HY WAT IN TALE SPREEK, STIG HOMSELF

HY WAT IN ‘N TAAL SPREEK, STIG HOMSELF

Sakkie Parsons

Iemand het aan my geskryf en my, my opinie gevra oor ‘n stelling wat ‘n dominee blykbaar gemaak het, dat die spreek van tale nie meer vandag gebeur nie.

Ek deel graag my antwoord aan die persoon met jou.
Die persoon het geskryf:
“Daar was al tye dat ek dit bevraagteken  het, veral na 'n preek van een van ons dominees waarin hy te kenne gegee het dat spreek van tale nie nou meer gebeur nie, dit was net in Jesus se tyd en toe was dit ook so dat ander volke hul eie taal deur hul kon verstaan.”

Na my mening is dit nie net verkeerd nie, maar ook gevaarlik om ‘n stelling te maak dat die spreek in tale net vir die tyd van Jesus gewees het.
Ek sou graag wou sien waar iemand wat vir ander leiding moet gee in die Woord lees, dat die spreek van tale nie meer vandag gebeur nie.
Ek kan nie aan ‘n enkelle gedeelte in die Woord dink, wat ‘n mens kan gebruik om so ‘n dwase stelling te staaf nie.
As ek die Woord reg verstaan, lees ons om dit so te stel, “van twee soorte tale wat die Gees uitdeel.”
Die een is ‘n taal wat ander verstaan, omdat dit hulle eie taal is wat hulle hoor.
 

HAN 2:1-6 

1 En toe die dag van die Pinksterfees aangebreek het, was hulle almal eendragtig bymekaar.
2  En daar kom skielik uit die hemel ‘n geluid soos van ‘n geweldige rukwind, en dit het die hele huis gevul waar hulle gesit het.
3  Toe is deur hulle tonge gesien soos van vuur, wat hulleself verdeel en op elkeen van hulle gaan sit.
4  En hulle is almal vervul met die Heilige Gees en het begin spreek in ander tale, soos die Gees aan hulle gegee het om uit te spreek.
5  En daar het in Jerusalem Jode gewoon, godsdienstige manne, uit elke nasie wat onder die hemel is.
6  En toe hierdie geluid kom, het die menigte saamgestroom en was in die war, want elkeen het gehoor hoe hulle in sy eie taal spreek;

Die ander taal,  is wat my gees tot my stigting met ons Here spreek.

1KOR 14:2-4 
2 Want hy wat in ‘n taal spreek, spreek nie tot mense nie, maar tot God; want niemand verstaan dit nie, maar deur die Gees spreek hy verborgenhede.
3  Maar hy wat profeteer, spreek tot die mense woorde van stigting en troos en bemoediging.
4  Hy wat in ‘n taal spreek, stig homself; maar hy wat profeteer, stig die gemeente.

Ek het gesê, dat na my mening is dit nie net verkeerd nie maar ook gevaarlik, om ‘n stelling te maak dat die spreek in tale net vir die tyd van Jesus gewees het.
Paulus skryf.

1KOR 12:4-6 
4 Daar is wel verskeidenheid van genadegawes, maar dit is dieselfde Gees;
5  en daar is verskeidenheid van bedieninge, en tog is dit dieselfde Here;
6  en daar is verskeidenheid van werkinge, en tog is dit dieselfde God wat alles in almal werk
.

Dan gee hy ons ‘n lys van 9 genadegawes, bedieninge en werkinge naamlik:

‘n woord van wysheid:
‘n woord van kennis:
geloof:
genadegawes van gesondmaking:
werkinge van kragte:
profesie:
onderskeiding van die geeste:
allerhande tale:
uitleg van tale.

1KOR 12:8-11 
8 Want aan die een word deur die Gees ‘n woord van wysheid gegee, en aan die ander ‘n woord van kennis vanweë dieselfde Gees;
9  aan ‘n ander weer geloof deur dieselfde Gees, en aan ‘n ander genadegawes van gesondmaking deur dieselfde Gees;
10  aan ‘n ander werkinge van kragte, aan ‘n ander profesie, aan ‘n ander onderskeiding van die geeste, aan ‘n ander allerhande tale, aan ‘n ander uitleg van tale.
11  Maar al hierdie dinge werk een en dieselfde Gees wat aan elkeen afsonderlik uitdeel soos Hy wil.

As iemand nou ‘n gedeelte uit 1KOR 12:10 uitlig, as sou dit nie meer vandag van toepassing wees nie naamlik:
“aan ‘n ander allerhande tale, aan ‘n ander uitleg van tale.”
Watter geloofwaardige redenasie kan daardie persoon dan gebruik om vir my te sê dat
byvoorbeeld, dit verkeerd sou wees as ek sou sê, dat die volgende uit die selfde
gedeelte ook nie meer vandag van toepassing is nie:
“en aan ‘n ander genadegawes van gesondmaking deur dieselfde Gees.”
So maak ons dan die weg oop, vir elkeen om uit te haal wat sy/hy nie in die Woord
wil hê nie.
Gelukkig weet ons mos:

2TIM 3:16  Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid,
2TIM 3:17  sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus.

Al wat ek moet doen is om die Woord te lees en in te neem soos wat Jesus sê dat ek
die Woord moet lees en inneem.

MRK 10:15  Voorwaar Ek sê vir julle, elkeen wat die koninkryk van God nie soos ‘n kindjie ontvang nie, sal daar nooit ingaan nie.

MAT 11:25  In daardie tyd het Jesus gespreek en gesê: Ek loof U, Vader, Here van die hemel en die aarde, dat U hierdie dinge verberg het vir wyse en verstandige mense en dit aan kindertjies geopenbaar het.
MAT 11:26  Ja, Vader, want so was dit u welbehae.

Groete,
Sakkie