JESUS CHRISTUS – DIE POORT NA DIE EWIGE LEWE

JESUS CHRISTUS – DIE POORT NA DIE EWIGE LEWE.

Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my en vra my, waar hy kan lees van ‘n poort waar ons, die Christene, die Hemel sal ingaan.
Hy lees van die 12 poorte vir die stamme van Israel maar wat nou van jou en my wat nie Israeliete is nie.

Lees gou Openbaring 21:12 want ek wil jou iets wys.

OPB 21:12  Die stad het ook ’n groot en hoë muur gehad waarin twaalf poorte was. By die poorte is daar twaalf engele, met twaalf name op die poorte gegraveer; dit is die name van die twaalf stamme van Israel.

Sien jy dit?
Nêrens lees ons dat dit poorte is waar nét Israeliete sal ingaan nie, of dat daar by sekere poorte net sékere mense sal kan of mag ingaan nie. 
Dit was net die name van die Poorte.

Ek het dit so baie gesien in my lewe vandat ek vir ons Here werk.
Soms lees ons iets in die Woord en dan maak ons sekere gevolgtrekkings, maar die gevolgtrekking wat ons op daardie oomblik maak, is nié wat in die Woord geskryf staan nie.

Ons lees iets en sit soms dinge verkeerdelik bymekaar en maak dan verkeerde afleidings.

Dit laat my nou sommer ook dink aan die mite van die 3 wyse manne.
Nêrens in die Woord lees ons byvoorbeeld, dat daar 3 wyse manne gewees het wat na Jesus uit die ooste gegaan het nie maar omdat hulle 3 geskenke gebring het naamlik “goud, wierook en mirre,” neem baie mense aan, dat daar 3 wyse manne gewees het.
Ek het al selfs gehoor dat ‘n prediker in sy preek van die “3 wyse manne” gepraat het.
Ons lees:

MAT 2:1  Jesus is in die dorp Betlehem in Judea gebore tydens die regeringstyd van koning Herodes die Grote. Omstreeks daardie tyd het daar sterrekundiges uit die ooste in Jerusalem opgedaag. Hulle doen toe navraag:
MAT 2:2  “Waar is die pasgebore Koning van die Jode? Ons het sy ster sien verskyn en gekom om Hom te aanbid.”

In ‘n ouer vertaling lees hierdie gedeelte as volg:

MAT 2:1  En toe Jesus te Betlehem in Judéa gebore is, in die dae van koning Herodes, het daar wyse manne uit die Ooste in Jerusalem aangekom
MAT 2:2  en gesê: Waar is die Koning van die Jode, wat gebore is? Want ons het sy ster in die Ooste gesien en gekom om Hom hulde te bewys.

Sommer vir die interessantheid daarvan, deel ek met jou nog een voorbeeld van hoe mense iets in die Woord lees maar dan verkeerd interpreteer.

Iemand sal vir jou kwoteer en dan ook sommer sê, dat dit in die Woord geskryf staan naamlik:
“Geld is die wortel van alle kwaad.”

Dit mag wees wat ek verstaan as ek die gedeelte in die Woord lees, maar dit is nié wat daar geskryf staan nie.
Ons lees en ek kwoteer eers ‘n ouer vertaling:

1TIM 6:10  Want die geldgierigheid is ‘n wortel van alle euwels; …

Sien jy?
Geldgierigheid en nie geld is die euwel nie.
Geld op sigself is nie goed of sleg nie.

In die NLV lees hierdie gedeelte as volg:

1TIM 6:10  Want die liefde vir geld is die wortel van alle soorte kwaad. …

Ek noem dit maar net omdat mense soms iets in die Woord lees en dan verkeerd verstaan en dan soms maklik sê, dat soos hulle dit verstaan, so staan dit ook in die Woord

Ek gaan my nou verder in hierdie skrywe bepaal by die gedeelte van die vraag aan my naamlik soos ek die persoon se vraag verstaan en opgesom het:
“Waar kan ek lees van ‘n poort waardeur jy en ek die hemel kan ingaan?”

Soos jy nou gesien het, kan jy, as jy na ‘n voorbeeld van ‘n poort vir die Christen na die Hemel soek, ook die 12 poorte met hulle verskillende name as voorbeelde gebruik maar ons lees ook:

MAT 7:13  “Gaan die koninkryk deur die nou poort binne. Want wyd is die poort, en breed is die pad wat na ondergang lei, en daar is massas mense wat daar ingaan.
MAT 7:14 Hoe nou is die poort, en hoe smal is die pad na die lewe nie! Min is die mense wat dit kry!”

In Lukas lees ons:

LUK 13:23-25 
23 Iemand het Hom gevra: “Here, sal net ’n paar mense verlos word?”
Hy het geantwoord:
24 “Die deur na die koninkryk van God is nou. Werk hard om in te gaan, want baie sal probeer ingaan, maar dit nie regkry nie.
25  Wanneer die eienaar die deur gesluit het, sal julle buite staan en aan die deur klop en smeek: ‘Here, maak vir ons oop!’ Maar Hy sal antwoord: ‘Ek weet nie waar julle vandaan kom nie.’

Persoonlik wonder ek nie oor hoe die poort lyk en of daar letterlik ‘n poort gaan wees waardeur ek sal gaan nie.
Vir my is dit wonderlik om te weet, dat wanneer ek uit hierdie lewe uittree, ek by Jesus sal intree!
Ek jubel dit uit soos my groot held Paulus:

FIL 1:21  Want vir my is die lewe Christus, en die sterwe wins.

Vir nou en ek wil jou aanmoedig om ook so te redeneer.
     Ek probeer na die beste van my vermoë op die nou weg te bly en laat toe dat Christus my lei.
Want ek weet:

JOH 14:6  Jesus sê vir hom: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom by die Vader uit behalwe deur My nie.

     So, as ek dit wat jy nou net gelees het werklik glo en Jesus Christus aanneem as my Verlosser en Saligmaker en Hom deur hierdie lewe volg, gaan ek by die Vader uitkom en dit is wat ek na die beste van my vermoë doen en verkondig.

     Dit is net noodsaaklik, dat ek hier ook noem dat om in God te glo, op sigself my nie uit die hel gaan hou nie.
     Satan en al die bose geeste glo ook in God.

JAK 2:19  Jy glo dat daar net een God is. Die demone glo dit ook – en hulle sidder, so bang is hulle!

Jy moet Jesus Christus aanneem as jou Verlosser en Saligmaker:

JOH 1:12  Aan almal wat Hom egter aanvaar het, dié wat in sy Naam glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word.

Want jy sien, dit maak nie saak hoe die poort lyk, of waar daardie poort is nie.
Die heerlike werklikheid is dit:

JOH 14:6  Jesus sê vir hom: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom by die Vader uit behalwe deur My nie.

JOH 10:7 Toe het Jesus weer ‘n keer gesê:  “Ek verseker julle, Ek is die hek vir die skape.”

JOH10:9 “Ek is die hek;  as iemand deur My ingaan, sal hy beslis gered word. ..”

Groete,
Sakkie