JESUS CHRISTUS HET VIR ALLE VOLKE EN NASIES DIE HEMEL OOPGEMAAK

JESUS CHRISTUS HET VIR ALLE VOLKE EN NASIES DIE HEMEL OOPGEMAAK

Sakkie Parsons

Iemand het met my gedeel oor ‘n video wat sy gekyk het waar ‘n man Jesus se Evangelie so verdraai het, dat ‘n mens dit maar net ‘n bose evangelie kan noem wat hy verkondig het.
Dit was ‘n evangelie waar haat teen alle mense wat nie dieselfde kleur as hy was nie die hooftema gewees het en dat mense wat nie dieselfde kleur as hy het nie, nie Hemel toe kan gaan nie.

Hier met enkele veranderinge is my antwoord aan haar:

Hier is die gedeeltes uit die Woord van regtig baie wat ek met jou kon deel oor wie in die Hemel gaan wees en vir wie ons, as deel van die tweede rede waarom ons op aarde is, moet probeer help om ook in die Hemel te kom:

MAT 28:19-20 
19 Gaan dan, maak al die nasies my dissipels, (dit soos ek die Woord verstaan sluit geen nasie uit, waaruit daar nie dissipels van Jesus kan kom nie) en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees.
20 Leer hulle (dit is ál die nasies) om alles te gehoorsaam wat Ek aan julle opgedra het. En weet vir
seker: Ek is vir altyd by julle, (dit is almal wat in Sy weë wandel) tot aan die einde van die wêreldgeskiedenis.”

Jesus het vir elke nasie, volk en taal die Hemel oopgemaak na ons VADER:

OPB 5:9  Toe sing hulle ’n nuwe lied met dié woorde:
“U is waardig genoeg
om die boekrol te neem
en sy seëls te breek
omdat U geslag is
en met u bloed
mense vir God vrygekoop het,
uit elke geslag en taalgroep,
volk en nasie.

KOL 3:9-11
9  Moenie vir mekaar lieg nie. (wees opreg en eerlik in julle Christelike lewe) Julle het mos die vorige mens en sy praktyke soos klere uitgetrek
10  en die nuwe mens aangetrek. Hierdie mens kry voortdurend nuwe insig en word só verander en nuut gemaak om al meer soos sy Skepper te lyk. (en met hierdie nuwe insig, sien ons alle mense soos ons onsself as mens sien)
11  In hierdie nuwe lewe is daar nie langer sprake van Griek of Jood, besny of onbesny, ongekultiveerd, barbaar, slaaf of vry man nie. Al wat saak maak, is Christus wat alles in elkeen is.

Die satan weet dat ‘n Christen wat haat in sy of haar hart het, maak nie saak hoe jy daarna kyk nie, nie ‘n werklik goeie verhouding, soos wat Jesus dit wil hê, met Hom het nie en nou gebruik hy mense soos sommige politieke partye en mense in Suid-Afrika en ook oor die wêreld wat boosheid in hulle harte het, om Christene se verhouding met Jesus so te besoedel, dat baie Christene nie eens besef, dat daar ‘n skans tussen hulle en Jesus besig is om op te gaan nie.

Dit is die laaste dae en die aanvalle op ons wie werklik volgelinge van Christus is, word meer en ook meer subtiel ook maar ek moet onthou en sorg dat ek op daardie plek kom:

MAT 22:36-40 
36 “Leermeester,” vra hy, “wat is die belangrikste opdrag in die wet van Moses?”
37  Jesus se antwoord was: “‘Jy moet (dit is ‘n opdrag, nie ‘n opsie nie as jy werklik vir Jesus volg) die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand.’
38  Dit is die eerste en belangrikste opdrag.
39  Die tweede, ewe belangrike opdrag (met ander woorde, wat God aanbetref is hierdie twee opdragte gelyk met dieselfde krag en belangrikheid) is: ‘Jy moet (dit is nie ‘n opsie nie, dit is ‘n opdrag) jou naaste liefhê soos jouself.’
40  Al die ander vereistes van die wet en die profete berus op hierdie twee gebooie.”

Ek voel al deesdae as ek met mense oor hierdie haat wat satan in Christene se harte laat opvlam en wat hy hulle aanhits om die vlamme te vertroetel en met allerlei dinge wat Jesus nie sou rondgestuur het nie, aan mekaar te stuur om die vlamme aan te blaas uit te roep:

GAL 4:16 Het ek nou vir julle ’n vyand geword omdat ek julle eerlik die waarheid vertel?

