JESUS HET ALLES REEDS VIR JOU GEDOEN

JESUS HET ALLES REEDS VIR JOU GEDOEN

Skrywer:  Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my ‘n brief en ek deel met jou ‘n gedeelte wat ook ‘n vraag aan my was uit daardie brief:

“Weet jy, hoe meer ek die Bybel lees hoe meer besef ek dat  die wat gered word, bitter min gaan wees en dat ek dit nie maak nie.
Gemeet aan wat die Woord (nie die wet nie) van my verwag en my totale tekortkominge, sit ek die pot mis.
Is daar iemand wat dan reg is?   Is daar iemand wat reg doen en lewe?
Gegewe die nederigheid; as ek nie nederig is nie en nog vleeslike mens is wat dit moet aanleer, en ek is hoogmoedig, haat God my hoogmoed en maak ek dit nie.
Hoe nou??  Ek sterf terwyl ek hoogmoedig is of nie nederig is nie, waarheen gaan ek?”

Ek wil dan begin deur ‘n gedeelte uit jou skrywe aan my uit te lig en dit eers te antwoord
Jy skryf:
“Is daar iemand wat dan reg is?   Is daar iemand wat reg doen en lewe?”
Lees wat sê ons Here se kosbare Woord:

ROM 3:10  Dit is soos die Skrif sê:
    “Niemand is goed nie – selfs nie een nie.

Dan lees ons ‘n bietjie verder die volgende:

ROM 3:21-24 
21 Maar nou het God vir ons ’n ander weg bekendgemaak waardeur ons sy vryspraak kan verkry – nie deur wetsgehoorsaming nie, maar langs die weg waarvan die
Skrif al lankal getuig:
22 God spreek ons vry deur geloof in Christus Jesus en dit geld sonder onderskeid vir almal wat glo.
23 Ons het immers almal gesondig. Ons almal het God beroof van die eer wat Hom toekom.
24 Maar nou spreek God ons in sy genade vry op grond van die verlossing
   wat Christus Jesus vir ons verkry het – en dit sonder enige verdienste van ons kant.

Jy kan niks absoluut niks doen om die ewige lewe te beërwe nadat jy werklik met jou hele hart jou bekeer en Jesus aangeneem het as jou Verlosser en Saligmaker nie.

Alles, letterlik álles wat gedoen moes word om die pad na die hemel vir jou oop te maak, het Jesus reeds gedoen.

EFE 2:4  Maar God, wat ryk is in barmhartigheid, het ons deur sy grote liefde waarmee Hy ons liefgehad het,
EFE 2:5  ook toe ons dood was deur die misdade, lewend gemaak saam met Christus—uit genade is julle gered—

Selfs die feit, dat jy en ek Jesus aangeneem het as ons Verlosser en Saligmaker was ook genade, louter goddelike genade.

Noudat ek deur God se groot genade gered is, nou probeer ek na die beste van my vermoë van al die verkeerd in my lewe ontslae te raak. 

Nie omdat ek daarmee iets kan verdien nie maar uit liefde en om dit so te stel, eerbied en respek vir Hom, omdat ek weet wat Hy verag.

Natuurlik gaan ek dit nie in hierdie lewe heeltemal volkome reg kry nie maar Hy sien in my hart hoe hard en of ek enigsins werklik probeer om Hom in gees en waarheid te dien en of ek werklik leef tot eer en verheerliking van Sy heilige Naam en daarvolgens gaan hy my uit Sy groot genade beloon.

1KOR 3:11-17 
11 Want niemand kan ‘n ander fondament lê as wat daar gelê is nie, dit is Jesus Christus.
12  En as iemand op dié fondament bou goud, silwer, kosbare stene, hout, hooi, stoppels—
13  elkeen se werk sal aan die lig kom, want die dag sal dit aanwys, omdat dit deur vuur openbaar gemaak word; en die vuur sal elkeen se werk op die proef stel, hoedanig dit is.
14  As iemand se werk bly staan wat hy daarop gebou het, sal hy loon ontvang;
15  as iemand se werk verbrand word, sal hy skade ly; alhoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen.
16  Weet julle nie dat julle ‘n tempel van God is en die Gees van God in julle woon nie?
17  As iemand die tempel van God skend, sal God hom skend; want die tempel van God is heilig, en dit is julle.

