HY IS DIE GOD VAN LEWENDE MENSE

HY IS DIE GOD VAN LEWENDE MENSE.

Sakkie Parsons

Ek wil net hierdie skrywe begin deur te sê dat dít wat ek nou gaan skryf nie ‘n refleksie is op die persoon wat aan my die vrae gestuur het nie.

Soms kry ek dit, dat mense aan my skryf en dan soos ek persoonlik dit verstaan ‘n teksgedeelte uit die Woord buite konteks gebruik om na my mening iets wat ek geskryf het te weerlê.
Die snaakse fenomeen van hierdie soort optrede op dit wat ek skryf, is tot nou toe sonder uitsondering, dat die mense gedeeltes uit die Woord sal gebruik om dit wat ek geskryf het te weerspreek maar nooit vir my verduidelik hoe ek dan die gedeeltes wat ek, volgens hulle, nou verkeerd verstaan, eintlik moet verstaan nie.

Ek het byvoorbeeld ‘n gedagte uit die Woord geskryf om aan te toon, dat as ons uit hierdie lewe uittree ons dadelik by Jesus intree of die hel intree.

Die gedagte uit die Woord, as jy dit ook wil lees is:
“Wat gebeur met my na die graf” en een wat daar mee saamgaan is
“Wat gebeur met ons op die oordeel van die groot dag”,

wat ek met groot liefde aan jou sal stuur as jy dit sou wou lees.

Soos ek genoem het, mense sal aan my teksgedeeltes stuur om aan te toon dat hulle met my verskil maar nooit vir my verduidelik hoe ek dan die gedeeltes, wat ek dan konsuis buite konteks gebruik eintlik moet verstaan nie.
Drie van die gedeeltes uit die Woord wat ek onder andere in my skrywe wat ek hier bo genoem het gebruik het is naamlik:

MAT 17:3  En, wonderlik, toe verskyn Moses en Elia (springlewendig) voor hulle en voer gesprek met Jesus.
MAT 17:4  Petrus sê toe vir Jesus: “Here, dis wonderlik om hier te wees! As U wil, sal ek hier drie skuilings oprig:
vir U een, vir Moses een en een vir Elia.”

Wat nou volg is, ‘n gesprek wat plaasgevind het waarvan Jesus ons vertel:

LUK 16:24-31 
24 “Die ryk man het (uit die hel uit en ook springlewendig) geroep: ‘Vader Abraham, ontferm u oor my! Stuur vir Lasarus hierheen om die punt van sy vinger in water te steek en my tong af te koel,
want ek ly verskriklik in hierdie vlamme!’
25  “Maar Abraham het (van uit die hemel, ook springlewendig) vir hom gesê: ‘Kind, onthou gedurende jou leeftyd het jy alles gehad wat jy wou hê, en Lasarus niks. Maar nou is hy hier en word vertroos, en jy word gepynig.
26  En buitendien is daar ’n groot kloof wat ons skei. Enigeen wat van hier na julle wil oorgaan, word op die rand gestuit, en niemand van daar af kan na ons toe oorkom nie.’
27  “Toe sê die ryk man: ‘Asseblief, vader Abraham, stuur hom na my pa se huis toe.
28  Want ek het vyf broers, en ek wil hê hy moet hulle waarsku teen hierdie
plek van pyniging sodat hulle nie hier beland wanneer hulle sterf nie.’
29  “Maar Abraham het gesê: ‘Hulle het Moses en die profete om hulle te waarsku. Jou broers kan hulle geskrifte enige tyd lees wanneer hulle wil.’
30  “Die ryk man het geantwoord: ‘Nee, vader Abraham! Maar as iemand uit die dood na hulle gestuur word, sal hulle tot inkeer kom.’
31  “Maar Abraham het gereageer: ‘As hulle nie na Moses en die profete luister nie, sal hulle ook nie luister nie selfs al sou iemand uit die dood opstaan.’”

Wat nou volg is die een moordenaar wat saam met Jesus gekruisig is se gesprek met Jesus:

LUK 23:40-43 
40 Die ander een het hom egter bestraf en gesê: “Het jy óók nie respek vir God nie, alhoewel jy dieselfde straf as hierdie man ondergaan!
41  Ons het dit terdeë verdien, want ons verdien die straf vir wat ons gedoen het. Maar hierdie man het niks verkeerds gedoen nie.”
42 Hy het verder gesê: “Jesus, onthou my asseblief wanneer U in u koninkryk kom.”
43  Jesus se antwoord was: “Ek verseker jou, vandag nog (nie eendag nie) sal jy saam met My in die paradys wees.”

Ek het meer as hierdie voorbeelde gebruik maar ek noem hierdie 3 omdat Jesus direk in al drie gevalle betrokke gewees het.

