HOU STYF VAS AAN JOU GELOOF

HOU STYF VAS AAN JOU GELOOF

Sakkie Parsons

‘n Uittreksel van ‘n interessante stukkie geskiedenis wat ek gehoor het lui as volg:

Hulle vertel, dit was natuurlik in die dae toe die Romeine die wêreld regeer het:

‘n Generaal en sy manne was besig om ‘n sekere streek in te trek en te oorwin en by hom het hy ‘n kaart gehad van waarheen hy moes gaan maar die aarde was mos nog grootliks nie gekarteer nie .
Op ‘n kol kom hy toe op die plek waar die kaart ophou.
Hy stuur toe ‘n boodskapper na Rome met die volgende boodskap:
“Ons mars nou van die kaart af.  Stuur asseblief nuwe instruksies.”

So dikwels kom ek en jy in ons lewe op ‘n plek waar ons van die bekende kaart wat ons ken afbeweeg het op die pad na ons ewige bestemming.
Ons is nou op onbekende terrein en ons voel soms ons weet nie herwaarts of derwaarts nie maar hoe geseënd is ons teenoor die ongelowige wêreld om ons!
Van hulle, die ongelowige wêreld om ons, lees ons:

JOH 10:25-26  Jesus het hulle geantwoord: “Ek het dit vir julle gesê, maar julle glo My nie. My optrede is in die Naam van my Vader; hierdie dinge bevestig wie Ek is.
Maar julle glo nie omdat julle nie van my skape is nie.

Hoe absoluut heerlik!!!
Ons hoef nie herwaarts of derwaarts te weet nie.  Ons aanvoerder stap voor en Hy weet presies hoekom, waarom en waarheen!

JOH 10:27  My skape luister na my stem; Ek ken hulle en hulle volg My.
JOH 10:28  Ek sal ook die ewige lewe aan hulle gee, en hulle sal so nimmer as te nooit verlore gaan nie. Niemand sal hulle uit my hand steel nie.
JOH 10:29  My Vader, wat hulle aan My gegee het, is magtiger as almal, en niemand kan hulle uit die hand van die Vader steel nie.

Hoe Heerlik, heerlik, heerlik!
Ek bly net naby my Aanvoerder en hou my oë vasgenael op Hom.

HEB 12:2  ons oë vasgenael op Jesus, die Voorganger en Voleinder van ons geloofswedloop. Hy het ter wille van die blydskap wat daar voor vir Hom gewag het, die kruis verduur. Ja, Hy het Hom selfs deur die skande van die kruisdood nie laat afskrik nie. En nou sit Hy op die ereplek langs God op die troon!
HEB 12:3  Dink aan Hom wat soveel vyandigheid van sondaarmense deurstaan het. Dan sal julle nie uitsak en tou opgooi nie.
Onthou: swaarkry is deel van God se opvoedingsprogram

Ek weet ook baie goed, dat as ek dit nie doen nie en my deur ander dinge laat lei, ek in wesenlike gevaar staan om verlore te raak:
Daarom herinner ek myself gedurig en wil ek jou aanmoedig om dieselfde te doen:

1TIM 1:19  Hou styf vas aan jou geloof, en hou altyd jou gewete skoon. Want sommige mense het opsetlik hulle gewete eenkant gestoot en as gevolg daarvan het hulle geloof skipbreuk gely.

Groete,
Sakkie