HOU VAS WAT JY HET SODAT NIEMAND JOU KROON KAN NEEM NIE!

HOU VAS WAT JY HET, SODAT NIEMAND JOU KROON KAN NEEM NIE!

Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my en die persoon is bekommerd oor dinge wat in die kerk gebeur en dinge wat in die kerk nié gebeur nie.

Ek het al oor van die dinge geskryf waaroor mense in die kerk wonder maar ek deel graag weer met jou oor die kerk van Christus – maar so effe uit ‘n ander hoek.

Eerstens moet ek verstaan en begrip daarvoor hê, dat die kerk uit mense bestaan en dat daar ‘n satan, die god van die bose is.
As ek terug dink aan die kerk se bestaan, onthou ek, dat die kerk met 2 mense begin het:

MAT 4:17-20 
17  Van toe af het Jesus begin om te preek en te sê: Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom.
18  En terwyl Jesus langs die see van Galiléa loop, sien Hy twee broers, Simon wat genoem word Petrus, en Andréas, sy broer, besig om ‘n net in die see uit te gooi; want hulle was vissers.
19  En Hy sê vir hulle: Kom agter My aan, en Ek sal julle vissers van mense maak.
20  En hulle het dadelik die nette laat staan en Hom gevolg.

Toe groei die kerk van Christus en later was daar 12:

MAT 10:1  En Hy het sy twaalf dissipels na Hom geroep en aan hulle mag gegee oor onreine geeste, om hulle uit te dryf en om elke siekte en elke kwaal te genees.
MAT 10:2  En dit is die name van die twaalf apostels: …

Later groei die kerk van Jesus Christus so, dat Jesus 70 van Sy dissipels twee-twee kon uitstuur:

LUK 10:1  En ná hierdie dinge het die Here weer sewentig ander aangestel, en hulle twee-twee voor Hom uit gestuur na elke stad en plek waar Hy sou kom.

Toe gaan dit te wonderlik met die Kerk van Christus want:

MAT 11:2-6 
2  En Johannes het in die gevangenis gehoor van die werke van Christus, en twee van sy dissipels gestuur
3  en vir Hom gesê: Is U die Een wat sou kom, of moet ons ‘n ander een verwag?
4  En Jesus het geantwoord en vir hulle gesê: Gaan vertel aan Johannes wat julle hoor en sien:
5  blindes sien weer en kreupeles loop, melaatses word gereinig en dowes hoor, dooies word opgewek en aan armes word die evangelie verkondig.
6  En salig is elkeen wat aan My nie aanstoot neem nie.

Toe egter plaas satan die kerk van Christus onder groot druk.
Want hulle sien daar hang hulle Verlosser en Saligmaker aan ‘n kruis en Hy sê:

JHN 19:30  En toe Jesus die asyn geneem het, sê Hy: Dit is volbring! En Hy het sy hoof gebuig en die gees gegee.

Hulle kyk na ‘n lyk aan ‘n kruis en die kerk van Christus, vergeet die ware evangelie van Christus en verkondig deur hulle optrede en lewe ‘n evangelie – maar nie die evangelie van Jesus Christus nie.
Hulle verkondig ‘n evangelie van vreesagtig wees en wegkruip agter geslote deure:

JHN 20:19  En toe dit aand was op daardie eerste dag van die week en die deure waar die dissipels vergader het uit vrees vir die Jode, gesluit was, …

Maar toe kom Jesus en tel Sy kerk, Sy bruid, uit die stof van vrees en bewing op:

JHN 20:19  En toe dit aand was op daardie eerste dag van die week en die deure waar die dissipels vergader het uit vrees vir die Jode, gesluit was, het Jesus gekom en in hul midde gestaan en aan hulle gesê: Vrede vir julle!

Hulle doen toe wat Jesus vir hulle gesê het hulle moet doen – en lees net wat gebeur toe met die kerk van Jesus Christus.  Hulle vermeerder op een dag met 3,000:

HAN 2:37-41 
37  Toe hulle dit hoor, is hulle diep in die hart getref en het vir Petrus en die ander apostels gesê: Wat moet ons doen, broeders?
38  En Petrus sê vir hulle: Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang.
39  Want die belofte kom julle toe en julle kinders en almal wat daar ver is, die wat die Here onse God na Hom sal roep.
40  En met baie ander woorde het hy hulle besweer en vermaan en gesê: Laat julle red uit hierdie verkeerde geslag.
41  Die wat toe sy woord met blydskap aangeneem het, is gedoop; en daar is op dié dag omtrent drie duisend siele toegebring.

