JESUS SE MAAGDELIKE GEBOORTE

JESUS SE MAAGDELIKE GEBOORTE

Sakkie Parsons

Iemand het aan my geskryf en gevra, of ek nie iets wil skryf oor die mense wat Jesus se maagdelike geboorte bevraagteken nie.

Hier is dan hoe ek na hierdie saak kyk –

Hoe geweldig skokkend dit ook al vir my is, daar is mense wat hulleself kinders van God noem maar die maagdelike geboorte van Jesus bevraagteken.  Met ander woorde hulle bevraagteken die Woord, of dan anders gestel, vanwaar ek staan en kyk, bevraagteken hulle die geloofwaardigheid van God Almagtig. 

Vir my is dit niks anders as growwe Godslastering nie.

NUM 23:19  God is geen man dat Hy sou lieg nie; of ‘n mensekind dat dit Hom sou berou nie. Sou Hy iets sê en dit nie doen nie, of spreek en dit nie waar maak nie?

Kyk wat sê Jesus van hierdie Woord, of dan Sy Woord – die Bybel wat deur sommige bevraagteken word:

MAT 7:26  En elkeen wat na hierdie woorde van My luister en dit nie doen nie, sal vergelyk word met ‘n dwase man wat sy huis op die sand gebou het.

MAT 7:27  En die reën het geval en die waterstrome het gekom en die winde het gewaai en teen daardie huis aangestorm en dit het geval, en sy val was groot.

Op ‘n ander plek sê Jesus van Sy Woord, die Bybel:

MAT 24:35  Die hemel en die aarde sal verbygaan, maar my woorde sal nooit verbygaan nie.

So, ek gaan nou vir jou net wys wat die Woord, God se Woord, die Bybel, oor Jesus se maagdelike geboorte sê – en elkeen wat dit lees moet dan maar self besluit, of hy/sy dit glo, of dat hy/sy dink God vertel ‘n leuen.

Ek kon natuurlik baie voorbeelde gebruik het maar ek wil nie dat hierdie e-pos te lank word nie en ek wil graag ook ‘n paar voorbeelde gebruik, waar die een testament van die Woord, bevestig wat die ander testament van hierdie saak sê.

MAT 1:22  En dit het alles gebeur, sodat die woord vervul sou word wat die Here deur die profeet gespreek het:

MAT 1:23  Kyk, die maagd sal swanger word en ‘n seun baar, en hulle sal Hom Emmánuel noem, dit is, as dit vertaal word: God met ons.

Die gedeelte wat die evangelis hier kwoteer kom uit Jesaja 7:14.

JES 7:14  Daarom sal die HERE self aan julle ‘n teken gee: Kyk, die maagd sal swanger word en ‘n seun baar en hom Immánuel noem.

Lukas beskrywe die begin van die vervulling van hierdie gebeurtenis as volg.

LUK 1:26-35

26  En in die sesde maand is die engel Gabriël deur God gestuur na ‘n stad in Galiléa met die naam van Násaret,

27  na ‘n maagd wat verloof was aan ‘n man met die naam van Josef, uit die huis van Dawid; en die naam van die maagd was Maria.

28  En die engel het by haar binnegekom en gesê: Wees gegroet, begenadigde! Die Here is met jou; geseënd is jy onder die vroue.

29  En toe sy hom sien, was sy baie ontsteld oor sy woord, en sy het daaroor nagedink wat hierdie groet tog kon beteken.

30  En die engel sê vir haar: Moenie vrees nie, Maria, want jy het genade by God gevind.

31  En kyk, jy sal swanger word en ‘n Seun baar, en jy moet Hom Jesus noem.

32  Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word; en die Here God sal aan Hom die troon van sy vader Dawid gee,

33  en Hy sal koning wees oor die huis van Jakob tot in ewigheid, en aan sy koninkryk sal daar geen einde wees nie.

34  Toe sê Maria vir die engel: Hoe kan dit wees aangesien ek geen man het nie?

35  En die engel antwoord en sê vir haar: Die Heilige Gees sal oor jou kom en die krag van die Allerhoogste sal jou oorskadu. Daarom ook sal die Heilige wat gebore word, Seun van God genoem word.

Toe die Wyse manne vir Herodes van die ster en wat dit beteken vertel het, wou hy die Kindjie doodmaak en het by die owerpriesters en skrifgeleerdes probeer uitvind waar die Kindjie Hom bevind, sodat hy Hom kon laat vermoor:

MAT 2:3-6

3  En toe koning Herodes dit hoor, was hy ontsteld en die hele Jerusalem saam met hom;

4  en hy het al die owerpriesters en die skrifgeleerdes van die volk bymekaar laat kom en by hulle navraag gedoen waar die Christus gebore sou word.

