JESUS IS – EK IS – DIE WOORD WAT VLEES GEWORD HET

JESUS IS – EK IS – DIE WOORD WAT VLEES GEWORD HET

Sakkie Parsons

Ek wil iets met jou deel wat jare gelede by my opgekom het en wat ek nou weer tussen, kom ons noem dit maar my argiewe ontdek het.
Lees eers gou die volgende uit die Woord:

JHN 6:16-21 
16  En toe dit aand geword het, het sy dissipels afgegaan na die see toe.
17  En nadat hulle in die skuit geklim het, het hulle oor die see gevaar na Kapérnaüm; en dit was al donker, en Jesus het nog nie by hulle gekom nie.
18  En die see was onstuimig, omdat ‘n sterk wind gewaai het.
19  En toe hulle omtrent drie of vier myl geroei het, sien hulle Jesus op die see loop en naby die skuit kom; en hulle het bang geword.
20  Maar Hy sê vir hulle: Dit is Ek, moenie vrees nie.
21  Toe was hulle gewillig om Hom in die skuit te neem, en dadelik het die skuit by die land aangekom waar hulle na toe gegaan het.

As ‘n mens hierdie gedeelte in Johannes lees, lyk dit op die oog af vir ‘n mens of Johannes baie minder daarvan dink as Mattheus en ook Markus.
Johannes laat sekere feite wat ek selfs baie belangrik sal noem weg.
Soos byvoorbeeld dat Petrus op die water geloop het.
Jy sien, ‘n hele paar mense kan dieselfde gebeurtenis belewe maar na mate wat vir jou belangrik is, sal dit ook wees wat jou by bly.
As ek by my dogter Alta kuier en die Bulle en die Western Stormers speel Rugby teen mekaar, moet ek soms glimlag.
As die skeidsregter blaas en ‘n strafskop aan die Bulle gee, dan dink die Stormers se ondersteuners die skeidsregter ken nie die reëls nie.
As die skeidsregter blaas en hy straf die Stormers, dan dink die Bulle se ondersteuners dat hy oogklappe aan het.
My vrou dink die Crusaders is ‘n wonderlike span maar as hulle teen die Bulle speel, moet ek hoor dat hulle sulke vuil spelers is.

Vir Johannes, so lyk dit vir my, as ek na sy vertelling kyk, was daar iets baie meer belangrik as dat byvoorbeeld Petrus op die water geloop het.

Kom ek wys jou wat ek bedoel:
Ons lees hulle klim in die skuit en vaar weg en toe oorval hierdie geweldige storm hulle.
Kry nou die prentjie in jou gedagtes.
Om hulle is hierdie geweldige stormwind en om hulle en soms ook oor hulle is hierdie geweldige hoë golwe.
Dan, soos hulle in Engels sou sê:
“To top it all”
Volgens Mattheus en Markus verskyn daar toe voor hulle uit die donker nag en hoë golwe ‘n – wat hulle gedink het is ‘n spook.
Hulle het daagliks saam met Jesus gewandel, geëet en geslaap maar hulle word só verblind deur hulle benarde omstandighede, dat hulle nie hulle Here, hulle Verlosser herken nie.
Dan sê Jesus:
“Dit is Ek.”

JHN 6:20  Maar Hy sê vir hulle: Dit is Ek, moenie vrees nie.

Toe, volgens Johannes, is die probleem sommer heeltemal opgelos.
Ons lees:

JHN 6:21  Toe was hulle gewillig om Hom in die skuit te neem, en dadelik het die skuit by die land aangekom waar hulle na toe gegaan het.

Let op:
Johannes noem nie eens dat Jesus die storm stil gemaak het nie.  Hy laat nog ‘n wonderwerk weg.
Want jy sien –
Vir Johannes was daar iets báie meer belangrik in wat hy beleef en ontdek het, as dat Petrus op die water geloop het en selfs dat Jesus die storm stil gemaak het en dit is, dat Jesus gesê het:
“Dit is Ek.”

As ek Johannes se vertelling van die gebeure lees, staan daar vir my twee dinge uit en ek is seker dat dit is ook wat Johannes vir ons wil wys.

Eerstens:
‘n Paar baie bevreesde mense in ‘n storm, in doodsgevaar.
Tweedens:
Jesus wat sê:
“Dit is ek” en al die probleme wat daar was, is opgelos.

JHN 6:21 … en dadelik het die skuit by die land aangekom waar hulle na toe gegaan het.

Want wie is hierdie Jesus wat Johannes ons hier van vertel?

By geleentheid redeneer mense met Jesus:

JHN 8:57  Toe sê die Jode vir Hom: U is nog nie vyftig jaar oud nie, en het U Abraham gesien?
JHN 8:58  Jesus sê vir hulle: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, voordat Abraham was, is Ek.

Jy sien.
Jesus is ook Ek Is wat met Moses in die woestyn gepraat het.

EXO 3:13  Hierop het Moses tot God gespreek: Maar as ek by die kinders van Israel kom en aan hulle sê: Die God van julle vaders het my na julle gestuur, en hulle my vra: Hoe is sy naam? —wat moet ek hulle antwoord?
EXO 3:14  En God sê vir Moses: EK IS WAT EK IS. Ook sê Hy: So moet jy die kinders van Israel antwoord: EK IS het my na julle gestuur.

Jesus is ook Ek Is, die Woord wat vlees geword en onder ons kom woon het.

JHN 1:1  In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God.

JHN 1:14  En die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon—
en ons het sy heerlikheid aanskou, ‘n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom—vol van genade en waarheid.

Glo my as ek vir jou sê, jy het mos nou gesien wat Johannes ons vertel –

Dit maak nie saak hoé groot die storm of hoe hoog die golwe is nie, as jy Jesus, die
Ek Is, die Woord wat vlees geword het, toelaat om in jou lewensbootjie te klim, verdwyn dit in die nuut.  Soveel so, dat ‘n mens nie eens meer daaroor hoef te praat nie.

JHN 6:20  Maar Hy sê vir hulle: Dit is Ek,- moenie vrees nie.
JHN 6:21  Toe was hulle gewillig om Hom in die skuit te neem, en dadelik het die skuit by die land aangekom waar hulle na toe gegaan het.

Groete,
Sakkie