IS HUWELIKE OOR DIE KLEURGRENS GEOORLOOF?

IS HUWELIKE OOR DIE KLEURGRENS GEOORLOOF?

Sakkie Parsons

Iemand het my ‘n vraag gestuur, wat hier op neergekom het: “Is huwelike oor die kleurgrens geoorloof?”

Hier is dan hoe ek na hierdie saak kyk:

In die Ou Testament was daar volgens die wet waar onder Israel ons Here gedien het, jy kan maar sê, net twee groepe. Die Jode, en die groep waaronder ek en jy val, die heidene.

Jesus het dit kom verander:

EFE 2:13-15 

13 Maar nou het julle, wat toe ver weg was, deur julle verhouding met Christus naby gekom.  Dit is moontlik gemaak deur Christus se dood aan die kruis (Christus se bloed).

14  Christus het inderdaad vrede tussen ons gebring. (Christus is inderdaad ons vrede)  Deur sy liggaam aan die kruis te gee het Hy die twee groepe één gemaak;  ja, die muur van vyandskap het Hy afgebreek.

15  Hy het ‘n einde gemaak aan die wet met sy voorskrifte.  Hy het vrede gebring deur in Homself die twee groepe tot een nuwe mensheid te maak.

Hoekom het Jesus dit gedoen?

JHN 3:16  God het die mensewêreld só liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.

Kan jy sien?

Hy het dit vir elke mens op hierdie aarde gedoen en die enigste vereiste waaraan jy  moet voldoen, is dat jy Jesus Christus moet aanneem as jou Verlosser en Saligmaker en dit geld vir jou en my en elke ander mens oor die hele wêreld, ongeag van kleur:

1JHN 2:2  Hy is die versoeningsoffer vir ons sondes.  Nie net vir ons sondes nie, maar ook vir dié van die hele mensdom.

Wat my verstom is mense wat hulleself Christene noem, en wie lees dat die Here wat hulle sê dat hulle dien, nie onderskeid tref tussen die verskillende bevolkingsgroepe nie, maar hulself die reg toeëien om juis dit te doen:

HAN 10:34  Toe antwoord Petrus:  “Waarlik ek begryp nou eers dat God nie sekere mense bo ander voortrek nie.

HAN 10:35  In enige volk neem Hy dié mense aan wat vir Hom ontsag het en doen wat reg is.”

HAN 10:36  Julle weet tog dat God aan die volk Israel die Goeie Nuus gestuur het dat daar vrede met Hom is deur Jesus Christus, wat Here oor almal is.

GAL 3:28 Nou is daar nie langer sprake van Jood of Griek, slaaf of vryman, man of vrou nie; julle is tog almal één in Christus Jesus.

OPG 5:9  Toe sing hulle ‘n nuwe lied met dié woorde:  U is waardig genoeg om die boekrol te neem en sy seëls te breek omdat U geslag is en met u bloed mense vir God vrygekoop het, uit elke geslag en taalgroep, volk en nasie.

OPG 5:10  U het hulle laat deel in u koninklike regering en hulle priesters vir ons God gemaak en hulle sal as konings oor die aarde heers.”

Daar staan dit en ek het afgesluit met:

“U is geslag en het ons vir God met u bloed gekoop uit elke geslag en taalgroep, volk en nasie

As daar staan geslag en taalgroep, volk en nasie dan was niemand mos oorgeslaan nie.

Hoe kan ek dan neerkyk, of my neus optrek, vir een van Jesus se mede-erfgename vir

wie Hy aan die kruis gaan hang het.

Dit verstom my dat mense wat weet dat ons Here nie onderskeid maak nie, selfs nie

aan die kruis nie, hulleself skynbaar die reg toeëien om dit te mag doen. My persoonlike siening is dat iemand wat so optree, net omdat die persoon ‘n ander kleur het, maak ‘n bespotting van die kruis.

Ek is wit. Ek het nie gekies om wit te wees nie. Ons Here het verkies om my wit te

maak en niemand het die reg om op my neer te kyk omdat ek wit is nie. As iemand

dit doen, dan kyk die persoon neer op ons Here se handewerk en hoe Hy verkies het

om dit te doen.

