HOU GOEIE MOED, EK HET DIE WÊRELD OORWIN

HOU GOEIE MOED, EK HET DIE WÊRELD OORWIN.

Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my en deel met my drie groot tragedies wat binne twee weke met haar gebeur het en soos hulle in Engels sê:  ‘To top it all’ – wil mense sommer terstond duiwels ook nog uit haar huis dryf, die huis wat ons Here haar, Sy kind gegee het om in te woon.  “Want sien”, sê hulle, “dit is nou drie tragedies in ‘n ry”.
Nee, ek weet ook nie hoekom dit nou konsuis duiwels moet wees omdat dit drie ongelukke in ‘n ry is nie.

Ek deel dit wat ek vir haar gestuur het met jou want miskien weet jy van iemand wat hierby kan baat.

Ek het vroeër aan jou geskryf en onder andere gesê, dat ek dink ons Here dink die wêreld van jou en toe bygevoeg:
“Dit is die soort ding wat ‘n onvolwasse kind van ons Here nie sou kon hanteer nie.“

Een van die bewyse van jou geestelike volwassenheid vir my is dat jy dadelik deur die dwase hulp wat ander mense jou aangebied het, gesien het.  In hierdie verband stuur ek net hierna vir jou die een en ander wat ek oor daardie onderwerp geskryf het.

Vir nou wil ek met jou die volgende deel en ek weet daar is mense wat met my hieroor verskil maar ek deel dit met jou en ek weet ons Here sal in jou hart vir jou laat verstaan hoe Hy wil dat jy dit moet verstaan.

Gevalle soos die van jou en byvoorbeeld van my, toe ek in 1997 met melanoom kanker gediagnoseer was  en die dokter vir my en my vrou op my vraag, van wat my kanse is, gesê het dat as hulle dit nie kan keer nie, ek drie en as ek gelukkig is, ses maande het om te lewe, laat my aan Job dink. Ek deel dit gou met jou.
Lees net eers hier:

JOB 1:6  Eendag het die hemelwesens voor die HERE kom staan.  Die aanklaer was tussen hulle.
JOB 1:7  “Waar was jy heeltyd?” vra die HERE.  Die aanklaer antwoord die HERE:  “Ek het heen en weer oor die aarde gereis en gekyk wat daar aangaan.”

Ons hou mos daarvan om met ons kinders te spog en jy is mos ‘n kind van ons Here.
Nou lees ons en van waar ek staan en kyk, is dit vir my niks anders as spog met Job nie.

JOB 1:8  Die HERE vra toe vir die aanklaer:  “Het jy vir Job opgemerk?  Hy dien My.  Daar is nie nog iemand soos hy nie.  Hy lewe onberispelik.  Hy is ‘n mens met integriteit.  Hy aanbid My en vermy die kwaad.”

Nou moet ons ook onthou dat ons Here alwetend is en Hy het van meet af geweet waarheen hierdie gesprek met satan gaan lei maar, so glo ek, Hy wou vir satan wys hoe magteloos satan teenoor die wáre kind van ons Here staan.
Sny dit oop tot op die been en ons Here wou met een van Sy kinders “brag” en satan, om dit so te stel, omdat sy geaardheid is wat dit is, speel reg in die hand van ons Here.

JOB 1:9-11 
9 Die aanklaer sê toe vir die HERE:  “Ja, dit is so.  Job dien die Here.  Maar hy het goeie rede om dit te doen!
10  U het hom nog altyd net beskerm.  En U het hom voorspoedig gemaak in alles wat hy aanpak.  Kyk net hoe ryk is hy!
11  Maar vat nou alles wat hy het.  Hy sal U verseker in u gesig vloek!”

Nou – toe satan presies is waar ons Here hom wou hê – sê ons Here vir hom:

JOB 1:12  “Goed, jy mag hom toets,” sê die HERE vir die aanklaer.  “Doen net wat jy wil met alles wat hy besit.  Jy mag hom net nie fisies skade aandoen nie.”  Die aanklaer is toe weg van die HERE af.

Met ander woorde as ek so tussen die lyne lees:
Toe, gaan maak nou ‘n “ fool“ van jouself en die res, soos hulle sê, is geskiedenis –

Op die ou end, het Job niks, letterlik níks. Later nie eens gesondheid of die ondersteuning van sy vrou nie en wat lees ons van Job?

JOB 1:20-22 
20 Job het toe opgestaan.  Hy het sy klere stukkend geskeur.  Hy het ook sy hare afgeskeer.  Daarna het hy op die grond voor God geval.
21  Hy het gesê:  “Naak het ek uit my ma se skoot gekom, en naak sal ek weer van alles gestroop wees die dag wanneer ek doodgaan.  Die HERE het my alles gegee wat ek gehad het, en nou het Hy dit alles weggeneem.  Prys die Naam van die Here!”
22  In alles wat gebeur het, het Job nie verkeerd gedoen deur God te blameer nie.

Hoe absoluut heerlik om in die Woord van ons Here se kinders se omstandighede
hier op aarde op ons pad Hemel toe die volgende te lees:

JAK 1:2  My liewe broers en susters, wanneer julle in allerhande beproewings beland, moet julle eintlik baie bly wees.
JAK 1:3  Julle weet mos:  Wanneer ‘n mens se geloof ‘n toets deurstaan, veroorsaak dit dat jy kan volhard. 
JAK 1:4  Julle moet egter enduit volhard.  Dan sal julle julle lewensdoel bereik en geestelik gesond wees.  Julle sal niks kortkom nie.

Ons weet dat dit uiteindelik presies was wat met Job gebeur het, want ons lees in die
laaste hoofstuk van die boek Job.

JOB 42:12  Die HERE het die laaste deel van Job se lewe meer geseën as die eerste.  …

Ek dink so aan dit wat met jou gebeur en wat jy met my gedeel het, terwyl ek ook my eie omstandighede in gedagte hou en ek jubel dit uit:

ROM 8:28  En ons weet dat God alles ten goede laat saamwerk vir hulle wat Hom liefhet, hulle wat geroep is volgens sy doel vir hulle lewe.

Is dit dan nie ons Here en Verlosser self wat gesê en dit vir ons laat skryf het nie –

JHN 16:33  “Ek sê hierdie dinge vir julle sodat julle in My rus en vrede kan vind.  In die wêreld sal julle swaarkry beleef, maar skep moed:  Ek het die wêreld oorwin.”
                 

Groete
Sakkie