IS DIT VERKEERD OM KWAAD TE WEES VIR GOD?
Sakkie Parsons
Iemand skryf aan my as volg:
Mag ek vir God kwaad word omdat Hy toelaat dat dinge oor my, Sy kind, se pad kom of met my gebeur, wat volgens my baie sleg en onaangenaam is?
Ek wil dan begin, voordat iemand wie hier lees, kan dink:
“Dit is maklik vir jou Sakkie om te praat maar jy weet nie wat moeilike omstandighede is nie.”
Ek kon nou baie genoem het, maar ek volstaan deur net die volgende uit my eie lewe te noem, om te wys; ek weet wat moeilike omstandighede is:
In 1978, gaan die sig wat ek nog gehad het vinnig agteruit, totdat ek later nie meer my kinders se gesigte kon sien nie en vandag is ek heeltemal blind.
In 1997 ontdek hulle melanoom kanker by my en op my vraag, van wat my kanse is, sê die dokter dat as hulle dit nie kan keer nie, het ek 3 en as ek gelukkig is 6 maande om te lewe.
In 2012 sê die neuroloog vir ons, dat my vrou dementia het en die mees skrikwekkendste 7 jaar van my lewe begin, wat in 2019 eindig, toe my vrou na Jesus verhuis het.
So, as jy oor moeilike tye in ‘n mens se lewe met my praat, kan ek sê:
Ek weet waarvan jy praat, ek was daar en ek is steeds, wat my gesig-gestremdheid aanbetref, daar.
Nou net gou iets oor kwaad wees.
‘n Mens kan ook kwaad wees, en nie sondig nie – en soos gewoonlik deel ek met jou twee voorbeelde uit die Woord maar hierdie kwaadwees het niks te doen met die sondige kwaadwees, soos om jou hakskeen teen jou Skepper te lig nie.
MRK 3:5 En nadat Hy hulle rondom (kwaad) met toorn aangekyk het en tegelykertyd bedroef was oor die hardheid van hulle hart, (Hy was kwaad maar nie met sondige wrewel nie, maar met deernisvolle hartseer) sê Hy vir die man: Steek jou hand uit! En hy het dit uitgesteek, en sy hand is herstel, gesond soos die ander een.
JHN 2:14 En Hy het in die tempel gevind die wat beeste en skape en duiwe verkoop, en die geldwisselaars wat daar sit.
JHN 2:15 En Hy het ‘n sweep van toutjies gemaak en almal uit die tempel uitgedrywe, ook die skape en die beeste, en die kleingeld van die wisselaars het Hy uitgegooi en hulle tafels omgekeer.
Lees nou die deernisvolle omgee vir die hulpelose duiwe in hulle hokke. Jesus keer nie die duiwe se hokke om nie en dit terwyl Hy vol heilige woede is oor wat hulle in die tempel doen.
JHN 2:16 En vir die duiweverkopers het Hy gesê (Hy het nie aan hulle goed geraak nie) : Neem daardie dinge (die hokke met die weerlose duiwe) hier weg; moenie die huis van my Vader ‘n handelshuis maak nie.
In Sy heilige woede het Jesus geweet, dat as hy die duiwehokke omgooi, daardie weerlose duiwe beseer en vrees trauma sou ervaar.
Dit alles ten spyte dat daar oor hierdie insident ook geskryf is:
JHN 2:17 En sy dissipels het onthou dat daar geskrywe is: Die ywer vir u huis het my verteer.
Nou terug by die vraag of ek kwaad vir ons Here mag word of wees, oor wat in my lewe gebeur, is my antwoord om mee te begin:
Kategories absoluut, nee, nee, nee!
Dit is sonde teen ons Here.
Alle sonde is sonde teen ons Here, maar kwaadwees vir God, is uit my menslike oogpunt gesien, ‘n nog erger, ‘n dierekte vergryp teen ons Here en dit is net nog soveel erger, as ek onthou, wie en wat ek is, en wie HY is teen wie ek my hakskeen lig.
Ons praat hier van God die Almagtige, Skepper van die heelal en ook van my en in my geval, praat ons ook van my Verlosser en Saligmaker, wie my so lief het, dat Hy vir my aan die kruis gaan hang het, sodat ek die ewige lewe kan beërwe.
Dít is die Here vir wie ek kwaad Is en om dit so te stel, teen wie ek my hakskeen lig.
Onthou nou, dat ek nie van mense in die wêreld praat nie. Hulle weet nie wat hulle doen nie
Van wie praat ek hier?
Van ‘n Christen.
Iemand wie bely, dat ek Jesus, God wie mens geword het, hierdie God wie liefde is, aangeneem het as my Verlosser en Saligmaker.
1JHN 4:8-10
8 … want God is liefde.
9 Hierin is die liefde van God tot ons geopenbaar, dat God sy eniggebore Seun in die wêreld gestuur het, sodat ons deur Hom kan lewe.