5  En hulle het vir hom gesê: Te Betlehem in Judéa, want so is daar deur die profeet geskrywe:

6  En jy, Betlehem, land van Juda, is volstrek nie die geringste onder die vorste van Juda nie, want uit jou sal ‘n leidsman voortkom wat vir my volk Israel ‘n herder sal wees.

Die profeet se geskrywe wat hier van gepraat word is die volgende:

MIGA 5:1   En jy, Betlehem Éfrata, klein om te wees onder die geslagte van Juda, uit jou sal daar vir My uitgaan een wat ‘n Heerser in Israel sal wees; en sy uitgange is uit die voortyd, uit die dae van die ewigheid.

Hoe wonderlik om te weet dat Hy wat deur ‘n maagdelike geboorte in hierdie wêreld

ingekom het, by geleentheid gesê het:

MAT 11:25  In daardie tyd het Jesus gespreek en gesê: Ek loof U, Vader, Here van die hemel en die aarde, dat U hierdie dinge verberg het vir wyse en verstandige mense en dit aan kindertjies geopenbaar het.

Ek het daar aan die begin vir jou gewys, dat Jesus iemand wat na Sy Woord luister en dit nie wil doen nie, met ander woorde soos ek dit verstaan ook nie wil glo nie, met ‘n dwaas vergelyk.

Nou nadat jy gelees het wat ek vir jou gestuur het, wil ek jou ook wys met wie Jesus iemand vergelyk, wat na Sy Woord luister, of dan in hierdie geval, Sy Woord lees en dit doen, met ander woorde ook glo:

MAT 7:24  Elkeen dan wat na hierdie woorde van My luister en dit doen, hom sal Ek vergelyk met ‘n verstandige man wat sy huis op die rots gebou het.

MAT 7:25  En die reën het geval en die waterstrome het gekom en die winde het gewaai en teen daardie huis aangestorm, en dit het nie geval nie, want sy fondament was op die rots.

Van watter Rots word hier gepraat?

1PET 2:7  Vir julle dan wat glo, is Hy kosbaar; maar vir die ongelowiges geld die woord: Die steen wat die bouers verwerp het, dit het ‘n hoeksteen geword; en: ‘n Steen des aanstoots en ‘n rots van struikeling—

1PET 2:8  vir dié wat hulle daarteen stamp, omdat hulle aan die woord ongehoorsaam is, …

Hoe wonderlik om te weet daar was ‘n nag êrens in Israel waarin ons Here sy engele

na gewone mense soos jy en ek gestuur het, met die wonderlikste nuus van alle tye:

LUK 2:9-12

9  En meteens staan daar ‘n engel van die Here by hulle, en die heerlikheid van die Here het rondom hulle geskyn en groot vrees het hulle oorweldig.

10  En die engel sê vir hulle: Moenie vrees nie, want kyk, ek bring julle ‘n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk sal wees,

11  dat vir julle vandag in die stad van Dawid gebore is die Saligmaker wat Christus, die Here, is.

12  En dit is vir julle die teken: julle sal ‘n Kindjie vind wat in doeke toegedraai is en wat in die krip lê.

Toe, net soos wat die engel vir hulle gesê het, vind hulle die maagd en haar Kindjie

aan wie sy geboorte geskenk het:

LUK 2:15  En toe die engele van hulle weggegaan het na die hemel, sê die herders vir mekaar: Laat ons dan na Betlehem gaan en hierdie ding sien wat gebeur het, wat die Here aan ons bekend gemaak het.

LUK 2:16  En hulle het met haas gegaan en Maria en Josef gevind en die kindjie wat in die krip lê.

Vandag as ek aan hierdie gebeurtenis dink en ek onthou daardie wonderlike

ondervinding wat daardie gewone mense gehad het om daardie Kindjie in die krip te

sien lê –

Dan dink ek aan die heerlike grootse wonder wat ons Here ook in my lewe gedoen

het, wat dit vir my vandag moontlik maak om in groot ekstase dit uit te jubel en as jy

ook Jesus aangeneem het as jou Verlosser en Saligmaker, kan jy hierdie gebed saam met my bid:

“O Here, onse Here.

Baie, baie dankie dat U my pad langs gekom het en my uit die hand van satan geruk het en dat ek vandag met ‘n groot sekere wete dit kan uit jubel –

JES 9:5   Want ‘n Kind is vir ons gebore, ‘n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy is op sy skouer, en Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors—

JES 9:6   tot vermeerdering van die heerskappy en tot vrede sonder einde, …”

Groete,

Sakkie