HOEKOM VERWYS JESUS NA HOMSELF AS DIE SEUN VAN DIE MENS?

HOEKOM VERWYS JESUS NA HOMSELF AS DIE SEUN VAN DIE MENS?

Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my en wil graag weet hoekom Jesus na Homself verwys as “die Seun van die mens.

Om mee te begin, deel ek graag met jou die volgende statistiek:

In die Bybel wat ek die meeste lees kom die woorde: “Seun van die mens” in die Nuwe Testament 86 keer voor.

Jesus het feitlik deurgaans na Homself verwys as “die Seun van die mens” en om dit te verstaan moet ons na die Ou Testament gaan en die profesie oor Jesus “die Seun van die mens” in Daniël gaan lees.  Want hierdie profesie is die een wat na Jesus verwys as “die Seun van die mens” en is lank voor Jesus se koms na die aarde uitgespreek –  Soos so baie ander profesieë honderde jare voor Jesus se koms na die aarde ook geprofeteer was en wat almal in vervulling gegaan het.

Hierdie een het dan ook reeds gedeeltelik in vervulling gegaan.
Kom ons lees dan nou die profesie in Daniël 7.
Jy kan self die vooraf gebeure gaan lees van af Daniël 7:1, maar ek deel met jou dit wat nou in hierdie skrywe ter sprake is:

DAN 7:13  Ek het gesien in die naggesigte, en kyk, met die wolke van die hemel het Een gekom soos die Seun van ‘n mens, en Hy het gekom tot by die Oue van dae, en hulle het Hom nader gebring voor Hom.
DAN 7:14  En aan Hom is gegee heerskappy en eer en koningskap; en al die volke en nasies en tale het Hom vereer; sy heerskappy is ‘n ewige heerskappy wat nie sal vergaan nie, en sy koninkryk een wat nie vernietig sal word nie.

Jesus wys dan ook telkens na Homself terug in hierdie profesie.  So onthou Daniël 7 13-14 as jy die volgende lees:

MAT 26:63  Maar Jesus het stilgebly. En die hoëpriester antwoord en sê vir Hom: Ek besweer U by die lewende God dat U vir ons sê of U die Christus, die Seun van God, is?

MAT 26:64  Jesus antwoord hom: U het dit gesê. (dat Ek Jesus, die Seun van God is) Maar Ek sê vir u almal: Van nou af sal u die Seun van die mens sien sit aan die regterhand van die krag van God en kom op die wolke van die hemel.

MAT 24:29  En dadelik ná die verdrukking van daardie dae sal die son verduister word, en die maan sal sy glans nie gee nie, en die sterre sal van die hemel val, en die kragte van die hemele sal geskud word.

MAT 24:30  En dan sal die teken van die Seun van die mens in die hemel verskyn, en dan sal al die stamme van die aarde rou bedryf en die Seun van die mens sien kom op die wolke van die hemel met groot krag en heerlikheid.

Jesus, die Seun van die mens, het ook vooruit baie duidelik vir ons gesê; dat die dag as Hy kom, in vervulling van byvoorbeeld Daniël 7:13-14, dit ‘n magtige grootse groot gebeurtenis sal wees en elke lewende mens op hierdie aarde sal dit weet:

LUK 17:24  Want soos die weerlig wat van die een kant onder die hemel blits en tot by die ander kant onder die hemel skyn, so sal die Seun van die mens ook in sy dag wees.
LUK 17:25  Maar eers moet Hy baie ly en deur hierdie geslag verwerp word.

Het jy opgelet wat ons nounet ook gelees het?

LUK 17:25  Maar eers moet Hy baie ly en deur hierdie geslag verwerp word.

Ons moet baie deeglik kennis neem van alles wat Jesus gesê het in die ongeveer 3 jaar wat Hy Sy evangelie van liefdevolle genade en redding tot stand gebring het.

Hy, dit is Jesus, het voorspel dat Hy eers moes ly en Hy het:

JHN 19:16-18 
16 Toe het hy Hom dan aan hulle oorgegee om gekruisig te word. En hulle het Jesus geneem en Hom weggelei.
17  En Hy het sy kruis gedra en uitgegaan na die sogenaamde Hoofskedelplek, in Hebreeus Gólgota,
18  waar hulle Hom gekruisig het en saam met Hom twee ander, een aan elke kant, en Jesus in die middel.

Hy, dit is Jesus,  het gesê Hy sal na 3 dae uit die dood opstaan en hy het:

MRK 16:5  En toe hulle in die graf ingegaan het, sien hulle ‘n jongman, met ‘n lang wit kleed om, aan die regterkant sit, en hulle het baie geskrik.
MRK 16:6  En hy sê vir hulle: Moenie verskrik wees nie. Julle soek Jesus die Nasaréner wat gekruisig  is. Hy het opgestaan. Hy is nie hier nie. Dáár is die plek waar hulle Hom neergelê het.

Hy, dit is Jesus,  het gesê, Hy sal weer na die hemel opvaar en Hy het:

HAN 1:9  En nadat Hy dit gesê het, is Hy opgeneem terwyl hulle dit sien; en ‘n wolk het Hom voor hulle oë weggeneem.

