HY BEPAAL DIE GANG VAN WÊRELDGEBEURE
Sakkie Parsons
Iemand skryf aan my as volg:
“Wat is jou siening omtrent die volgende:
Is dit werklik God wat bv Idi Amin, Hitler en Stalin as leiers aangestel het en is ons as Christene werklik hier om hulle onderdanig te wees?
Met RSA, wat deur die regering van die dag se besluite geraak word, wonder mens wat die Bybel se siening hier is.”
Ek wil my antwoord as volg begin:
Ons Here het Adam en Eva geskep en in die tuin van Eden geplaas, verseker nie om daar ongehoorsaam te wees en na die slang/satan te luister nie.
Net so het ons Here geen mens geskep om in sonde en boosheid te lewe en hel toe te gaan nie maar om die ewigheid saam met Hom deur te bring en vir daardie rede het Hy toe Sy Seun gestuur, toe die mens so ‘n groot gemors van God se skepping en hierdie begeerte van ons Here gemaak het, om dan sodoende diegene wat Jesus Christus aanneem as Verlosser en Saligmaker in die Hemel by Hom te kry.
16 “God het die mensdom (dit is alle mense wat Hy geskape het) só liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het sodat elkeen (van daardie mense wie Hy geskape het) wat in Hom glo, nie verlore gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.
17 God het immers nie die Seun na die mensewêreld toe gestuur om die mense te veroordeel nie, maar sodat die mense deur Hom verlos kan word.
18 “Die persoon wat aanhou glo in Hom, word nie veroordeel nie. Die een wat egter nie aanhou glo nie, is reeds veroordeel omdat hy nie tot geloof gekom het in die enigste Seun van God nie.
Jy sien –
God skep ‘n mens en plaas hom/haar waar Hy die persoon wil plaas en dan, omdat God nie ‘n marionette geskape het nie maar ‘n mens geskep het wat na Sy beeld geskape is en net soos ons Here, ‘n wil van sy eie het, maak daardie mens dan ‘n sukses óf ‘n gemors van sy bestaan hier op aarde en beïnvloed daardie mens se besluite soms dan ook baie ander om hom/haar, waarvoor daardie mens natuurlik eendag sal moet verantwoording neem en God dan met daardie mens daarvolgens sal handel:
2 KOR 5:10 Ons almal moet voor die regbank van Christus verskyn sodat elkeen van ons kan ontvang volgens wat ons in ons aardse liggaam gedoen het, of dit goed en of dit sleg was.
Dit sal goed wees as jyself hierdie volgende gedeelte in sy geheel gaan lees maar ek kwoteer net hier wat ek as baie relevant vir hierdie skrywe beskou, sodat hierdie skrywe nie te lank gaan wees nie. Jy vind dit in MAT 25:31-46.
MAT 25:31-34 en 41:
31 “Wanneer die Seun van die Mens in sy heerlikheid kom en al sy engele saam met Hom, sal Hy op sy koninklike troon gaan sit.
32 “Al die nasies sal voor Hom bymekaargebring word en Hy sal hulle van mekaar skei soos ’n skaapwagter die skape van die bokke skei.
33 Hy sal die skape aan sy regterkant laat staan en die bokke aan sy linkerkant.
34 Daarop sal die Koning vir dié aan sy regterkant sê: ‘Kom julle, want my Vader het julle geseën. Kom ontvang julle erfenis – die koninkryk wat my Vader reeds van voor die begin van die wêreld af vir julle gereed gemaak het.
41 “Dan sal die Koning vir dié aan sy linkerkant sê: ‘Gaan weg van My af, want God het julle vervloek! Gaan na die ewige vuur wat gereed gemaak is vir die duiwel en sy bose engele!
Natuurlik is die owerhede deur God aangestel:
ROM 13:1-6
1 Julle moet die owerheid gehoorsaam, want God het dit daar geplaas. Geen owerheid bestaan buite God se toedoen nie.
2 Dit impliseer dat hulle wat weier om die owerheid te gehoorsaam, hulle teen die instelling van God verset. Dié wat dít doen, bring ’n oordeel oor hulleself.
3 Mense wat reg optree, hoef nie vir die owerhede bang te wees nie – die kwaaddoeners wel. As jy op goeie voet met die owerhede wil wees, handel dan volgens die wet en jy sal selfs van hulle lof ontvang!
4 Die owerheid is immers ’n dienaar van God om jou beste belange te bevorder. Maar as jy jou met die verkeerde besig hou, sal jy vanselfsprekend benoud wees, want die owerheid besit nie verniet die mag om te straf nie. Die owerheid is immers ook hierin God se dienaar dat hy die straf aan die kwaaddoener moet voltrek.
5 Om saam te vat: wees aan die regering gehoorsaam en wel om twee redes: nie net om straf te vermy nie, maar ook ter wille van ’n skoon gewete.
6 Daarom moet julle ook julle belasting betaal. Hulle is immers dienaars van God wanneer hulle hulle taak getrou uitvoer.
Het jy gesien wat jy nou net gelees het:
ROM 13:6 … Hulle is immers dienaars van God wanneer hulle hulle taak getrou uitvoer.
God het hulle aangestel om hulle taak getrou uit te voer maar dit is nie te sê dat hulle daar waar ons Here hulle aangestel het, gaan leef en optree soos wat ons Here wil dat hulle dit moet doen nie.
Net soos wat dit nie in Adam en Eva se geval gebeur het nie en net soos wat dit in jou en my lewe ook baie gebeur, dat ons nie leef of optree soos wat ons Here van ons verwag nie.
