JESUS CHRISTUS – DIE BEGIN EN EINDE VAN MY GELOOF

JESUS CHRISTUS – DIE BEGIN EN EINDE VAN MY GELOOF

Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my en ek het die vraag aan my net opsommend so effe verkort:

My vraag oor geloof:  Ek glo dat geloof 'n "gift" van ons Heer is en ek nie iets daarmee te doen het nie maar daar is baie teoloë wat nie met my saamstem nie.”

Ek deel graag my antwoord aan die persoon ook met jou.

Alles, letterlik álles in my lewe en by uitstek in my Christen-wees lewe is uiteindelik ‘n gawe  “gift,” of dan geskenk van ons Here af.  Om maar net een gedeelte uit die Woord te kwoteer wat jy ook gebruik het in jou skrywe aan my:

ROM 3:23-24
23  Ons het immers almal gesondig. Ons almal het God beroof van die eer wat Hom toekom.
24  Maar nou spreek God ons in sy genade vry op grond van die verlossing wat Christus Jesus vir ons verkry het – en dit sonder enige verdienste van ons kant.

Laat ek dit so verduidelik:
Soos ek genoem het –
Alles, letterlik álles in my lewe is ‘n gawe, of as jy wil, ‘n “gift”  van ons Here. 
Ook byvoorbeeld elke asemteug – maar omdat ek na God se beeld geskape is, het ek – en ek sê dit met al die nodige respek wat ek vir ons Here het – soos God, ‘n wil van my eie, soos ons Here ook Sy eie wil het.
Ek kan nou my volgende asemteug vol vars lug in my longe trek, of ek kan met my volgende asemteug my longe vol sigaret of dagga rook trek.
Die keuse is myne en dan natuurlik is ook die gevolge, om dit so te stel, myne.

Om met jou nog een voorbeeld, ‘n fisiese voorbeeld van die der duisende wat ek kon genoem het, te noem:
Jy het die “gift” of gawe om fisies te kan sien – maar ek het nie daardie gawe nie.

So, ek weet nou nie wat die ander teoloë wat jy noem geloof noem nie maar vir my is alles letterlik alles fisies of psigies in my lewe, my lewe self ook – en prys die Naam van ons Here – ook my ewige lewe, ‘n liefdevolle gawe uit God se hand.

Nou wil ek met jou iets deel wat geloof aanbetref, waarsonder alles, letterlik álles in my bestaan, ja álles in my hele wese van menswees, sinneloos en nutteloos is – en dit is, as ek sonder Jesus Christus is.

Dus, die vraag aan die begin, as ek oor wáre geloof praat is:

Is Jesus Christus die begin en die einde van wat ek ook al my geloof noem?

Met ander woorde –
Glo ek werklik, dat alles wat die Woord van Jesus sê die waarheid is en het ek werklik hierdie Jesus, God wat mens geword het, aangeneem as my Verlosser en Saligmaker?

Om saam te vat wat ek bedoel met alles wat die Woord van Hom sê:

• Ek glo die maagdelike geboorte van Jesus Christus.  God wat so mens geword het.
• Ek glo alles wat God deur Sy Woord vir ons aangaande Sy lewe hier op aarde vir ons laat skryf het. 
• Ja, ek glo dat Hy vir my sonde gekruisig is en so ‘n wrede dood gesterf het, en begrawe is.
• Ek glo dat Hy na drie dae uit die dood opgestaan het en dat Hy opgevaar het na die hemel.
• Ek glo dat Hy weer terug gaan kom aarde toe en dat alle mense wat ooit gelewe het en wat nou lewe en wat nog gaan lewe voor Sy regterstoel gaan verskyn – Sy volgelinge om beoordeel te word en die ander om veroordeel te word.
• Ek glo dat so lank ek hier op aarde gaan lewe, Sy Heilige Gees, met ander woorde Hyself  in my woon om my in alle waarheid te lei.

EFE 3:17  Dan sal Christus deur die geloof in julle harte woon, en sal julle in God se liefde gewortel en gegrondves wees.

Om dan op te som:
Die gawe van geloof in God , of hoe jy geloof ookal sien, begin  by Jesus Christus en dit eindig ook by Jesus Christus.

JOH 1:1-3
1  Heel aan die begin het die Woord reeds bestaan.
Die Woord was by God,
en die Woord was self God.
2  Hy was reeds in die begin by God.
3  Alles het deur Hom ontstaan,
en sonder Hom het nie een ding
wat bestaan, ontstaan nie. (en dit sluit natuurlik geloof in)

JOH 1:14  En die Woord het mens geword en by ons kom woon. Ons het sy heerlikheid duidelik gesien, ’n heerlikheid soos dié van die enigste Seun van die Vader, vol liefdevolle goedheid en waarheid.

OPB 22:12  Jesus sê: “Kyk, Ek kom gou! My loon kom saam met My om almal te beloon volgens wat hulle gedoen het.
OPB 22:13  Ek is die Alfa en die Omega, die Eerste en die Laaste, die Begin en die Einde.”

Vir almal wat Jesus Christus aangeneem het as hulle Verlosser en Saligmaker, wat wil hê dat hulle geloof sterker en sterker moet word om al die aanslae van satan te kan weerstaan wat ook net meer en meer en feller en feller word, het ek hierdie goeie raad:

Bestudeer die Woord meer en meer en spits jou veral toe op wat die Woord jou oor Jesus meedeel, terwyl jy al die tyd onthou:

2TIM 3:16  Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig om ons te onderrig, die verkeerde te weerlê, om ons tereg te wys en om die regte leefstyl by ons te kweek.
2TIM 3:17  Dit is God se manier om sy mense (dit is almal Wat Jesus Christus aangeneem het as Verlosser en Saligmaker) voor te berei vir hulle taak, ten volle toegerus vir elke goeie ding wat Hy wil hê hulle moet doen.

Sodoende gaan jou liefdesverhouding met Jesus net meer en meer groei en gaan jou geloof wat jy van Hom ontvang het ook nie stagneer nie maar ook meer en meer groei.

Hoe heerlik om dan my skrywe aan jou af te sluit met die volgende uit ons Here se kosbare Woord:

Wie is Jesus Christus ons Verlosser en Saligmaker, in wie ons glo –  en wie ook die fondament is van ons geloof?

OPB 1:8  “Ek is die Alfa en die Omega,” sê die Here God, wat is en wat was en wat kom, die Almagtige.

Groete,
Sakkie