Hierdie Jesus, wie GOD is wat mens geword het, en onder ons kom woon het:

JHN 1:1-5 
1 In die begin was die Woord, (dit is Jesus) en die Woord (dit is Jesus) was by God, en die Woord (dit is Jesus) was God.
2  Hy (dit is Jesus) was in die begin by God.
3  Alle dinge het deur Hom (dit is Jesus) ontstaan, en sonder Hom (dit is Jesus) het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie.
4  In Hom (dit is Jesus) was lewe, en die lewe was die lig van die mense.
5  En die lig (dit is Jesus) skyn in die duisternis, en die duisternis het dit nie oorweldig nie.

JHN 1:14  En die Woord (dit is Jesus) het vlees geword en het onder ons gewoon—en ons het sy heerlikheid aanskou, ‘n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom—vol van genade en waarheid.

Hierdie Jesus, ons Verlosser en Saligmaker, het ook gesê:

MRK 16:15  En Hy het vir hulle gesê: Gaan die hele wêreld in en verkondig die evangelie aan die ganse mensdom.
MRK 16:16  Hy wat glo en hom laat doop, sal gered word; maar hy wat nie glo nie, sal veroordeel word.

Niemand wat ooit van Jesus Christus gehoor het, kan ooit neutraal teenoor Hom wees nie.
Ek is of vír Hom, of ek is téén Hom en in hierdie verband sê Jesus, die Seun van die mens, self vir ons:

MAT 12:30  Hy wat nie met My is nie, is teen My; en hy wat nie saam met My versamel nie, verstrooi.

Jy, wie vandag hier lees, is óf ‘n volgeling van Jesus, óf jy weet van Hom en as jy nie van Hom geweet het nie, wel, prys die naam van die Here – Nou weet jy van Hom.

As jy ‘n volgeling van Hom is, is jy vír Hom.
As jy net van Hom weet, is jy nie neutraal nie.  Soos jy nou net gelees het, sê Jesus, dat selfs as jy neutraal teenoor Hom staan, is jy téén Hom.

Hoe weet jy, dat jy vir Hom is?

JHN 1:12  Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo;
JHN 1:13  wat nie uit die bloed of uit die wil van die vlees of uit die wil van ‘n man nie, maar uit God gebore is.

As jy hier lees en jy weet van Jesus, of wie Jesus is – maar jy het nog nie jou hart vir Hom oopgemaak nie – wel dan doen Hy nou weer vandag in Sy groot liefdevolle genade by jou wat Hy, Jesus, ook in Sy Woord sê wat Hy doen om mense na hierdie lewe van die ewige verskriklike dood in die hel, wat hulle gaan sterf en tog nie sterf nie, te red:

Daarvoor het Hy aan die kruis op Golgota gaan hang vir jou en my en elke ander mens wie Hom wil aanneem as Verlosser en Saligmaker:

OPG 3:19  Almal wat Ek liefhet, bestraf en tugtig Ek. Wees dan ywerig en bekeer jou.
OPG 3:20  Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe en saam met hom maaltyd hou, (die lewe in die hiernamaals verewig ‘n feestyd maak) en hy met My.

So – Wat moet jy van jou kant af doen om hierdie wonderlike verhouding met Jesus te hê? Sowel asook en sekerheid oor jou ewige toekoms in die hiernamaals?

Ek deel graag met jou, wat vir my die beste eenvoudigste antwoord op hierdie vraag is:

HAN 2:37  Toe hulle dit hoor, (die kortste kragtigste bekeringsboodskap wat ek persoonlik van weet, wat so ‘n groot getal mense tot bekering gelei het) is hulle diep in die hart getref en het vir Petrus en die ander apostels gesê: Wat moet ons doen, broeders?

HAN 2:38  En Petrus sê vir hulle: (eerstens) Bekeer julle, (draai om van die lewe wat jy sonder Jesus gelewe het) en (tweedens) laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus (die Seun van die mens) tot vergewing van sondes, en (prys die naam van die Here) julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang.

HAN 2:39  Want die belofte kom julle toe en julle kinders en almal wat daar ver is, die wat die Here onse God na Hom sal roep. (Soos wat Hy ook deur hierdie skrywe mense na Hom roep)

As dit jou begeerte is om dit te doen, soek jy ‘n Christelike gemeente wat die hele Bybel as die onfeilbare Woord van God aanvaar.
Woon een van hulle dienste by.  Verkieslik sommer die eerste Sondag nadat jy hierdie skrywe gelees het.
Ontmoet die herder van daardie gemeente en maak ‘n afspraak met hom vir verdere leiding.
Hy sal, soos die gewoonte gewoonlik is, jou by jou woning besoek.
Ek moet net hier noem, dat dit volgens my ondervinding, gewoonlik baie makliker vir ‘n persoon is om die herder van ‘n gemeente by ‘n charismatiese/Pinkster denominasie te ontmoet, omdat die gewoonte gewoonlik onder die charismatiese/Pinkster denominasies is,
dat die Herder na ‘n diens by die hoof ingang die mense groet soos wat hulle uitstap.
As jy sukkel om so ‘n gemeente in jou omgewing te kry, skryf aan my en ek probeer help.

Groete,
Sakkie