IS JESUS CHRISTUS DIE ROTS WAAROP JY DIE FONDAMENT GELÊ HET, WAAROP JY JOU LEWE LEEF?

Hanna se lied

Iemand skryf aan my en wil weet wat die ooreenkoms tussen 1SAM 2:5 en JER 15:9 is.

Die enigste ooglopende ooreenkoms wat ek kan sien, is die getal 7.

Die rede waarom ek hierdie skrywe met jou my leser deel, is omdat ek ‘n groot waarheid uit die Evangelie van Jesus Christus met jou wil deel.
Nou goed.

Ek dink nie dat 1Samuel 2:5 en Jeremia 15:9, om dit so te stel, oor dieselfde onderwerp gaan nie.
Die enigste ooglopende ooreenkoms wat ek kan sien is die getal 7.
In 1Samuel 2:5 gaan dit oor Hanna se groot dankbare blydskap oor wat ons Here vir haar gedoen het en menslik, soos ons vandag ook maar doen as ons liedere skryf, onthou sy ook gedeeltes uit liedere wat voor haar gesing was – en ek geen voorbeeld:

DEU 32:3  Want die Naam van die HERE roep ek uit: Gee grootheid aan onse God!
DEU 32:4  Die Rots—volkome is sy werk; want al sy weë is strafgerigte; ‘n God van trou en sonder onreg; regverdig en reg is Hy.

Dan, net een voorbeeld  van byvoorbeeld Dawid, na haar, wat dit ook gedoen het:

PSM 9:10 So is die HERE dan ‘n rotsvesting vir die verdrukte, ‘n rotsvesting in tye van benoudheid.

Die rede waarom ek bogenoemde voorbeelde met jou deel is, omdat presies dieselfde het sy ook in haar lied met die getal ‘7’ gedoen.

Want mense in die Bybel se tyd het die getal ‘7’ graag gebruik om byvoorbeeld ‘oorvloed’ aan te toon, en ek deel met jou die volgende:

1SAM 2:5  Die wat versadig was, het hulle vir brood verhuur; maar die wat honger gehad het, rus. Selfs die onvrugbare het sewe gebaar, maar sy wat ryk aan kinders was, het verwelk.

JOB 5:19  In ses benoudhede sal Hy jou red, ja, in sewe sal geen onheil jou tref nie.

RUT 4:15  Hy sal vir jou een wees wat jou siel verkwik en jou grysheid versorg; want jou skoondogter wat jou liefhet, het hom gebaar, sy wat vir jou meer werd is as sewe seuns.

En dan natuurlik ook Jeremia 15:9:

JER 15:9  Sy wat sewe gebaar het, het weggekwyn; sy het magteloos neergesink; haar son het ondergegaan terwyl dit nog dag was; sy staan beskaamd en het rooi van skaamte geword. En hulle oorblyfsel gee Ek aan die swaard oor, voor hulle vyande, spreek die HERE.

Daar is egter iets wonderlik in Hanna se lied wat ek ook met jou wil deel.

Onthou nou as ek dit met jou deel, dat toe Hanna hierdie lied gesing het, was daar nie konings in Israel nie.  Hulle was regeer/gelei deur Rigters, en in haar leeftyd was dit Eli.  Later sal haar eie seun Samuel ook een van die Rigters word.  So dit was nog lank voor Israel hulle eerste koning naamlik Saul gekry het.
As jy met dit in gedagte haar lied lees van af vers 6, sien jy, so glo ek, nog een van die duidelike profesieë wat wys op ons Koning en Verlosser Jesus Christus:

1SAM 2:6-10
6 Die HERE maak dood en maak lewend; Hy laat neerdaal in die doderyk en laat daaruit opkom.
7  Die HERE maak arm en maak ryk; Hy verneder, ook verhoog Hy.
8  Hy rig die geringe op uit die stof, uit die ashoop verhef Hy die behoeftige, om hulle te laat sit by die vorste en hulle ‘n erestoel te laat beërwe. Want aan die HERE behoort die pilare van die aarde, en Hy het die wêreld daarop gevestig.
9  Die voete van sy gunsgenote bewaar Hy, maar die goddelose mense kom om in duisternis; want ‘n mens oorwin nie deur krag nie.
10  Die wat met die HERE twis, word verpletter; oor hulle donder Hy in die hemel; die HERE oordeel die eindes van die aarde, en Hy gee sterkte aan sy koning en verhef die horing van sy gesalfde.

Ek kom weer terug na die profesie in 1Samuel 2:10 – maar nou net gou oor Jeremia15:9, omdat ek daaroor gevra was:

In Jeremia 9 gaan dit natuurlik oor die volk in Judea en oor Jerusalem.
Dit is darem verskriklik die oordeel wat oor hulle uitgespreek word, maar ek deel met jou wat vir my ‘n bietjie uitstaan in hierdie oordeel.
In daardie tyd in Israel was dit verskriklik as ‘n vrou onvrugbaar gewees het en dan lees ek:

JER 15:8  Hulle weduwees het vir My meer geword as die sand van die see; Ek bring vir hulle oor die moeder van die jong manskappe ‘n verwoester op die middag; Ek laat skielik op haar val angs en verskrikkinge.

Vir Abraham sê ons Here, dat sy nageslag sal meer wees as die sand van die see:

GEN 22:16-18
16  .. Ek sweer by Myself, spreek die HERE, omdat jy dit gedoen het en jou seun, jou enigste, nie teruggehou het nie,
17  dat Ek jou ryklik sal seën en jou nageslag grootliks sal vermeerder soos die sterre van die hemel en soos die sand wat aan die seestrand is; en jou nageslag sal die poort van sy vyande in besit neem.
18  En in jou nageslag sal al die nasies van die aarde geseën word, omdat jy na my stem geluister het.