Iemand skryf toe aan my min of meer as volg:  dat dit nou alles goed en wel is maar wat nou van byvoorbeeld.. – en dan kwoteer die persoon twee gedeeltes en ek wil dan nou graag met jou deel hoe ek hierdie twee gedeeltes verstaan en hoe heerlik in harmonie na my mening, met die ander gedeeltes wat ek reeds genoem het hulle uiteindelik is.

Die eerste gedeelte uit die Woord wat ek iets oor wil sê, wat die persoon aan my gestuur het was:

HAN 2:34  Dawid is nie die een wat na die hemel toe opgevaar het nie, en tog sê hy:
‘Die Here het vir my Here gesê:
Sit aan my regterhand

Ek dink, dat dit net goed is om hier net te noem, dat dit baie gevaarlik kan wees, as jy ‘n vers uit die Woord kwoteer om ‘n stelling te bewys sonder om dit wat vooraf, of daarna geskryf is in ag te neem.

Petrus, praat hier, soos jy sal agterkom as jy byvoorbeeld by HAN 2:22 begin lees, van Dawid teen die agtergrond, dat hy, dit is Petrus, een van dié was, wat Jesus, om dit so te stel, liggaamlik na die hemel sien opvaar het en dit het Dawid nie gedoen nie.  Dawid se beendere lê nog op die aarde.

Lees gou wat sê Jesus self oor of ons Here volgelinge na hulle liggaamlike afsterwe op hierdie aarde dan, al is dit net tydelik dood is:

MAT 22:31  Maar wat die opstanding van die dooies betref – het julle niks
hieroor in die Skrif raakgelees nie? Lank nadat Abraham en Isak en Jakob reeds dood was, het God immers gesê:
MAT 22:32 ‘Ek is die God van Abraham, die God van Isak en die God van Jakob.’ Hy is duidelik die God van lewende mense, nie van dooies nie.”

Wat Jesus hier baie duidelik vir my sê is dit:

MAT 22:32  ‘Ek is (nie “Ek was” nie) die God van Abraham, die God van
Isak en die God van Jakob.’ Hy is duidelik die God van léwende mense, nie van dóóíes nie.”  (Gewoon, omdat Abraham, Isak en Jakob, nou nog, op hierdie oomblik lewe).

Hier is dan ook hoe ek persoonlik die tweede gedeelte verstaan wat aan my gestuur gewees het.
Ons lees:

1KOR 15:23  Maar daar is ’n bepaalde volgorde hieraan verbonde: Christus was die eerste Een; daarna, wanneer Christus terugkom, sal al sy mense
opgewek word.

Jesus Christus was die eerste wie se dooie menslike liggaam in ‘n graf in gegaan het en wie toe in ‘n verheerlikte liggaam uit die graf gestap het maar Jesus self was nie dood nie.
God kan nie dood nie en ek deel graag met jou as voorbeeld die volgende uit die Woord:

1PET 3:18  Want Christus het ook eenmaal vir die sondes gely, Hy die Regverdige vir die onregverdiges, om ons tot God te bring—Hy wat wel gedood is na die vlees, maar lewend gemaak deur die Gees;
1PET 3:19  in wie Hy ook heengegaan en gepreek het vir die geeste in die gevangenis,
1PET 3:20  wat eertyds ongehoorsaam was toe die lankmoedigheid van God een maal gewag het in die dae van Noag, onderwyl die ark gereed gemaak is, waarin weinig, dit is agt, siele deur water heen gered is;

Nie net het jy nou gelees dat Jesus, terwyl Sy liggaam dood in die graf gelê het, Hysélf besig was om te preek nie maar Hy was besig om vir die geeste in die gevangenis te preek.  Dit is die mense, wat in Noag se tyd nie wou luister nie en toe in die vloed omgekom het, en tog eeue later nog lewendig was en na Jesus kon luister.

Volgens wat ek die Woord verstaan, is jy en ek en alle ander mense na ons Here se beeld geskape en een van die eienskappe wat ons het omdat ons na God se beeld geskape is, is, dat ons, soos Hy nie kan doodgaan nie.

Ons gaan wel verseker uit hierdie liggaam die ewigheid (óf in die Hemel óf in die hel) intree maar dood of tot niet kan ons nooit maar nooit nie.  Selfs nie eens tydelik, soos sommige verkondig nie.

Hoe wonderlik om dit te weet:
Almal wat Jesus Christus aangeneem het as hulle Verlosser en Saligmaker het hierdie heerlike versekering:

JOH 5:24 “Dit verseker Ek julle, wie my woorde hoor en wie vertrou op Hom wat My gestuur het, het die ewige lewe. Hy kom nie in die oordeel nie, maar het rééds oorgegaan uit die dood na die léwé.

Ons sal ook – soos Jesus die eerste gewees het om dit op hierdie aarde te doen – eendag op die nuwe aarde in ons verheerlikte liggame loop.

Ek sluit dan af met my groot held Paulus se woorde, toe hy ook oor hierdie dinge geskryf het:

THS 4:18  Troos mekaar dan met hierdie woorde.

Groete
Sakkie