HÝ SAL JULLE MOEDIG, STERK EN STANDVASTIG MAAK

HÝ SAL JULLE MOEDIG, STERK EN STANDVASTIG MAAK

Skrywer:  Sakkie Parsons

Ek onthou, wat ek êrens gelees of gehoor het toe een van die boere in die boereoorlog op sy plaas aankom en hy sien die afgebrande opstal en die vernielde lande en hy sê:
“Die stryd duur voort.”

‘n Dag of twee gelede skryf ek aan iemand wat met my oor ‘n probleem in haar lewe met ander mense geskryf het en die gedeelte wat ek aan haar kwoteer het, kom toe nou weer in my hart op en ek deel dit graag met jou as bemoediging:

EFE 6:12-18  

12 Want ons stryd is nie teen mense nie, maar teen bose regeerders en maghebbers, teen die geeste wat heerskappy in hierdie donker wêreld uitoefen, teen die bose geeste in die hemelruimtes.

13  Daarom moet julle God se gevegstoerusting aantrek.

Dan, wanneer die Bose julle aanval, sal julle weerstand kan bied,
en na die hele geveg verby is, sal julle nog vas staan.

14 Staan dus vas deur waarheid as ’n gordel om julle heupe te dra en trek God se vryspraak as borsharnas aan.

15  Trek die bereidheid om die Goeie Nuus van vrede te verkondig, aan soos skoene aan julle voete.

16 Dra onder alle omstandighede die skild van die geloof.
Daarmee kan julle al die brandpyle blus wat die Bose afskiet.

17  Gebruik God se verlossing as ’n helm om julle koppe te beskerm.
En gebruik die swaard van die Gees, dit is God se woord.

18  Doen alles deur gebed en smeking.
Laat die Gees julle elke keer in die gebed lei.
Bly in alle omstandighede op julle hoede en bid vir almal wat aan God behoort.

Eintlik kan ‘n mens so ‘n bietjie vroeër al begin lees naamlik:

EFE 6:10:  … Vind krag in julle verbondenheid aan die Here, ja, in die krag van sý sterkte!

EFE 6:11  Om staande te bly teen die listigheid van die duiwel moet julle God se gevegstoerusting aantrek.

Ons moet daarop let:
Hoe nader ons aan ons Here leef, hoe harder gaan satan probeer om ons die hel in te sleep.
Ons weerstaan egter die vyand in die wonderlike wete dat Christus reeds vir ons die oorwinning behaal het en ons soos oorwinnaars kan leef ten spyte wat met ons in hierdie lewe gebeur:

ROM 8:37 Tog is ons ten spyte van al hierdie dinge besig om ‘n superoorwinning te behaal – oorwinnaars deur Christus wat Sy liefde so duidelik aan ons bewys het.

1KOR 15:58  Dus, my geliefde broers en susters ( liewe leser wat nou hier lees), staan baie vas, onbeweeglik.
Gee altyd julle allerbeste vir die Here se werk,
want julle weet voor die Here is alles wat julle doen die moeite werd.

1PET 5:8-10:
8  Wees versigtig!  Pas op vir die duiwel se aanvalle. Hy is julle groot vyand. Hy loop rond soos ’n brullende leeu, op soek na iemand om te verslind.

9  Hóm moet julle teenstaan deur standvastig in julle geloof te bly.
Julle weet mos: Dwarsdeur die wêreld verduur lede van God se gesin dieselfde soort lyding.

10 In sy genade het God julle geroep om in Christus deel te hê aan sy ewige heerlikheid.
Nadat julle ’n kort tydjie swaargekry het, sal Hy julle self weer herstel;
Hy sal julle moedig, sterk en standvastig maak.

11 Aan Hom behoort die krag tot in ewigheid!  Amen.

Groete,
Sakkie