En nou hoor hulle, die nageslag van Abraham, dat vanweë hulle sonde, dat hulle weduwees meer sal wees as die sand van die see.
Met ander woorde –
Hulle mans gaan so uitgeroei word, dat hulle getalle metafories, so baie soos die sand van die see gaan wees.
Ek voel om in my gees uit te roep:
“Hoe absoluut skrikwekkend is hierdie vooruitsig vir hulle nie!

JER 15:8  Hulle weduwees het vir My meer geword as die sand van die see;

Nou wil ek weer terug kom na Hanna se lied daar heel aan die einde in 1Samuel 2:10 en dit dan direk koppel aan ons Here se belofte aan Abraham daar in Genesis 22:16-18:
Kom ons lees dan hierdie twee profesieë wat mekaar aanvul:

GEN 22:16  … Ek sweer by Myself, spreek die HERE, omdat jy dit gedoen het en jou seun, jou enigste, nie teruggehou het nie,
GEN 22:17  dat Ek jou ryklik sal seën en jou nageslag grootliks sal vermeerder soos die sterre van die hemel en soos die sand wat aan die seestrand is; en jou nageslag sal die poort van sy vyande in besit neem.
GEN 22:18  En in jou nageslag sal al die nasies van die aarde geseën word, omdat jy na my stem geluister het.
1SAM 2:10  Die wat met die HERE twis, word verpletter; oor hulle donder Hy in die hemel; die HERE oordeel die eindes van die aarde, en Hy gee sterkte aan sy koning en verhef die horing van sy gesalfde.

Hanna se lied, wat uiteindelik ook ‘n profesie oor ons Verlosser en Saligmaker is, het egter nie net geëindig in ‘n profesie oor ons Heiland nie – maar ook reeds met die profesie in die begin van haar lied begin:
Ons lees:

1SAM 2:2  Niemand is heilig soos die HERE nie; ja, daar is niemand buiten U, en daar is geen rots soos onse God nie.

Dan lees ons in die Nuwe Testament wat tot stand gekom het nadat die profesieë oor Jesus in die Ou Testament vervul was:

ROM 9:33  Soos geskrywe is: Kyk, Ek lê in Sion ‘n steen van aanstoot en ‘n rots van struikeling; (vir hulle wat verlore gaan, maar..) en elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaam word nie.

Wie is hierdie steen des aanstoots en rots van struikeling vir hulle wat verlore gaan?

1KOR 10:1-4 

1 Want ek wil nie hê, broeders, dat julle nie sou weet nie dat ons vaders almal onder die wolk was en almal deur die see deurgegaan het,
2  en almal in Moses gedoop is in die wolk en in die see,
3  en almal dieselfde geestelike spys geëet het,
4  en almal dieselfde geestelike drank gedrink het, want hulle het gedrink uit ‘n geestelike rots wat gevolg het, en die rots was Christus.

1PET 2:7-10
7 Vir julle dan wat glo, is Hy kosbaar; maar vir die ongelowiges geld die woord: Die steen (Jesus Christus) wat die bouers verwerp het, dit het ‘n hoeksteen geword; en: ‘n Steen des aanstoots en ‘n rots van struikeling—
8  vir dié wat hulle daarteen stamp, omdat hulle aan die woord ongehoorsaam is, waarvoor hulle ook bestem is.
9  Maar julle is ‘n uitverkore geslag, ‘n koninklike priesterdom, ‘n heilige volk, ‘n volk as eiendom verkry, om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig,
10  julle wat vroeër geen volk was nie, maar nou die volk van God is; aan wie toe geen barmhartigheid bewys is nie, maar nou bewys is.

Nou wil ek jou wat tot hier gelees het vra:

Het jy al vir Jesus aangeneem as jou Verlosser en Saligmaker?

Met ander woorde, is Jesus Christus die Rots waarop jy die fondament gelê het waarop jy jou lewe leef?

As jy nie verseker ‘ja’ op hierdie vraag kan antwoord nie, dan het jy nog nie ‘n volkome oorgawe aan Jesus gemaak nie.

Onthou ook dat niemand wat eenkeer van Jesus en Sy liefdes-offer en reddende genade gehoor het, ooit weer neutraal teenoor Hom kan staan nie.

In die verband sê Jesus self:

MAT 12:30  Hy wat nie met My is nie, is teen My; en hy wat nie saam met My versamel nie, verstrooi.

Daar is werklik geen ander Rots, ja, daar is geen ander HERE nie:

1KOR 3:11  Want niemand kan ‘n ander fondament lê as wat daar gelê is nie, dit is Jesus Christus.

So, as jy nie sekerheid in die verband in jou hart het nie en jy wil dit graag hê, dan kan jy nou net hier waar jy sit en lees met volle opregtheid in jou hart vir Hom – wie jou in die eerste plek geskape het – net sê:

“Here Jesus, ek is ‘n sondige mens en op die oomblik verlore en bestem vir die hel.
Ek wil graag ‘n liefdesverhouding met U hê en volgens U weë my lewe lewe.
Help my asseblief.”

Nou soek jy ‘n Christelike gemeente wat die hele Bybel as die onfeilbare Woord van God aanvaar.
Jy woon een van hulle dienste by en maak kontak met die herder van daardie gemeente en vra hom vir verdere leiding.

Ek wil net noem, dat as jy na ‘n Pinkster gemeente se diens gaan, die herder gewoonlik na die diens by die deur staan om mense te groet en jy so dan maklik met hom sal kan kontak maak.
As jy nie so ‘n gemeente in jou omgewing kan kry nie, kontak my en ek probeer help.

Groete,
Sakkie