Want verseker stuur die mense al die ou, foto’s video’s en boodskappe uit die verlede, saam met die nuwe gruwelfoto’s oor die internet nie aan mekaar met die boodskap waarmee Jesus Sy liefdesboodskap vanaf die kruis onderstreep het nie.

Van watter boodskap, wat Jesus vanaf die kruis gebruik het om Sy liefdesevangelie te onderstreep praat ek?

LUK 23:34 Daarop het Jesus gesê: “Vader, vergewe hulle, want hulle besef nie wat hulle doen nie!” Hulle het ook sy klere verdeel deur die lot te werp.

Een van die belangrikste gevolge van haat in ‘n mens se hart wat jy dan ook verkondig en uitlewe wat satan veral godsdienstige mense laat vergeet, ek sê; godsdienstige mense, omdat hulle, die godsdienstige mense dit al baie moes gelees het is:

GAL 6:7-10
7 Moenie ’n fout maak nie. God laat nie met Hom spot nie: (veral, so glo ek dat daar gespot word met Sy liefdesevangelie waarvoor Hy ook toegelaat het dat Sy Seun aan die kruis gaan hang het nie) Wat mense saai, (die haat en veragting wat sommige mense verkondig) sal hulle ook maai!
8 Hulle wat op die land van hulle sondige geaardheid saai, sal op grond daarvan die dood oes, terwyl hulle wat op die land van die Gees saai, op grond daarvan die ewige lewe sal oes.
9 Moet dus nie moeg word om goed te doen nie, want as ons nie tou opgooi nie, sal ons op die regte tyd oes.
10 Terwyl ons die kans het, moet ons dus goeddoen aan alle mense, maar veral aan medegelowiges.

Ek moet ook onthou, dat ek altyd baie meer gaan maai as wat ek gesaai het.
Jy saai een korrel.  Dalk net ‘n bietjie haat, dit is nou as haat ooit net ‘n bietjie kan wees, wat dit nooit is nie – maar jy oes ‘n hele halm vol korrels, dit is ‘n oorvloed van haat en wat daarmee gepaard gaan.

Hoe nader ons aan die koms van Jesus beweeg, hoe moeiliker gaan dit vir die meeste van ons Christene word; “To walk the walk of the talk that we talk.”

Ek vra myself die vraag:
Hoeveel haat moet jy in jou hart vir mense hê wat nie dieselfde volk en taal as jy is nie, as jy in God se Woord lees wat ek hierbo geskryf het en jy verkondig dan nog steeds, dat nét mense wie dieselfde kleur as jy het Hemel toe gaan! 

Wat Jesus se liefdesevangelie aanbetref is daar net een ras; die menseras – die mensdom – wat alle volke en nasies insluit:

JOH 3:16  “God het die mensdom (dit soos ek die Woord verstaan sluit alle mense in) só liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het sodat elkeen (dit soos ek die Woord verstaan, sluit alle mense in, maak nie saak wat jou kleur is nie) wat in Hom glo, nie verlore gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.
JOH 3:17 God het immers nie die Seun na die mensewêreld toe gestuur om die mense te veroordeel nie, maar sodat die mense deur Hom verlos kan word.

Ek sluit dan af met hierdie heerlike wete waaroor jy en ek kan jubel:

God het jou die kleur geskape wat jy is, dit was die kleur waarin jy vir Hom pragtig is en waarin Hy jou wou hê en dit geld vir elke mens wat jy teëkom en enige mens wat neerkyk op die kleur wat jy of enige ander mens is, om dit so te stel, sien neer op God se handewerk en kleur waarin Hy jou geskape het.

Kan jy saam met die haat, die arrogansie sien wat satan gebruik om ‘n skans tussen mense en Jesus en Sy liefde-evangelie op te bou?

GEN 1:27 God het die mens (dit is alle mense) in ooreenstemming met Homself geskep; volgens sy eie beeld het God hulle geskep;  manlik en vroulik het Hy hulle geskep.

Jesus Christus  het toe gekom, nadat die mensdom in sonde verval het en almal verlore was.  Deur Sy kruisdood, die Hemel vir almal in alle volke en nasies oopgemaak.  Hulle, uit daardie volke en nasies wie Hom aanneem as hulle Verlosser en Saligmaker.

So, terwyl jy en ek die liefdesevangelie van Jesus Christus aan alle volke en nasies verkondig:
“Let us walk the walk, of the talk that we talk.”

Groete,
Sakkie