IS JOU NAAM OPGETEKEN IN DIE BOEK VAN DIE LEWE?

IS JOU NAAM OPGETEKEN IN DIE BOEK VAN DIE LEWE?

Koop die tyd uit, omdat die dae boos is (Efe 5:16)

Sakkie Parsons

Ek wil met jou iets deel wat my weer opnuut getref het in die verhaal van “Die ryk man en Lasarus” – maar lees eers gou hier.

Luk 16:19  En daar was ‘n ryk man, en hy het purper en fyn linne gedra en elke dag vrolik en weelderig gelewe.

Luk 16:20  En daar was ‘n bedelaar met die naam van Lasarus wat vol swere voor sy poort gelê het.

Jy ken natuurlik die verhaal van hoe die ryk man, wie se naam ons nie ken nie, na sy lewe hier op aarde, die ewigheid in die Hel deurbring – en hoe die bedelaar met die naam Lasarus, na sy lewe hier op aarde, die ewigheid in die Hemel deurbring.

Ek wil vandag egter iets anders in verband met hierdie twee mense met jou deel, wat na my mening ‘n direkte invloed op hulle eindbestemming gehad het.

Het jy gesien, ons Here noem die ryk man nie by die naam nie.  Ons weet nie wie hy was nie maar sien jy? In ons Here se hart het die bedelaar soveel aansien, dat ons Here Lasarus by die naam noem:

Luk 16:19  En daar was ‘n ryk man, en hy het purper en fyn linne gedra en elke dag vrolik en weelderig gelewe.

Luk 16:20  En daar was ‘n bedelaar met die naam van Lasarus wat vol swere voor sy poort gelê het.

Na my mening werk dit so – en ek gebruik myself as voorbeeld, maar ek glo natuurlik dat dit min of meer so met elke mense werk:

Daar het ‘n dag in my lewe gekom, dat ons Here in Sy groot liefde Homself aan my voorgestel het. In my geval het ek nie dadelik gereageer op Sy geklop en geroep na my nie maar ons Here het aanhou klop en roep.

OPG 3:20  Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe en saam met hom maaltyd hou, en hy met My.

OPG 3:21  Aan hom wat oorwin, sal Ek gee om saam met My te sit op my troon, soos Ek ook oorwin het en saam met my Vader op sy troon gaan sit het.

As ek maar dadelik gereageer het, kon ek myself baie jare se ellende gespaar het.  Want toe ek uiteindelik my hart vir ons Here oopgemaak het, het die lewe in ‘n heerlike fees verander.  Nee, ek het nie ryker geword en als wat daarmee gepaard gaan nie – maar vir die eerste keer in my lewe het ek werklik vrede, geluk en werklike liefde in my lewe ervaar.  Want van my en elkeen wat die deur van sy/haar hart vir Jesus oopgemaak het, sê Hy:

JHN 14:27  Vrede laat Ek vir julle na, my vrede gee Ek aan julle; nie soos die wêreld gee, gee Ek aan julle nie. Laat julle hart nie ontsteld word en bang wees nie.

Hoe geseënd is die mens wat haar/sy hart op Jesus se geklop en geroep oopgemaak het!

Dan maak dit nie saak of jy ‘n bedelaar met die naam Lasarus is nie.  Dit maak werklik nie saak wat jou status of wat ook al in die oë van die mens is nie, jy is gekoop en daar was vir jou betaal met ‘n prys wat in die hele heelal nie geëwenaar kan word nie.

1PET 1:18  omdat julle weet dat julle nie deur verganklike dinge, silwer of goud, losgekoop is uit julle ydele lewenswandel wat deur die vaders oorgelewer is nie,

1PET 1:19  maar deur die kosbare bloed van Christus, soos van ‘n lam sonder gebrek en vlekkeloos,

Lasarus se naam was in die Boek van die Lewe – toe maak hy sy oë oop in die Hemel.

Die ryk man se naam wat dit ook al gewees het, was nié in die Boek van die Lewe opgeskryf nie – en toe maak hy sy oë in die Hel oop.

Luk 16:22  En toe die bedelaar sterf, is hy deur die engele weggedra na die boesem van Abraham.

Luk 16:23  En die ryk man het ook gesterwe en is begrawe. En toe hy in die doderyk sy oë ophef, terwyl hy in smarte was, sien hy Abraham van ver af en Lasarus aan sy boesem.

Want, my vriend/vriendin, daar staan dit geskrywe:

OPG 20:15  En as dit bevind is dat iemand nie opgeskryf was in die boek van die lewe nie, is hy in die poel van vuur gewerp.

Hoe ontsettend geseënd is die mens wie se naam in die Boek van die Lewe opgeskryf is!

As jy hierdie skrywe lees en jy het nog nié jou hart vir Jesus oopgemaak nie, wil ek jou aanmoedig. Jy lees hierdie skrywe omdat Jesus nog steeds klop en roep.

Maak jou hart vir Hom oop.

Antwoord op Sy geroep na jou, sodat jou naam ook in die Boek van die Lewe opgeskryf  kan word. 

Want daar staan ook in die Woord vir ons geskryf:

Heb 3:7  Daarom, soos die Heilige Gees spreek: Vandag as julle sy stem hoor,

Heb 3:8  verhard julle harte nie …

Ons Here het ‘n paar jaar aan my hart se deur geklop en geroep voordat ek

geantwoord het.

My Pa wat vir die grootste deel van sy lewe ‘n woestaard gewees het, maar uiteindelik

op Jesus se geklop geantwoord het, het ‘n paar jaar na sy bekering, hierdie tydelike

met die ewige verwissel – maar ek weet van gevalle waar mense hulle harte aan ons

Here in ‘n diens oopgemaak het, uit die diens uitgestap en nooit by hulle huise

uitgekom het nie, vanweë ‘n motorongeluk of iets dergeliks.

Die jongste geval wat ek van weet, waar ‘n persoon onverwags hierdie tydelike met

die ewige verwissel het, is van ‘n jongman, aangetroude familie van my, wat in die

nag opgestaan het, badkamer toe gegaan het, gegly en homself dood geval het.

Nie jy of ek weet hoeveel tyd ons nog op hierdie aarde het nie.

EFE 5:14-16 

14 Daarom sê Hy: Ontwaak, jy wat slaap, en staan op uit die dode, en Christus sal oor jou skyn.

15  Pas dan op dat julle nougeset wandel, nie as onwyse nie, maar as wyse;

16  en koop die tyd uit, omdat die dae boos is.

Mat 24:42  Waak dan, omdat julle nie weet watter uur julle Here kom nie.

Groete,

Sakkie