HULLE SAL OPTREE ASOF HULLE GODSDIENSTIG IS

HULLE SAL OPTREE ASOF HULLE GODSDIENSTIG IS

Sakkie Parsons

Iemand vra my of ek nie 2TIM 3:5 wil verduidelik soos wat ek dit sien nie.
Wie byvoorbeeld is die mense wat hier van gepraat word?

Ons lees:

2TIM 3:5 Hulle sal optree asof hulle godsdienstig is, maar dit ontken wat aan die Christelike godsdiens sy krag gee. Jy moet wegbly van sulke mense af.

Hier is hoe ek persoonlik hierdie gedeelte verstaan.
Paulus begin sy skrywe in 2TIM 3 as volg:

2TIM 3:1 Jy moet ook dít weet, Timoteus, dat daar gedurende die laaste dae moeilike tye sal kom.

Dan gaan hy voort en noem die mense en hulle soort geaardhede, of dan hulle ingesteldheid wat ons sal teëkom in die laaste dae maar ek wil nou nie oor almal iets sê nie.
Ek wil dan nou net die een en ander sê oor die soort mense en hulle gesindhede wat ons, die kinders van ons Here, volgens 2TIM 3:5 sal teëkom, omdat ek spesifiek daaroor gevra is naamlik:

2TIM 3:5 Hulle sal optree asof hulle godsdienstig is, maar dit ontken wat aan die Christelike godsdiens sy krag gee. Jy moet wegbly van sulke mense af.

Wie is hierdie mense wat “optree asof hulle godsdienstig is”, maar dít ontken wat aan die Christelike godsdiens sy krag gee?”

Soos met so baie ander dinge in hierdie lewe, is daar in sommige gevalle duidelike sigbare voorbeelde van wie hierdie mense is, maar dan is daar weer ánder mense onder hulle, wie nié vir almal so duidelik herkenbaar is nie en van die wat nié vir almal so duidelik herkenbaar is nie, skryf my groot held Paulus byvoorbeeld as volg:

2KOR 11:14 Geen wonder nie!  Satan self gee immers voor dat hy 'n engel van die lig is.
2KOR 11:15 Daarom is dit ook niks besonders dat sy diensknegte hulle voordoen as dienaars van geregtigheid nie. Hulle uiteinde sal wees wat hulle volgens hulle dade verdien.

Ek noem hier enkele soorte mense en hulle, na my mening, bose evangelies wat maklik herken kan word maar glo my daar is baie ander wat ek kon genoem het.

Die wie, volgens my siening, byvoorbeeld duidelik sigbaar is, is natuurlik dié mense wat in die naam van die Christen geloof dinge verkondig wat reg teen die Woord van ons Here ingaan.

Hier is volgens my persoonlike opinie sommige proffesors ens, bo-aan die lys.  Omdat hulle die oorsaak gaan wees dat al hoe meer predikante in die toekoms hulle soort evangelie gaan verkondig, wat insluit: (om net ‘n paar te noem)
Die ontkenning van die maagdelike geboorte van Jesus.
Die ontkenning van die fisiese opstanding van Jesus uit die dood.
Die ontkenning van die Hemelvaart van Jesus.
Daar is nog ‘n klomp dinge wat ek kon noem, wat volgens hulle ‘n mite is.
Dan is daar die mense wat, om maar net een van die booshede in hulle soort evangelie te noem, verkondig dat hulle apostels die Heilige Gees kan uitdeel aan wie húlle wil.  So asof GOD die Heilige Gees die een of ander kommoditeit is – wat jy kan gee en neem soos jy wil – en nie GOD Almagtig Self is nie.

Dan is daar ook die mense wat in hulle soort evangelie verkondig:
“Tye het verander.  Destyds het hulle dinge so gedoen en verkondig, maar ons leef nou in ‘n ander tyd en ons hoef dit nou nie meer so te doen soos wat ons Here dit aan die eerste Apostels gegee het om in Sy Woord te skryf nie.”  So asof GOD nie mooi in die toekoms kon sien hoe die mens deur sy eie boosheid in sy denke gaan verander nie.

Verder is daar ook volgens wat ek in die Woord sien, die mense wat sê dat volgens ons Here se Woord die huwelik nou kan verander en misvorm, soos dit jou persoonlike soort seksuele begeerte of lus kan akkommodeer. 

Nog verder is daar byvoorbeeld die mense wat verkondig dat Jesus nie ook GOD Almagtig is nie maar ‘n god en hier voel ek deur die Gees gelei om ‘n paar voorbeelde te kwoteer wat die Woord oor Jesus se Goddelikheid sê.

Die Woord sê byvoorbeeld oor die goddelikheid van Jesus:

JOH 1:1-5
1 Heel aan die begin het die Woord reeds bestaan.
Die Woord was by God, en die Woord was self God.
2 Hy was reeds in die begin by God.
3 Alles het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding
wat bestaan, ontstaan nie.
4 In Hom was daar lewe, en dié lewe het gedien as die lig
vir die mense.
5 Die lig skyn in die duisternis, ja – die duisternis het dit nie
uitgedoof nie!

Dan lees ons verder van hierdie Woord, naamlik van Jesus, GOD wat mens geword het:

JOH 1:14 En die Woord het mens geword en by ons kom woon. Ons het sy heerlikheid duidelik gesien, 'n heerlikheid soos dié van die enigste Seun van die Vader, vol liefdevolle goedheid en waarheid.