10 Hierin is die liefde: nie dat ons God liefgehad het nie, maar dat Hy ons liefgehad het en sy Seun gestuur het as ‘n versoening vir ons sondes.
Daar is natuurlik ‘n rede waarom baie Christene voel hulle het die reg om kwaad te wees vir God en dit is oor die valse evangelie wat deur so baie predikers direk of indirek, van kansels af verkondig word; dat as ek Jesus aangeneem het as my Verlosser en Saligmaker en ek nou Sy volgeling is, dit nou met my moet goed gaan veral, sal sommige predikers direk of op ‘n subtiele wyse byvoeg, as ek nog ruim finansieel bydra tot die inkomste van die gemeente waar hy die herder is.
Nou gebeur dinge nie soos wat hulle verkeerd geleer is nie en nou is hulle, in die meeste gevalle deur hulle onkunde besig om teen God die Almagtige te sondig.
Kom ek wys jou net gou voor ek verder gaan wat leer ons Here ons in Sy kosbare Woord wat hierdie bose leuen wat van baie kansels af verkondig word aanbetref, dat dit met ‘n Christen wat hierdie wêreld aanbetref, sal goed gaan..
JOB 5:7-8
7’n Mens word gebore vir moeite, (dit is so seker)
soos vonke boontoe skiet uit ’n vuur.
8“My raad aan jou is:
Gaan na God toe (sonder om jou hakskeen teen Hom te lig)
en stel jou saak (jy Sy kind, soos Sy kind) aan Hom. (in nederige ootmoed)
JOB 14:1-3
1“Hoe broos is die mens!
Hoe kort is sy lewe!
Hoe vol moeite!
2 Soos ’n blom
bloei dit (net) vir ’n oomblik
en (wat hierdie lewe aanbetref) verwelk.
Soos die skadu
van ’n drywende wolk,
so (wat hierdie lewe aanbetref) verdwyn dit.
Sonde het deur die mens hierdie wêreld in gekom en saam met die sonde die dood (en alles wat daar tussen-in is.)
ROM 5:12 Daarom, soos deur een mens die sonde in die wêreld ingekom het en deur die sonde die dood, en so die dood tot alle mense deurgedring het, omdat almal gesondig het
So, moet nie die snert wat deur satan van sommige kansels af verkondig word glo, dat dit met ‘n kind van God altyd volgens menslike standaarde sal goed gaan nie.
Dit is gewoon nie die waarheid nie.
Ek het jou gewys, dat ‘n mens kan kwaad word sonder om te sondig.
My groot held Paulus stel dit by geleentheid so:
EFE 4:25 Daarom, lê die leuen af en spreek die waarheid, elkeen met sy naaste, want ons is mekaar se lede.
EFE 4:26 Word toornig en moenie sondig nie; laat die son nie ondergaan oor julle toorn nie;
As jy kwaad word vir ons Here het satan jou kwaadwees so verdraai en verwring, dat jy nietige mens, skepsel van die Skepper, nou vir God jou Skepper en sy alwetendheid bevraagteken en dit terwyl jy op daardie oomblik dink, jy het die volste reg daartoe:
ROM 9:20 Maar tog, o mens, wie is jy wat teen God antwoord? Die maaksel kan tog nie vir die maker sê: Waarom het u my so gemaak nie?
ROM 9:21 Of het die pottebakker nie mag oor die klei, om uit dieselfde klomp die een voorwerp tot eer en die ander tot oneer te maak nie?
JES 45:9 Wee hom wat met sy Formeerder twis (verwyt) —’n potskerf by erdepotskerwe! Sal dan die klei sê aan die wat dit vorm: Wat maak jy? Of jou werk sê: (Hy is onbevoeg, want) Hy het geen hande nie!
Want jy het nou deur jou sondige woede jou oë van ons Here af gehaal en van Hom af weg gestorm en deur jou woede sien jy die leuen, naamlik die sleg wat God doen of toelaat en jy, so herinner satan jou, terwyl hy jou hand vashou en aanmoedig om nog verder van God af te beweeg deur vir jou te sê:
“ Dan sê Hy nog al, jy is Sy kind.”
Terwyl – As jy jou oë op ons Here deur dit wat met jou gebeur al die tyd op Hom gehou het, jy Sy stem sou hoor – en sou sien en beleef wat jy as kind van God behoort te sien en te beleef naamlik:
JHN 16:33 Dit het Ek vir julle gesê, dat julle in My vrede kan hê. In die wêreld sal julle verdrukking hê; maar hou goeie moed, Ek het die wêreld oorwin.
As ek my oë op Jesus Christus hou, kyk ek dan na alles wat met my gebeur en in my lewe my pad langs kom terwyl ek naby by my God en Verlosser se Voete bly en ek onthou:
ROM 8:28 En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is.
