HULLE SAL EEN TROP WEES MET EEN HERDER
Sakkie Parsons
Iemand skryf en vra my, hoe ek MATTHEUS 15:24 verstaan.
Ons Lees:
MAT 15:24 Hy antwoord hulle: “Ek is net gestuur na die afgedwaalde skape van die volk van Israel.”
My eerste uitgangspunt, as ek oor ‘n verklaring van ‘n gedeelte uit die Woord moet besin, is dat in my verstaan van die gedeelte, die Woord nie my verstaan van die gedeelte op ‘n ander plek in die Woord moet weerspreek nie, want ons Here praat nie uit twee monde nie.
Met dít in gedagte is dit dan nou hoe ek hierdie gedeelte verstaan:
Eerstens is dit goed om te onthou hoe ons Here na Israel kyk.
Daar is mense wat nie van die gedagte hou nie maar Israel is vir ons Here ‘n heilige volk.
Ons lees, om maar een voorbeeld te gebruik:
DEU 7:6-8
6 Jy is ‘n volk wat vir die Here jou God afgesonder is. Vir jou het die Here jou God gekies om uit al die volke op die aarde sy eiendomsvolk te wees.
7 “Die Here het jou nie liefgekry en gekies omdat jy groter was as die ander volke nie, jy was die kleinste van almal.
8 Omdat die Here jou liefhet en Hy sy belofte nakom wat Hy met ‘n eed bekragtig het aan jou voorvaders, het Hy jou deur sy groot krag laat wegtrek en jou bevry uit die plek van slawerny, uit die mag van die farao, die koning van Egipte.
Dan moet ons ook nie uit die oog verloor nie, dat Jesus in sy menslike hoedanigheid, ten volle mens gewees het soos jy en ek.
Ons lees byvoorbeeld:
FIL 2:6-9
6 Alhoewel Hy self God was,
het Hy nie vasgeklou aan die Goddelikheid wat Hom toekom nie,
7 maar Hy het dit prysgegee: Hy het ’n slaaf geword
en aan mense gelyk geword.
En toe Hy as mens geleef het,
8 het Hy Homself
nog verder verneder
deur tot die dood toe gehoorsaam te wees,
ja, tot die kruisdood toe!
9 Daarom het God Hom ook
tot die hoogste posisie verhoog
en aan Hom die Naam gegee
wat belangriker is as elke ander naam.
Nog verder lees ons:
HEB 2:16-18
16 Ons weet almal dat Jesus gekom het om die nakomelinge van Abraham te help – nie die engele nie.
17 Daarom moes Hy ten volle soos ons – sy broers en susters – word om as ons ontfermende en betroubare Hoofpriester voor God priesterdiens te
verrig en die sondes van God se volk te versoen.
18 Omdat Hy self versoekings verduur het, kan Hy dié help wat onder versoeking swaarkry.
Ek sien dit dus so:
Jesus het in die begin van Sy bediening hier op aarde al Sy aandag net aan Israel gegee.
Want in Sy mensheid, kon Hy nie op meer as een plek op ‘n slag gewees het nie en ons Here se liefde gaan nooit verby nie en ons Here gaan ook nie terug op sy beloftes nie en jy onthou mos wat ons gelees het:
DEU 7:8 Omdat die Here jou liefhet en Hy sy belofte nakom wat Hy met ‘n eed bekragtig het aan jou voorvaders, …
Daarom sal jy ook in die Woord sien wanneer jy die Woord bestudeer, dat Jesus die grootste deel van Sy bediening hier op aarde aan die Jode toegewy het maar God se Seun het nie net vir die Jode gekom nie. Daarom lees ons:
JOH 3:16 “God het die mensdom (dit is alle mense in alle volke) só liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.
JOH 3:17 God het immers nie die Seun na die mensewêreld toe gestuur om die mense te veroordeel nie, maar sodat die mense (dit is almal wat Hom aanneem as hulle Verlosser en Saligmaker) deur Hom verlos kan word.
Wanneer jy dit onthou, verstaan jy ook sommer JOHANNES 10:16 wanneer jy lees:
JOH 10:16 Ek besit ook nog ander skape wat nie van hierdie kraal is nie. Ek moet hulle ook versorg. Hulle sal na my stem luister en hulle sal een trop wees met een herder.
Die ánder skape waarvan jy hier gelees het, is die nie-Jode soos jy en ek.
Daarom lees ek te heerlik op ‘n ander plek:
ROM 8:29 Want God het hulle reeds vooruit geken, en Hy het hulle aangewys om net soos sy Seun te word. Op hierdie manier sal Christus Jesus die oudste seun wees, omring deur baie broers en susters.
So, jy en ek is mos Jesus se dissipels.
Kom ons help om Sy familie te vergroot, deur uitvoering aan Sy opdrag aan ons te gee naamlik:
MAT 28:19 Gaan dan, maak al die nasies my dissipels,
en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees.
MAT 28:20 Leer hulle om alles te gehoorsaam wat Ek aan julle opgedra het. En weet vir seker: Ek is vir altyd by julle, tot aan die einde van die wêreldgeskiedenis.”
Groete,
Sakkie