Wat vir my geld, geld vir elke ander mens, wat haar of sy kleur ook al is. Ek het aan die begin gesê, dat in die Ou Testament was daar twee groepe. Daar was die Jode en daar was die heidene.

Toe kom die Nuwe Testament tot stand en weer  is daar net twee groepe. Daar is die gelowiges en daar is die ongelowiges en dit is al maatstaf wat, volgens hoe ek die Woord verstaan, gebruik mag word.

Anders gestel –

Die Woord verbied slegs ‘n gelowige om met ‘n ongelowige te trou. Kleur of taal, byvoorbeeld, is nie iets wat in berekening gebring behoort te word as twee gelowiges met mekaar wil trou nie, hulle is albei ons Here se kinders. Hy woon in albei en albei is Sy erfgename:

2KOR 6:14  Moenie saamspan met ongelowiges nie, want watter vennootskap kan daar wees tussen reg en onreg?  Of watter gemeenskap kan daar wees tussen lig en duisternis? 

2KOR 6:15  Watter ooreenkoms kan daar wees tussen Christus en Belial (‘n naam vir die duiwel)?  Of watter gemeenskaplikheid kan daar wees tussen ‘n gelowige en ‘n ongelowige?

2KOR 6:16  Watter ooreenkoms het die tempel van God met afgode?  Ons is mos die tempel van die lewende God.  Dit is soos God gesê het:

      “Ek sal onder hulle woon en rondbeweeg, en Ek sal hulle God wees en hulle sal my volk wees.”

Soos ek die Woord verstaan, is daar vir ons Here, wat die mens aanbetref, net een ras, en dit is die menseras.

Wat ‘n paartjie wel in gedagte moet hou as hulle nie van dieselfde kleur is nie, is of

hulle die optrede van baie mense in die samelewing, waaronder godsdienstige mense

ook gaan wees, sal kan hanteer. Onder hierdie mense gaan daar ook baie vrome

familie wees.

Volgens die Woord egter, as julle albei wedergebore, met ander woorde Christene is, is daar niks wat daarteen is nie.

Julle is albei wedergebore kinders van ons Here en behoort tot dieselfde volk, God se volk.  Julle is albei bloedgewaste kinders van ons Here en julle is albei mense en as mense, is julle albei geskape na Sy beeld.

Gen 1:26  God sê toe:  “Laat Ons die mens maak volgens ons beeld, ‘n afbeelding van Ons.  Laat hulle soos konings heers oor die visse in die see, oor die voëls in die lug, oor die mak diere, oor die wilde diere, oor alles wat op die aarde kruip.”

Gen 1:27  God het mense geskep na Sy beeld;  volgens Sy eie beeld het God hulle geskep;  manlik en vroulik het Hy hulle geskep.

So mens, wees trots op jou kleur. Ons Here het besluit Hy hou van jou in daardie kleur.

Dan nog net dit:

Ek weet ek het hieraan geraak, maar dit is baie belangrik dat jy hiervan kennis neem.

‘n Huwelik is nie altyd maanskyn en rose nie, maar as jy oor die sogenaamde kleurgrens trou, gaan ‘n groot deel van die samelewing dit nog moeiliker maak en ‘n groot deel van daardie samelewing wat dit nog moeiliker gaan maak, gaan baie godsdienstig wees, maar ongelukkig ook baie ver van God af.

Vir diegene wat nie hou van wat ek nou oor huwelike oor die sogenaamde kleurgrens geskryf het nie, wil ek net weer daarop wys dat ek sê, en daarby staan, dat daar niks in die Woord is wat een Christen verbied om met ‘n ander wedergebore kind van ons Here wat uit ‘n ander volk is, te trou nie. Ongeag wat die persoon se taal of kleur mag wees.

Groete,

Sakkie

E-pos:  bediening@sakkieparsons.co.za

Webtuiste:  www.sakkieparsons.co.za

Sel:                         083 457 6669