Kyk wat sê die Woord van enige persoon wat byvoorbeeld ontkén dat Jesus die Messias, ons Verlosser en Saligmaker is:

1JOH 2:22 Wie is die groot leuenaar? Dit is die een wat aanhou ontken dat Jesus die Messias is. So 'n persoon is die antichris, wat nie die Vader en die Seun erken nie.

Jy en ek behoort nóóit met hierdie mense se lasterlike soort evangelie verkondiging iets te doen te hê nie.
Hier wil ek as ‘n voorbeeld noem, dat byvoorbeeld die mense wat ek persoonlik nie in my huis sal toelaat om hulle soort evangelie te verkondig nie, is die mense wat gewoonlik so twee-twee aan jou voordeur kom klop en dan ‘n geleentheid soek om ingenooi te word.

Uiteindelik egter, sou ek persoonlik nie met mense se soort evangelie geassosieer wou wees wat énige van bogenoemde of enige iets anders verkondig wat, as jy dit afsny tot op die been,  die Woord, met ander woorde uiteindelik, GOD Self as ‘n leuenaar uitmaak, of Sy Woord verdraai en sê dit wat daar geskryf staan is nie werklik wat ons daar moet lees nie.
So asof ons Here Homself net nie mooi uitgedruk het, soos wat Hy eintlik moes nie.

Daar is mense wat in goeder trou graag met hierdie soort mense wil redeneer maar wat my aanbetref, dit is nie wat die Woord my leer nie en in elk geval is mense wat met hierdie soort lasterlike verdraaiings na jou kom, in die meeste gevalle deeglik voorberei om oor enige persoon wat nie baie goed in die Woord geskool is nie te loop en na my mening die mense na hulle bose leer oor te haal.

Dit is dan ook daarom, omdat dit dodelik gevaarlik is – Ja, omdat dit geestelik dodelik gevaarlik kan wees vir die kind van GOD – dat die Woord vir my die volgende sê van alle bogenoemde mense en hulle soort evangelies:

2JOH 1:10 As iemand na julle toe kom en nie hierdie leer met hom saambring nie, moet julle hom nie aan huis ontvang nie en julle moet hom nie eers groet nie.(Moet nie met vuur – die hel se vuur – speel nie.)

Moet ons, nadat ons ons van hulle gedistansieer het, hulle nou maar net los omdat hulle vir die hel bestem is?
Nee!
Natuurlik nie.
Ons moet vir hulle bid, want jy sien:

2KOR 4:4 Dit is die god van hierdie bedeling wat die gedagtes van die ongelowiges verblind sodat hulle die lig van die Goeie Nuus nie kan sien nie.

Daarom moet ons vir hulle bid, dat hulle ook hierdie groot waarheid deelagtig kan word.
Van watter groot waarheid praat ek?

JOH 3:16 "God het die mensdom só liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.
JOH 3:17 God het immers nie die Seun na die mensewêreld toe gestuur om die mense te veroordeel nie, maar sodat die mense deur Hom verlos kan word.

JOH 14:6 Jesus sê vir hom: "Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom by die Vader uit behalwe deur My nie.

Om dan net weer op te som:
Wie is diegene wat “optree asof hulle godsdienstig is, maar dít ontken wat aan die Christelike godsdiens sy krag gee?“

Ek het net ‘n paar soorte mense se evangelies hierbo genoem wat jy en ek, volgens my verstaan van die Woord, níks te doen mee moet hê nie.  ‘n Maklike manier vir ‘n gewone mens soos jy en ek om, so glo ek, ‘n onbybelse evangelie te herken is die volgende:

Enige persoon wat iets verkondig wat deur die Woord direk of indirek weerspreek word.
Dan ook –
Enige iemand wat ‘n gedeelte uit die Woord neem en ‘n evangelie net rondom daardie gedeelte verkondig en deur die Woord op ‘n ander plek weerspreek word, verkondig ‘n evangelie maar nie die evangelie van Jesus Christus nie.
Ons Here praat nie uit twee monde nie.

Ek kyk so na die mense wat volgens 2 TIM 3:5  “optree asof hulle godsdienstig is, maar dit ontken wat aan die Christelike godsdiens sy krag gee” en ek onthou, dat daar geskryf staan:

GAL 1:8 Vervloek is elkeen wat 'n ander boodskap verkondig as wat ons aan julle verkondig het, al sou dit ons self of 'n boodskapper uit die hemel wees.
GAL 1:9 Ek herhaal: Vervloek is elkeen wat 'n ander boodskap verkondig as dié een wat julle ontvang het!

Altyd as mense met my oor die Woord gesels, beoordeel ek dit wat hulle sê teen die volgende agtergrond:

2TIM 3:16 Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig om ons te onderrig, die verkeerde te weerlê, om ons tereg te wys en om die regte leefstyl by ons te kweek.
2TIM 3:17 Dit is God se manier om sy mense voor te berei vir hulle taak, ten volle toegerus vir elke goeie ding wat Hy wil hê hulle moet doen.

Asook:

HEB 13:8 Jesus Christus bly steeds dieselfde – gister, vandag en vir altyd!
HEB 13:9 Pas op dat julle nie meegesleur word deur die bekoring van allerlei vreemde idees nie. …

Jy kan egter net hierdie maatstaf gebruik om mense se woorde te toets, as jy die nodige kennis uit die Woord het om dit mee te toets – en jy kan daardie kennis net kry deur gereeld die Woord te bestudeer.

Groete,
Sakkie