HOEKOM IS EK HIER OP AARDE?

HOEKOM IS EK HIER OP DIE AARDE?

Sakkie Parsons

Ek hoor nou die dag van ‘n vrou wat op TV vertel, hoe moedeloos sy geword het omdat sy nie kon agterkom hoekom sy op hierdie aarde is nie. 

Ek sê vir mense, as hulle my met so iets konfronteer: 

Vir my is dit soos wat ons Here wil dat ons na die lewe moet kyk.  Met ander woorde vir my is die antwoord hoekom ek op hierdie aarde is kinderlik eenvoudig.

Ek is hier eerstens om ons Here te verheerlik.  Deurdat die mense deur my so ‘n ietsie van die liefde en selfs Sy genade, Sy vrede en Sy vreugde kan sien

2KOR 3:18 Ons almal weerspieël die heerlikheid van die Here, want die sluier is van ons gesig af weggeneem.

Ons word al hoe meer verander om soos die Here te lyk, met ‘n heerlikheid wat steeds toeneem namate die Here, dit is die Heilige Gees, dit aan ons gee.

KOL 3:9  … Julle het mos die vorige mens en sy praktyke soos klere uitgetrek

KOL 3:10 en die nuwe mens aangetrek. Hierdie mens kry voortdurend nuwe insig en word só verander en nuut gemaak om al meer soos sy Skepper te lyk.

  • Ja, om ons Here te verheerlik deur my lewe en bestaan is my eerste prioriteit en my tweede  prioriteit  is om die reddende Evangelie van ons Here Jesus Christus te verkondig, soos wat Hy aan ons die voorbeeld gestel het om te doen.

MAT 9:35 Jesus het deur al die dorpe en kleiner plekkies rondbeweeg en die Goeie Nuus van die koninkryk verkondig deur die mense in hulle sinagoges te onderrig en elkeen met ‘n siekte of kwaal gesond te maak.

Ek probeer om in my mensheid so na aan die uitvoering van die volgende instruksie van ons Here te kom as wat dit in my menslike tekortkominge moontlik is.

MAT 10:27 Wat Ek vir julle vertroulik sê, vertel dit vir almal.  En wat in julle ore gefluister word, basuin dit oor die dakke uit. 

Ek glo en verkondig die Evangelie van Jesus, soos wat my groot held Paulus dit by geleentheid gestel het:

2TIM 4:2-4 

2 verkondig die woord; hou aan tydig en ontydig; weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering;

3  want daar sal ‘n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ‘n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede,

4  en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels. 

Natuurlik mag daar baie ander dinge wees wat ek ook graag in my lewe in die wêreld sou wou doen of bereik – maar dit wat ek nou met jou gedeel het, so sien en beleef ek dit in my eie lewe, mag nooit bogenoemde prioriteite oorskadu nie en ek behoort dan ook nooit werklik te wonder hoekom ek op hierdie aarde is nie.

Hoe absoluut heerlik om te weet, dat jy en ek wie ons Christenskap uitlewe, uiteindelik deel aan die vervulling van hierdie profesie van ons God en Verlosser gaan hê:

MAT 24:14 Hierdie Goeie Nuus van God se koningsheerskappy sal eers in die hele wêreld, aan al die nasies, verkondig word voordat die einde kom.

Hoe wonderlik om dan nou te onthou, as jy weer wonder wat jou doel in hierdie lewe is –

Nie almal van ons kan preek nie.

Nie almal van ons kan sing nie.

Nie almal van ons kan in die kerk opstaan in met so baie mense om jou getuig nie en so kan ek aan en aan en aan gaan.

Ons almal het egter die volgende in gemeen:

Ons is deur God geskep.  Ja, na Sy beeld geskep.  Hierdie God  wat niks nutteloos skep nie. Daarom lewe ons en is ons wie ons is.

Ons het ons identiteit in ons HERE

So, volgende keer as jy wonder waarom jy hier op aarde is, raak jy rustig.

Gaan staan sommer voor ‘n spieël as jy wil en sê vir jouself, terwyl jy die twee hoofredes onthou waarvoor jy geskape is:

Ek is deur God na Sy beeld geskep:

JES 14:27  want die HERE van die leërskare het dit besluit— (dat ek lewe) wie sal dit kan verydel? En sy hand is (oor my) uitgestrek—wie sal dit kan afkeer?

GEN 1:26 God sê toe:  “Laat Ons die mens maak volgens ons beeld, ‘n afbeelding van Ons…” 

Dan trek jy jou skouers terug, kyk die wêreld in die oë en leef jou Christen lewe.

Anders gestel:

“Leef jou preek.”

Groete,

Sakkie

E-pos:  bediening@sakkieparsons.co.za

Webtuiste:  www.sakkieparsons.co.za

Sel:                         083 457 6669

Judas 1:24-25 „Aan Hom nou wat magtig is om  julle van struikeling te bewaar en julle sonder gebrek voor Sy heerlikheid te stel met gejuig,  aan die alleenwyse God, ons Verlosser, kom toe heerlikheid en majesteit, krag en mag, nou tot in alle ewigheid!  Amen.”

Indien u hierdie e-pos lees en wel gereëlde e-pos van my wil ontvang, stuur asseblief u volle e-pos adres in die “subject box” na:   bediening@sakkieparsons.co.za

Moet asseblief nie ‘n leë e-pos stuur nie.

Aangesien ek blind is en gebruik maak van ‘n sagteware program waar die rekenaar met my praat, sal ek nie weet of dit ‘n foto of leë e-pos is wat ek ontvang nie.  In albei gevalle sal my rekenaar net stil bly.

Sommige Gedagtes uit die Woord is ook in Engels beskikbaar.

Indien jy dit met een van jou Engelse vriende wil deel, kan jy my net vra en ek stuur dit aan jou.

Ek sal ook, as jy my vra, vir jou ‘n lys stuur van al die Afrikaanse gedagtes uit die Woord wat tot op datum vertaal is.  Waar jy dan self kan besluit watter gedagte uit die woord om met jou Engelse vriende te deel, jy van my wil bestel en dit is natuurlik alles gratis.