Verseker wag daar, soos jy nou hier bo gelees het,  vir ons beloning volgens hoe ons in hierdie lewe teen die verkeerd in ons lewe en teen satan gestry het en Jesus onderstreep dit as Hy vir ons sê:

OPB 22:11-14 
11 Wie onreg doen, laat hom nog meer onreg doen; en wie vuil is, laat hom nog vuiler word; en laat die regverdige nog regverdiger word, en laat die heilige nog heiliger word.
12  En kyk, Ek kom gou, en my loon is by My, om elkeen te vergeld soos sy werk sal wees.
13  Ek is die Alfa en die Oméga, die begin en die einde, die eerste en die laaste. (wie deur niemand om die bos gelei sal word nie)
14  Salig is die wat sy gebooie doen, sodat hulle reg kan hê op die boom van die lewe en ingaan deur die poorte in die stad.

Vir so lank as ek lewe, sal ek werk aan dinge in my lewe wat nog nie vir ons Here aanvaarbaar is nie en sommige van my swakhede sal ek heeltemal oorwin en sommige sal ek tot die einde van my lewe hier op aarde aan moet werk.

FIL 3:12-14
12  Nie dat ek dit alles al bereik het, of al klaar volmaak is nie. Maar ek hou aan jaag om dit myne te maak omdat Christus Jesus my Sýne gemaak het!
13  Nee, broers en susters, ek reken self nie dat ek al is wat ek moet wees nie, maar een ding is seker: ek vergeet dit wat agter my lê, en strek my uit na dit wat voorlê.
14  Ek jaag wenpaal toe, na die hemelse prys wat God deur Christus Jesus aan my gee.

Terwyl ek al die tyd my oë stip op Jesus hou vir wie ek volg:

HEB 12:1-3 
1   Met so ’n magtige skare toeskouers rondom ons om ons in die wedloop van die geloof dop te hou – kom ons stroop alles af wat ons spoed kan vertraag, veral
die sonde wat so maklik ’n houvas op ’n mens kry. Kom ons hardloop met volharding op die baan wat voor ons uitgestrek lê,
2   ons oë vasgenael op Jesus, die Voorganger en Voleinder van ons geloofswedloop. Hy het ter wille van die blydskap wat daar voor vir Hom gewag het, die kruis verduur. Ja, Hy het Hom selfs deur die skande van die kruisdood nie laat afskrik nie. En nou sit Hy op die ereplek langs God op die troon!
3    Dink aan Hom wat soveel vyandigheid van sondaarmense deurstaan het. Dan sal julle nie uitsak en tou opgooi nie. 

1JHN 2:1-5 
1  My kinders, ek skryf hierdie dinge aan julle sodat julle nie moet sonde doen nie.  As iemand egter sonde doen, onshet ‘n Helper by die Vader wat ons saak stel, Jesus Christus, die regverdige.
2  Hy is die versoeningsoffer vir ons sondes.  Nie net vir ons sondes nie, maar ook vir dié van die hele mensdom.
3  En hieraan weet ons dat ons Hom regtig ken:  as ons Sy opdragte gehoorsaam.
4  As iemand sê:  “Ek leef in ‘n persoonlike verhouding met God,” maar nie Sy opdragte gehoorsaam nie, voer só ‘n persoon ‘n leuenlewe en het die waarheid nie plek in sy lewe nie.
5 Wie egter sy woord gehoorsaam, in só 'n persoon se lewe het die liefde vir God regtig sy doel bereik. Daardeur weet ons ook dat ons baie nou aan Hom verbind is.

1JOH 1:9 As ons egter ons sondes bely, Hy is betroubaar en regverdig om ons sondes te vergewe en ons skoon te maak van elke verkeerde optrede.

Groete,
Sakkie