Dit is verseker nie outomaties, dat ons Here goedkeuring gee oor hulle optrede nie en dit wat hulle doen volgens ons Here altyd reg is nie en dat ek daarom altyd dit moet aanvaar en of ondersteun hoe hulle lewe of wat hulle doen nie.
Net soos wat dit ook nie outomaties is dat ons Here altyd goedkeuring gee oor óns optrede nie en dit wat ons doen volgens ons Here altyd reg is nie en dat ek daarom net altyd kan aanneem dat dit wat ek doen vir ons Here aanvaarbaar is nie.
As dit wat die owerhede van my verwag in teenstelling van dit is van wat ons Here van my verwag, moet ek God meer gehoorsaam as die mens wees:
HAN 4:18-20
18 Hulle roep toe die apostels weer in en beveel hulle om glad nie verder iets in die Naam van Jesus te verkondig of te leer nie.
19 Petrus en Johannes het egter in reaksie vir hulle gesê: “Dink julle God wil hê dat ons eerder aan júlle gehoorsaam moet wees as aan Hom?
20 “Ons kan nie anders as om te praat oor die wonderlike dinge wat ons gesien en gehoor het nie.” (al sou julle ons tereg stel oor dit wat ons doen.)
HAN 5:27-29
27 Hulle het hulle voor die Raad gebring, en die hoofpriester het hulle begin ondervra:
28 “Het ons julle nie belet om ooit weer die mense in hierdie Man se Naam te onderrig nie? En nou lê die hele Jerusalem vol van julle leer oor Jesus! Boonop wil julle ons ook nog verantwoordelik hou vir sy dood!”
29 Petrus en die ander apostels het in reaksie hierop gesê: “Ons moet eerder aan God gehoorsaam wees as aan mense!
Van watter gehoorsaamheid aan ons Here praat die dissipels onder andere hier?
MAT 28:18-20
18 Jesus kom toe nader en sê vir sy dissipels: “God het die volle mag oor hemel en aarde aan My toevertrou.
19 Gaan dan, maak al die nasies my dissipels, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees.
20 Leer hulle om alles te gehoorsaam wat Ek aan julle opgedra het. En weet vir seker: Ek is vir altyd by julle, tot aan die einde van die wêreldgeskiedenis.”
Jy en ek behoort egter altyd vir die owerhede te bid, want ons het ook hierdie sekere wete dat ons almagtige God die mag het om te verander soos dit volgens Hom verander moet word:
DAN 2:21 Hy bepaal die gang van wêreldgebeure.
Hy sit konings af en stel konings aan;
Hy gee wysheid vir dié wat wys is en kennis vir dié wat insig het;
So, hoe behoort jy en ek, wie onsself Christene noem, onder die owerhede te lewe wat oor ons deur God aangestel is?
ROM 13:7-12
7 Betaal dan aan almal wat aan hulle verskuldig is: belasting aan die wat belasting, tol aan die wat tol, vrees aan die wat vrees, eer aan die wat eer toekom.
8 Wees aan niemand iets skuldig nie, behalwe om mekaar lief te hê; want hy wat ‘n ander liefhet, het die wet vervul.
9 Want dít: Jy mag nie egbreek nie, jy mag nie doodslaan nie, jy mag nie steel nie, jy mag geen valse getuienis gee nie, jy mag nie begeer nie, en watter ander gebod ook al, word in hierdie woord saamgevat: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.
10 Die liefde doen die naaste geen kwaad nie; daarom is die liefde die vervulling van die wet.
11 En dit te meer, omdat ons die tydsomstandighede ken, dat die uur vir ons reeds daar is om uit die slaap wakker te word; want die saligheid is nou nader by ons as toe ons gelowig geword het.
12 Die nag het ver gevorder en dit is amper dag. Laat ons dan die werke van die duisternis aflê en die wapens van die lig aangord.
FIL 4:8 Ten slotte, broers en susters, vul julle gedagtes met alles wat waar, eerbaar, skoon, suiwer, lieflik en lofwaardig is.
Dit, my geliefde mede Christene, is die weg wat jy en ek as volgelinge van Jesus Christus, wat die owerhede aanbetref, behoort te volg en hierin het Hy ook aan ons die volmaakte voorbeeld gestel.
Iemand sê:
“Jy vereenvoudig dit darem nou baie Sakkie.”
Dan antwoord ek:
Ek het in 1973 tot bekering gekom en ek het oor die jare gevind dat dit juis een van die wonderlike eienskappe van Christen-wees is.
Die evangelie van Jesus Christus is uiteindelik so heerlik eenvoudig, dat ek dit maar soos ‘n kind kan glo en soos ‘n kind kan uitlewe.
In hierdie verband lees ek dan ook:
MAT 11:25 Toe het Jesus hierdie gebed gebid:
“Vader, Here van die hemel en die aarde,
Ek sê vir U dankie dat U die insig in hierdie dinge van die slimmes en intelligentes weerhou het en dit oopgemaak het vir hulle wat soos kinders geword het.
MAT 11:26 Ja, Vader, want U verkies hierdie manier van doen!
Dan kom Jesus en onderstreep aste ware wat Hy hier gebid het, as Hy by ‘n ander geleentheid sê:
MRK 10:15 Ek verseker julle, wie God se koninkryk (deur Sy evangelie natuurlik)nie soos ’n kindjie ontvang nie, sal beslis nie daar ingaan nie.”
Groete,
Sakkie