HY HET OPGESTAAN SOOS HY GESÊ HET

HY HET OPGESTAAN SOOS HY GESÊ HET

Sakkie Parsons

Iemand het aan my ‘n skrywe gestuur en ‘n paar vrae gestuur, wat ek dink met die volgende uit sy brief opgesom kan word:

“Hoe weet ek Christenskap is reg, en dat andere verkeerd is.  Dis maklik om uit die Christen Bybel verwysings te doen na die inhoud daarvan, maar dit verskil byvoorbeeld van die inhoud van die Koran, en Bybels van ander gelowe, wat iets heel anders sê of bevat.”

Dit lyk vir my of die persoon wil dat ek sonder die Woord moet poog om te wys dat my Christelike geloof die enigste ware geloof is.
Ek gaan veral hier aan die begin probeer om dit te doen maar eintlik is dit vir my heeltemal onmoontlik om oor my geloof te praat, sonder om my Here se kosbare Woord te kwoteer.
Ek sal begin met wat ek buite die Bybel se bewyse noem, wat vir my sin maak maar ek weet sommer nou al dat ek met ons Here se wonderlike kosbare Woord gaan eindig.

Die eerste vraag is dan seker:
Het Jesus werklik op aarde gelewe?

Gelukkig is daar getuies in die vorm van nie Christelike geskiedskrywers soos Flavius Josephus, Cornelius Tacitus ens, wat nie net bevestig dat Jesus gelewe het nie maar dat Hy ook deur Pontius Pilatus gevonnis was om gekruisig te word.
Dit het natuurlik destyds plaasgevind onder aansporing van die Sanhedrin, omdat Jesus onder andere gesê het dat Hy God is, ‘n geweldige godslastering in die oë van die Jode.

Jesus is toe gekruisig en sy volgelinge het bevrees uitmekaar gespat en soos rotte in hulle gate vlug en wegkruip, het ook Jesus se volgelinge probeer om onsigbaar te wees.  Wat sekerlik tog normale optrede van gewone mense is, wat sien hoe hulle Leier aan ‘n kruis vasgespyker word;  Daar hang totdat Hy dood is en dan met ‘n spies deurboor word.

Toe, ‘n paar dae later gebeur daar iets so merkwaardig, so absoluut teen die mens se natuur in, dat daar werklik net een verklaring daarvoor kan wees:

Hierdie eens dood bevreesde volgelinge van Jesus kom skielik te voorskyn – en nie net sommer te voorskyn nie – hulle kom te voorskyn met onbeskaamde vrymoedigheid en hierdie eens vreesagtige volgelinge van Jesus doen vreesloos hulle bes om gesien en gehoor te word!

Wat het hierdie merkwaardige omkeer in hulle optrede teweeg gebring?
Wat het veroorsaak, dat mense wat eers so verskriklik bang gewees het, nou onbevrees skielik nie kon ophou praat oor dit wat hulle geglo het nie?  Selfs nie toe hulle op van die wreedste maniere doodgemaak was nie!

My antwoord –
Hulle het die opgestane Jesus ontmoet en met Hom gesels!

Dink ‘n bietjie na hieroor:
Jesus word in Jerusalem gekruisig.  So, sy graf is daar in Jerusalem in sy vyande se onmiddellike omgewing en om dit so te stel, ‘n bewysstuk om te wys dat Jesus se volgelinge lieg as hulle sê dat Hy opgestaan het.
Dan kom Jesus se volgelinge en met daardie skynbare verdoemende getuienis, Jesus se graf ook in hulle onmiddellike omgewing, begin Jesus se volgelinge juis daar in Jerusalem verkondig dat Hy opgestaan het. 

Die Jode kon mos net Sy verminkte gekruisigde liggaam vir die mense gewys het, om te wys dat Jesus se Volgelinge ‘n leuen verkondig maar hulle het nie, om die dood eenvoudige rede, dat daar nie ‘n verminkte, gekruisigde liggaam was om te vertoon nie.  Nee, hulle het eerder probeer deur vervolging, moord en dreigemente om Jesus se volgelinge stil te maak.

Feitlik al Jesus se volgelinge het destyds op ‘n onnatuurlike wyse na hulle dood gegaan.
Sommige nadat hulle van die wreedste marteling wat jy aan kan dink moes verduur – en daar is nie een enkele geval waar hulle hul getuienis van die opgestane Jesus verander het nie.  Al was daar met die mens se natuur in gedagte, ‘n wesentlike gevaar dat iemand êrens onder marteling sou erken dat hulle ‘n leuen verkondig.

Dit is nou meer as 2,000 jaar later en ten spyte van enorme probeerslae deur satan, kon niemand nog ooit eens met ‘n teenstrydigheid, wat nog te sê ‘n leuen in die Evangelie, wat ons Christene verkondig, dat ons Jesus uit die dood opgestaan het, te voorskyn kom nie.

So jy sien, ek glo in ‘n Jesus wat uit die dood opgestaan het.  Daarom ook, dat ek vir jou uit Sy Woord wil kwoteer.
Ek glo wat hierdie Jesus – wat mag oor selfs die dood het, sê – en hierdie Jesus sê dat Hy God is:

JHN 8:57  Die Jode het toe gereageer:  “Jy is nog nie eers 50 jaar oud nie en jy het Abraham gesien?”
JHN 8:58  Jesus het vir hulle gesê;  “Ek verseker julle, nog voordat Abraham bestaan het, was Ek al wat Ek is.”