Wat ‘n Christen/volgeling van Jesus wat kwaad vir God word of is, moet besef, of as ‘n saak van groot dringendheid op attent gemaak moet word, is dat sy/hy nou so vêr van God af verwyderd geraak het, dat sy/hy nie meer God se karaktertrekke kan raaksien nie en naby daaraan is, dat sy/hy nie meer God se stem wil hoor nie.
En as jy op daardie pad agter satan aan voort ploeter, jy later so vêr van God af gaan beweeg, dat jy nie meer sou kan terugkeer na ons Here toe nie, omdat jy nie meer wil terugkeer na ons Here toe nie:
HEB 6:4-6 (NLV)
Intussen moet julle besef dat dit onmoontlik is om hulle wat een maal deur God verlig is, maar daarna hulle rug op God gedraai het, weer tot inkeer te bring – hulle wat God se geskenk ervaar het, wat die Heilige Gees ontvang het, wat die lieflikheid van God se woord en die kragte van God se toekomstige wêreld beleef het. As hulle dan tog hulle rug op God draai, kan hulle nie weer tot inkeer gebring word nie, want wat hulleself betref, kruisig hulle die Seun van God opnuut, en hulle maak Hom openlik tot ’n bespotting.
Van watter karaktertrekke praat ek wat ‘n Christen wat vir God kwaad is, en nou deur sy/haar woede so vêr van God af is, dat hy/sy dit nie meer kan raaksien nie?
Ek noem net hier ‘n paar wat relevant in hierdie skrywe is as voorbeeld:
Karaktertrekke soos liefde, genade en omgee.
So kind van God – Soos al jou ander sondes – Neem jou bose vergryp van woede teen God na ons liefdevolle God van genade en omgee, terwyl jy ook een van Sy ander karaktertrekke, dat Hy ‘n vergewende God vol vergifnis is, wat met oop arms vir jou wag om weer in Sy Goddelike nabyheid te kom lewe.
JAK 4:7 Onderwerp julle dan aan God; weerstaan die duiwel, en hy sal van julle wegvlug.
JAK 4:8 Nader tot God, en Hy sal tot julle nader. Reinig die hande, julle sondaars, en suiwer die harte, julle dubbelhartiges!
FIL 4:7 En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus.
Moet jy dan ook nie meer verder die verkeerd wat jy geleer was glo nie – maar konsentreer op die volgende – en die boosheid van kwaadwees of woede teenoor God sal nie eens in jou gedagte opkom nie.
FIL 4:8 Verder, broeders, alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat regverdig is, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat loflik is—watter deug en watter lof daar ook mag wees, bedink dit.
Ek hoop tog so, dat diegene wat die sonde van kwaadwees vir God wil versag en ja selfs verkondig dat dit soms geoorloof is, wil die skrikwekkende gevolge wat uit kwaadwees vir God kan voortvloei deur hierdie skrywe insien.
Ek seën jou wie nou tot hier gelees het.
Ten slotte net die volgende gedeelte uit ons Here se kosbare Woord, en ek kwoteer die gedeelte uit die NLV:
HEB 13:20-21
20 Mag die God wat vrede gee, wat Jesus ons Here uit die dood teruggebring het – Jesus wat deur die bloed van die ewige verbond die Herder van die kudde geword het –
21 julle toerus met alles wat goed is sodat julle sy wil kan uitvoer. Mag Hy, deur Jesus Christus se bemagtiging, in ons tot stand bring wat God se hart sal bly maak.
Aan Hom kom die heerlikheid toe vir altyd en altyd! Amen.
Groete,
Sakkie
E-pos: bediening@sakkieparsons.co.za
Webtuiste: www.sakkieparsons.co.za
Sel: 083 457 6669
Judas 1:24-25 „Aan Hom nou wat magtig is om julle van struikeling te bewaar en julle sonder gebrek voor Sy heerlikheid te stel met gejuig, aan die alleenwyse God, ons Verlosser, kom toe heerlikheid en majesteit, krag en mag, nou tot in alle ewigheid! Amen.”
Indien u hierdie e-pos lees en wel gereëlde e-pos van my wil ontvang, stuur asseblief u volle e-pos adres in die “subject box” na: bediening@sakkieparsons.co.za
Moet asseblief nie ‘n leë e-pos stuur nie.
Aangesien ek blind is en gebruik maak van ‘n sagteware program waar die rekenaar met my praat, sal ek nie weet of dit ‘n foto of leë e-pos is wat ek ontvang nie. In albei gevalle sal my rekenaar net stil bly.
Sommige Gedagtes uit die Woord is ook in Engels beskikbaar.
Indien jy dit met een van jou Engelse vriende wil deel, kan jy my net vra en ek stuur dit aan jou.
Ek sal ook, as jy my vra, vir jou ‘n lys stuur van al die Afrikaanse gedagtes uit die Woord wat tot op datum vertaal is. Waar jy dan self kan besluit watter gedagte uit die woord om met jou Engelse vriende te deel, jy van my wil bestel en dit is natuurlik alles gratis.