HULLE SAL DIE WAARHEID VERWERP EN VREEMDE MITES NAVOLG

HULLE SAL DIE WAARHEID VERWERP EN VREEMDE MITES NAVOLG

Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my en wil weet wanneer die Pous die Woord/Bybel begin verander het.

In baie kort voordat ek verder iets oor die Katolieke kerk sê, kan ek net die volgende antwoord:

Sover my kennis strek is dit nie een spesifieke Pous wat die Woord begin verander het soos dit hulle in hulle tyd gepas het nie maar baie Pouse oor baie, baie jare.
Dit het later so erg geword, dat soos vandag, na my persoonlike mening, die Katolieke kerk wat graag onder die vaandel van ‘n Christelike denominasie gaan, nie regtig ‘n Christen denominasie is nie.
Dit gesê, weet ek van mense wat werklik lief is vir Jesus maar ongelukkig is hulle ook geïndoktrineer deur die menigte, na my mening, bose valshede in daardie geloof.
Ek wil nie al die, na my mening, onchristelike – kom ons noem dit maar ‘praktyke’ hier noem en bespreek nie, anders gaan hierdie skrywe oneindig lank wees, so ek volstaan met die volgende:

Volgens my mening, as ‘n mens dit sou moes rangskik is die onchristelikste van almal die vergoddeliking van Jesus se moeder Maria.
Jy sou selfs kan sê, dat sy volgens die Katolieke geloof die vierde persoon in die drie-eenheid genoem kan word.
Byvoorbeeld:
Niemand kom na die Vader behalwe deur Jesus nie:

JOH 14:6  Jesus sê vir hom: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom by die Vader uit behalwe deur My nie.

Een van die Katoliekekerk se Pouse het besluit dat dit reg so is – maar niemand kan na Christus gaan behalwe deur Sy moeder nie.
Terloops, so ver ek weet, word Jesus se moeder Maria ook deur die Katolieke kerk gesien as die koningin van die heelal.

Vervolgens noem ek ook, omdat dit so bekend in die Katolieke kerk is, dat in die Nuwe Testament, in die Nuwe Verbond van ons Here met die mens, is daar nie priesters na wie ons moet gaan om ons sonde te bely en so vryspraak, vergifnis of kwytskelding, in Engels “Absolution“ te kry nie.

Om dan tot hier op te som:
Na my mening is die Katolieke kerk verseker nie wat ek ‘n Christelike geloof sal noem nie.
Vir ongeveer die eerste bykans 300 jaar van die Christendom, was die Christene wreed vervolg maar ons Here wat aan die Kruis gaan hang het, sodat ook jy en ek eendag by Hom in die hemel kan wees, het nie toegelaat dat satan regkry wat hy wou regkry, naamlik om die Christendom uit te roei nie.

Dink net aan die grootse wonder:
Eers word Christene bykans 300 jaar op die wreedste wyses vervolg en vermoor en vandag is daar biljoene van Jesus Christus se volgelinge oor die wêreld versprei.

Ek hou baie van geskiedenis en deel gou met jou die volgende:
Toe, na ongeveer drie eeue van die wreedste vervolging,  waar satan nie die Christendom kon uitroei nie, kom Konstantyn as keiser aan bewind maar dit was in ‘n tyd dat die Roomse ryk begin uitmekaar val het en satan omdat hy is wie hy is, sien ‘n ander opsie en gryp dit.

Dit het so gewerk:
Konstantyn het in die Christendom ‘n godsdiens gesien wat hy kan gebruik om die Roomse ryk weer te verenig maar daar was baie, baie heidense gelowe in die groot Romeinse ryk wat nie sommer net so sou afsien van hulle geloof nie.

Toe het Konstantyn uit verskillende heidense godsdienste, dit wat vir hulle baie belangrik was geneem en met gedienstige kerkleiers dit deel van die Christendom gemaak en so het die verrotting begin.

Dit het, met die mag wat aan die Pous gegee was oor die eeue net erger en erger geword, tot waar Marten Luther sy 95 stellings teen die kerk se deur in Wittenberg vasgespyker het en daar toe deur die hervormers die ware kerk weer teruggekeer het tot die eerste beginsels.

Soos ek genoem het –
In 325 na Christus het Konstantyn die kerk se leiers in Nicea bymekaar gebring en daar het die verrotting begin waarvan ons in die Woord lees en wat nou weer in die meeste denominasies van voor af begin omdat satan, die god van die bose, tot die einde nooit gaan tou opgooi nie.

Daarom lees ons en kyk maar net na al die dinge wat uit die Woord deur groot sogenaamde evangeliste gehaal word en kyk maar net wat deur ander groot sogenaamde evangeliste bygevoeg word:

2TIM 4:3  Want daar kom ’n tyd wanneer mense nie meer na gesonde onderrig sal luister nie. Hulle sal hulle eie begeertes volg en leermeesters soek wat net verkondig wat hulle graag wil hoor.
2TIM 4:4  Hulle sal die waarheid verwerp en vreemde mites navolg.

Ek laat jou dan met die volgende raad wat Paulus aan Timotheus gegee het in verband met mense wat die Woord so verdraai en besoedel:

2TIM:5  Maar jy moet in elke situasie jou teenwoordigheid van gees behou. Moenie bang wees om vir die Here te ly nie. Vervul jou taak as evangelis. (al kan jy net deur die wyse wat jy lewe evangeliseer) Voltooi die bediening wat God jou gegee het.

Groete,
Sakkie