Maar weet jy –
Die kerk het toe maar weer – omdat hulle na die mense in die wêreld gekyk het en so ver moontlik aan hulle gelyk wou word maar nog steeds ‘n soort evangelie van Jesus Christus ook wou verkondig – op ‘n plek gekom, waar Jesus ‘n brief aan die sewe gemeentes in Asië skryf en met 5 uit die 7 gemeentes, om dit lig uit te druk, baie ongelukkig was.
Jy kan dit gaan lees daar van af Openbaring 2:1.

Net so is die kerk van Christus, Sy bruid, vandag op ‘n laagtepunt in haar geskiedenis.  Want weer buig ons agteroor en gee ons beginsels en wat die Woord ons leer van hoe Sy kerk moet funksioneer al hoe meer prys om die mens in die wêreld tegemoet te kom, net soos die meeste van die gemeentes destyds in Asië.
Ja, ongelukkig is die kerk, die Bruid van Christus besig om al hoe meer aan die wêreld gelyk te word.  Net soos 5 van die 7 gemeentes destyds in Asië bose verdraaiings van die evangelie van Jesus Christus gemaak en in hulle gemeente ingevoer het.

Net so maak die kerk van Christus vandag weer, want weer herhaal die geskiedenis homself.

Vandag verdraai die kerk van Christus weer die Woord van Jesus Christus, soos wat Hy dit in Sy Nuwe Testament vir Sy kerk laat skryf het, met die volgende bose verdraaiing in die een of ander bewoording of vorm:

“Tye het verander.
Ja, ons weet dit staan daar so geskryf in God se heilige Woord maar tye het verander.
Hulle het dinge destyds so gedoen maar vandag hoef jy nie meer te doen wat daar in God se heilige Woord vir die Christen geskryf staan nie, want tye het verander.
Dit is hoe hulle dit destyds gedoen en hoe Jesus dit vir Sy kerk laat opteken het, maar ons weet gelukkig vandag van beter.”

Daarom gaan daar baie, baie mense wees, waar die volgende gesprek tussen hulle en Jesus gaan plaasvind:

MAT 7:21-23 
21 Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is.
22  Baie sal in daardie dag vir My sê: Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie?
23  En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!

Dit is die groot tragedie – maar weet jy wat is so wonderlik heerlik om te weet?
Jy en ek hoef nie deel van die groot meerderheid te wees nie.
Hoe wonderlik, soos destyds ook met die 7 gemeentes in Asië, sal Jesus Christus Sy kerk, Sy bruid, red uit die kloue van satan en gaan jy en ek deel wees van hierdie heerlike groot waarheid, wat ons in Sy heilige Woord lees:

OPG 7:9  Ná hierdie dinge het ek gesien, en kyk, daar was ‘n groot menigte wat niemand kon tel nie, uit alle nasies en stamme en volke en tale; hulle het gestaan voor die troon en voor die Lam, bekleed met wit klere en met palmtakke in hulle hande;
OPG 7:10  en hulle het met ‘n groot stem geroep en gesê: Heil aan onse God wat op die troon sit, en aan die Lam!

Jy en ek is nou in die minderheid en ja, soms ook die met wie daar gespot word – maar ek onthou, wat ons Here ook vir een van die 2 gemeentes, uit die 7 gemeentes laat skryf het – wat vasgehou het aan dit wat hulle het, wat hulle uit Sy Kosbare evangelie ontvang het en ek sluit hierdie skrywe af en bemoedig jou vandag daarmee:

OPG 3:10  Omdat jy die woord van my lydsaamheid bewaar het, sal Ek jou ook bewaar in die uur van beproewing wat oor die hele wêreld kom om die bewoners van die aarde op die proef te stel.

OPG 3:11  Kyk, Ek kom gou! Hou vas wat jy het, sodat niemand jou kroon kan neem nie.

Groete,
Sakkie
E-pos:  bediening@sakkieparsons.co.za