JHN 14:8  Toe sê Fillippus:  “Here, wys ons net die Vader en dit is vir ons genoeg.”
JHN 14:9  Jesus antwoord hom só:  “Ek is al vir só ‘n lang tyd by julle, Fillippus, en jy ken My werklikwaar nog nie?  Wie My reeds gesien het, het ook reeds my Vader gesien.  Hoe sê jy dan:  ‘Wys aan ons die Vader?’”

Jy vra my:
“Wat is die regte, of dan die ware geloof?”
My antwoord aan jou:

Dit wat hierdie Jesus wat voorspel het dat hy die dood gaan oorwin en dit toe ook gedoen het; die evangelie wat hierdie Jesus verkondig, dit is die wáre geloof.
Hierdie Jesus wat vooruit gesê het dat Hy die dood sal ingaan en dan die dood sal oorwin:

MAT 12:40  “Net soos Jona vir drie dae en nagte in die maag van ‘n groot vis was, so sal Ek, die Seun van die Mens, vir drie dae en nagte in die binneste van die aarde wees.
MAT 12:41  Die mense van Nineve sal op die oordeelsdag saam met vandag se mense opstaan en teen hulle getuig.  Hulle het tog op grond van Jona se prediking tot inkeer gekom.  Iemand baie belangriker as Jona is nou hier by jule, en tog kom julle nie tot inkeer nie.”

Hierdie Jesus wat toe ook gedoen het wat HY gesê het:

MAT 28:2-6 
2  Skielik was daar ‘n geweldige aardbewing omdat daar ‘n engel van die hemel af gekom, die klip voor die graf weggerol en daarop gaan sit het.
3  Sy gesig het geblink soos weerlig en sy klere was sneeuwit.
4  Die wagte het van angs begin bewe en toe soos dooies bewusteloos neergeslaan.
5  Daarop het die engel die vroue aangespreek met die woorde:  “Julle hoef nie bang te wees nie.  Ek weet julle soek Jesus wat gekruisig is.
6  Hy is nie hier nie, want Hy is opgewek uit die dood, presies soos Hy gesê het.  Kom kyk, hier het Sy liggaam gelê.

Hierdie selfde Jesus, van wie ek die Heerlike voorreg het om ook my Jesus te noem, het in die verkondiging van Sy Evangelie gesê:

JHN 14:6  Daarop het Jesus gereageer:  “Ek is die pad en die waarheid en die lewe.  Niemand kom by die Vader uit behalwe deur My nie.”

As hierdie Jesus wat gesê het, dat Hy die dood sal ingaan en weer sal opstaan en dit dan ook doen, kan jy Hom sekerlik ook glo as Hy sê:

JHN 14:6   … Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie. (1953 Vertaling)

As Hy sê, dat Hy die enigste weg na God is, dan is daar net een weg na die Vader en dit is om Jesus Christus aan te neem as jou Verlosser en Saligmaker.

Dit is vir my die hoeksteen van Jesus se Evangelie wat Hy gesê het dat ons moet verkondig, toe Hy gesê het:

MAT 28:19  Gaan dan, maak al die nasies my dissipels, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees.
MAT 28:20 Leer hulle om alles te gehoorsaam wat Ek aan julle opgedra het. En weet vir seker: Ek is vir altyd by julle, tot aan die einde van die wêreldgeskiedenis.”

Jy skryf ook en sê:
“Hoe sal ek weet??  Ek het nog geen ervarings as Christen al gehad, soos praat in tale of bv. doping met Heilige Gees nie. Hoe weet ek bo alle redelike twyfel, sonder om net blindelings op die aspek van 'geloof' te moet staatmaak, want ander gelowe glo ook dat hul reg is.”

Ons Here kan enige wonder doen om jou te beïndruk maar omdat Hy in Sy Woord duidelik leer dat tekens en wonders nie die manier is om tot geloof te kom nie, doen hy dit nie.
Ons Here leer my in Sy Woord:

ROM 10:17  Die geloof volg uit die aanhoor van die boodskap.  En die aanhoor van die boodskap volg uit die prediking van die Goeie Nuus wat handel oor Christus.

Hierdie Woord van God leer my:

HEB 11:1  Wat beteken dit om op God te vertrou? Dit beteken om seker te wees dat die dinge waarna ons uitsien, wel sal gebeur. Dit beteken ook om oortuig te wees dat die dinge wat ons nie kan sien nie, wel daar is.

HEB 11:6  As jy nie glo nie, is dit onmoontlik om God tevrede te stel.  Wie tot God wil nader, moet glo dat Hy werklik dáár is en dat Hy dié wat na Hom soek, daadwerklik beloon.

Hoe geseënd is die mens, hoe absoluut wonderlik is haar/sy toekomsverwagting, op wie die volgende uit die Woord van toepassing is:

1PET 1:8  Hom het julle lief, al het julle Hom nooit gesien nie.  Al sien julle Hom nou nie, vertrou julle op Hom;  julle kan die wonderlike blydskap wat julle in julle voel, eintlik onder woorde bring nie.
1PET 1:9 Julle ervaar hierdie blydskap, want julle is reeds besig om julle finale redding, wat die doelwit van julle geloof is, te verkry.

Ek het ook ‘n ander skywe wat hierby aansluit en wat ek op aanvraag met liefde aan jou sal stuur.  Dit is ook in Engels beskikbaar:

Die Diaboliese Bewys Van Die Bestaan Van God
The Diabolical Proof Of God's Existance

Groete,
Sakkie