JESUS GENEES OP SY UNIEKE WYSE

JESUS GENEES OP SY UNIEKE WYSE

Sakkie Parsons

Iemand skryf as volg aan my:

“Het Jesus destyds regtig in die man se oog gespoeg of het Hy dit saam modder gemeng en aan sy oë gesmeer?
Dankie.”

Daar is twee gevalle waar Jesus regtig van speeksel gebruik gemaak het in die herstel van iemand se sig en ek deel albei gevalle met jou en soos jy sal sien, antwoord die Woord sommer self jou vraag:

MRK 8:22-26 
22 Toe hulle in Betsaida aankom, het mense ’n blinde man na Jesus toe gebring en gesoebat dat Hy sy hand op hom moes sit en hom gesond maak.
23  Jesus neem die blinde man toe aan die hand en lei hom uit die dorpie. Toe spoeg Hy op die man se oë, sit sy hande op hom en vra vir hom: “Kan jy iets sien?”
24  Die man kyk toe op en sê: “Ja, ek sien mense, maar hulle is baie dof. Hulle lyk soos bome wat rondloop.”
25  Toe het Jesus sy hande weer ’n keer op die man se oë gesit. Sy oë het begin fokus en sy sig is volkome herstel. Hy kon nou alles duidelik sien.
26 Jesus het hom toe beveel: “Gaan reguit huis toe. Moenie indraai dorp toe nie.”

Nou die tweede geval:

JOH 9:6 Nadat Jesus dit gesê het, het Hy op die grond gespoeg en klei met die spoeg aangemaak. Hy het die klei op die man se oë geplak
JOH 9:7  en vir hom gesê: “Gaan was jou in die bad van Siloam.” (Siloam beteken “gestuurde”) Hy het toe gegaan en hom gaan was, en op pad terug kon hy sien!

Jesus het natuurlik glad nie nodig gehad om op hierdie wyse te werk te gaan om die mense weer te laat sien nie.
Want, onthou ek, daar was ook ‘n ander geval waar Jesus ‘n blinde weer laat sien het:

LUK 18:35-43 
35 Jesus het in die omgewing van Jerigo aangekom. ’n Blinde man het langs die pad gesit en bedel.
36  Toe hy die skare hoor wat verbyloop, het hy probeer uitvind wat aan die gang is.
37  Hulle het hom toe vertel dat Jesus van Nasaret besig is om verby te loop.
38  Die blinde het hard uitgeroep: “Jesus, Seun van Dawid, ontferm U asseblief oor my!”
39  Die mense wat vooruit geloop het, het hom bestraf om hom stil te kry, maar hy het eerder nog harder uitgeroep: “Seun van Dawid, ontferm U asseblief oor my!”
40  Jesus het gaan staan en opdrag gegee dat die man na Hom toe gebring moes word. Soos hy naderbeweeg, vra Jesus vir hom:
41  “Wat wil jy hê moet Ek vir jou doen?”  Sy antwoord was: “Here, dat ek net weer kan sien!”
42  Jesus het hom geantwoord: “Sien weer! Jou geloof het jou gered.”
43 Eensklaps het die man weer gesien; hy het Jesus gevolg en God geloof.  Die hele volk wat dit gesien het, het aan God die eer gegee.

Persoonlik dink ek en ek glo dit is onder die leiding van die Heilige Gees, dat ons Here hier vir ons wil sê:
Hy het nie vooraf opgestelde reëls hoe Hy iemand gaan genees soos wat sommige mense dit wil hê nie.
Want jy sien, Sy weë, is nie ons weë nie:

ROM 11:33-36

33 Hoe ongelooflik wonderlik is God nie – hoe ontsaglik ryk en wys en vol kennis is Hy nie!  Sy beslissings gaan ons begrip te bowe;  sy manier van doen kan ons nie deurvors nie.
34 Wie van ons kan regtig verstaan hoe God dink?  Of wie sou as Sy raadgewer kon optree?
35 Of wie sou ooit aan Hom ‘n guns kon bewys vir wie Hy dit sou moes vergoed?
36 Hy is die bron van alles.  Alles bestaan deur Sy krag en alles is op Hom gerig.  Aan Hom behoort die heerlikheid vir altyd en altyd.  Amen.

JES 55:8  “My gedagtes is anders as julle s’n, en julle paaie is nie my paaie nie,” sê die Here.
JES 55:9  “Want soos die hemel hoër is as die aarde, so is wat Ek doen, hoër as wat julle doen, en my gedagtes hoër as julle gedagtes.

Byvoorbeeld:

Vir sommige mense word daar gebid en hulle word dadelik gesond.
Vir sommige word daar gebid maar hulle moet nog steeds voortgaan met die Chemo behandeling vir hulle kanker voor Hy hulle genees en ja, vir sommige soos vir my groot held Paulus, sê Hy: Gaan voort met jou toestand of die omstandighede waarin jy is, want dit is hoe Ek jou wil gebruik om My te verheerlik en vir My te werk.

2KOR 12:7-9
7 … Daarom, sodat ek nie hoogmoedig moet word nie, is aan my ’n doring in die vlees gegee, ’n boodskapper van satan om my te kasty.
8 Drie maal het ek die Here gesmeek dat dit my moet verlaat.
9 Hy het egter vir my gesê: “My genade is genoeg vir jou, want my krag kom juis in swakheid tot volle verwesenliking.”

Vir daardie rede doen ek in my omstandighede met my omstandighede, dit wat ek kan doen en verder hou ek net my oë stip op ons God en Verlosser Jesus Christus:

Met die oog vasgenael op Jesus sal ons nie uitsak nie

HEB 12:1-3 
1 Met so ’n magtige skare toeskouers rondom ons om ons in die wedloop van die geloof dop te hou – kom ons stroop alles af wat ons spoed kan vertraag, veral die sonde wat so maklik ’n houvas op ’n mens kry. Kom ons hardloop met volharding op die baan wat voor ons uitgestrek lê,
2  ons oë vasgenael op Jesus, die Voorganger en Voleinder van ons geloofswedloop. Hy het ter wille van die blydskap wat daar voor vir Hom gewag het, die kruis verduur. Ja, Hy het Hom selfs deur die skande van die kruisdood nie laat afskrik nie. En nou sit Hy op die ereplek langs God op die troon!
3  Dink aan Hom wat soveel vyandigheid van sondaarmense deurstaan het. Dan sal julle nie uitsak en tou opgooi nie.

  
 

Groete,
Sakkie