jaag daarna of ek dit ook kan gryp, omdat ek ook deur Christus Jesus gegryp is.
13  Broeders, ek reken nie dat ek dit self gegryp het nie.
14  Maar een ding: ek vergeet die dinge wat agter is en strek my uit na wat voor is, en jaag na die doel om die prys te verkry van die hoë roeping van God in Christus Jesus.

Soos ek nou gesê het – Ons kan nie in hierdie lewe as gevolg van ons sondige mensheid presies soos Jesus wees nie maar ons behoort daaraan te werk om so na daaraan te kom as wat dit vir ons menslik moontlik is.

Uiteindelik egter, as ons met hierdie uitkyk en strewe deur ons lewe na die ewige lewe stap, gaan ons, soos Jesus, ook baie siele vir Sy koninkryk wen en gaan ons – en hoe wonderlik, tog eendag soos Hy wees:

1JHN 3:2  Geliefdes, nou is ons kinders van God, en dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie; maar ons weet dat ons, as Hy verskyn, aan Hom gelyk sal wees, omdat ons Hom sal sien soos Hy is.
1JHN 3:3  En elkeen wat hierdie hoop op Hom het, reinig homself soos Hy rein is.

1PET 1:15-19 
15 Maar soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in jul hele lewenswandel heilig word,
16  omdat daar geskrywe is: Wees heilig, want Ek is heilig.
17  En as julle Hom as Vader aanroep wat sonder aanneming van die persoon oordeel volgens elkeen se werk, wandel dan in vrees gedurende die tyd van julle vreemdelingskap;
18  omdat julle weet dat julle nie deur verganklike dinge, silwer of goud, losgekoop is uit julle ydele lewenswandel wat deur die vaders oorgelewer is nie,
19  maar deur die kosbare bloed van Christus, soos van ‘n lam sonder gebrek en vlekkeloos,

Ek weet egter verseker, dat satan gaan probeer om my so onheilig moontlik te laat lewe en in die proses gaan probeer om my geestelik heeltemal te vernietig:

1PET 5:8  Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos ‘n brullende leeu, en soek wie hy kan verslind.
1PET 5:9  Hom moet julle teëstaan, standvastig in die geloof, omdat julle weet dat dieselfde lyding opgelê word aan julle broederskap wat in die wêreld is.

Ek is dus vooruit teen satan gewaarsku en ek weet verseker, dat ek ver, baie ver te kort skiet in hierdie strewe na die heiligheid van Jesus se voorbeeld – maar dit is my missie in hierdie lewe om te kyk hoe na daaraan ek kan kom en ek herinner myself dikwels en nou ook weer ten slotte vir jou, op dít wat ek vroeër kwoteer het naamlik:

FIL 3:13  Broeders, ek reken nie dat ek dit self gegryp het nie.
FIL 3:14  Maar een ding: ek vergeet die dinge wat agter is (wat satan kort-kort wil gebruik om my af te breek) en strek my uit na wat voor is, en jaag na die doel om die prys te verkry van die hoë roeping van God in Christus Jesus.

1PET 5:10  En mag die God van alle genade self, wat ons (dit is ook jy wie hier lees) geroep het tot sy ewige heerlikheid in Christus Jesus, nadat ons ‘n kort tyd gely het, julle (almal Jesus se volgelinge) volmaak, bevestig, versterk en grondves!
1PET 5:11  Aan Hom die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid! Amen.

Groete,
Sakkie