JESUS TEENOOR DIE BOSE IN ONS LEWE

JESUS TEENOOR DIE BOSE IN ONS LEWE

Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my en wys op ‘n paar uiteenlopende teenoorgesteldes in die Bybel met verklarings deur die skrywer daarvan en vra my, of dit feite is.

Ek deel met jou my antwoord aan die persoon, sonder om weer alles te noem wat die persoon aan my gestuur het.
Wat die Evangelie van Jesus Christus aanbetref:  Die evangelie van Jesus Christus is waar ek op konsentreer in hierdie bediening.

Ek deel dan nou in hierdie skrywe met jou ‘n groot waarheid, wat baie eenvoudig is om te verstaan, gewoon omdat dit deel van ons hele lewe hier op aarde is, vanaf jou en my geboorte op hierdie aarde, tot jou en my uittrede, uit hierdie aarde en dan die hiernamaals.

Vir sommige tot redding en die ewige lewe en vir ander tot die ewige dood in die hel.

Die eenvoudige feit wat jy en ek moet weet is; dat daar in die skepping altyd twee teenoorgesteldes is waar ons van kennis moet neem.

Laat ek verduidelik – en ek gebruik dit ook altyd om aan mense wat nie in die Bybel glo nie, uit te wys dat daar ‘n GOD is voor wie ons almal gaan staan en waar Christene beoordeel gaan word.  Let op, nie veroordeel word nie, omdat ons nie veroordeel kan word nie en ek gee een voorbeeld:

ROM 8:1  Daar is dan nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie, vir die wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees.
ROM 8:2  Want die wet van die Gees van die lewe in Christus Jesus het my vrygemaak van die wet van die sonde en die dood.

Ek het genoem, dat ons almal voor GOD gaan verskyn:

ROM 14:11  Want daar is geskrywe: So waaragtig as Ek leef, sê die Here, voor My sal elke knie buig, en elke tong sal God bely.
ROM 14:12  So sal elkeen van ons dan vir homself aan God rekenskap gee.

2KOR 5:10  Want ons moet almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang wat hy deur die liggaam verrig het, volgens wat hy gedoen het, of dit goed is of kwaad.

Ek het ook genoem: Die eenvoudige feit wat jy en ek moet weet is, dat daar altyd in die skepping in die heelal ‘n teenoorgestelde is.
Kyk, jy kry lig en donker.
Jy kry op en af.
Jy kry soet en bitter.
Jy kry hard en sag.
Jy kry somer en winter.
Jy kry jonk en oud.
Jy kry goed en sleg.
Jy kry lewe en dood

En so kan ek aan en aan en aan gaan maar om die twee wat jy en ek altyd in gedagte moet hou weer aan jou te wys, net die volgende:

Daar is die donker bose.
Hoekom is daar mense van wie ons lees, wat eintlik net so normaal soos jy en ek is –
Wat laat byvoorbeeld ‘n moeder wat, as jy met haar gesels net so normaal soos jy en ek is, haar pasgebore baba in ‘n put toilet gooi?
Wat laat mense wat op die oog af, net so normaal soos jy en ek is, by huise inbreek, byvoorbeeld op plase en dan nie net roof nie, maar dan die inwoners van daardie plaashuis nog wreed martel voor hulle die mense doodmaak?  En jy weet ek kan net aan en aan en aan en aan gaan.
Dit moet iets baie donker, om dit nou mooi te stel, wees wat ‘n mens bogenoemde of een van die ander booshede wat jyself al van gehoor het mense te laat doen.
Wel, ek noem dit satan, die god van die bose
Hierdie satan, die god van die donker, of dan die duister bose het dan ook in die heelal, om dit so te stel, ‘n teenoorgestelde.

Byvoorbeeld:
Wat laat mense hulle lewe waag om ander, sê, uit die see of ‘n brand te red?
Wat laat iemand haar/homself tekort doen om iemand anders te help? (Miskien was jy al een van laasgenoemdes.)
Dit moet mos iets goed wees – en ek noem daardie, met groot respek Iets, my GOD.  Want Hy is die teenoorgestelde van die duister bose.  HY is die lig in die heelal in hierdie wêreld:

JHN 1:1-5 
1 In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God.
2  Hy was in die begin by God.
3  Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie.
4  In Hom was lewe, en die lewe was die lig van die mense.
5  En die lig skyn in die duisternis, en die duisternis het dit nie oorweldig nie.

JHN 1:14  En die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon—en ons het sy heerlikheid aanskou, ‘n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom—vol van genade en waarheid.

JHN 3:16-21 
16 Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het,  sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.
17  Want God het sy Seun in die wêreld gestuur nie om die wêreld te veroordeel nie, maar dat die wêreld deur Hom gered kan word.
18  Hy wat in Hom glo, word nie veroordeel nie; (nou die teenoorgestelde) maar hy wat nie glo nie, is alreeds veroordeel omdat hy nie geglo het in die Naam van die eniggebore Seun van God nie.
19  En dit is die oordeel: dat die lig in die wêreld gekom het, en die mense het die duisternis liewer gehad as die lig; want hulle werke was boos.
20  Want elkeen wat kwaad doen, haat die lig en kom nie na die lig nie, dat sy werke nie bestraf mag word nie.
21  Maar hy wat die waarheid doen, kom na die lig, sodat sy werke openbaar kan word, dat hulle in God gedoen is
.

JHN 8:12  En Jesus het weer met hulle gespreek en gesê: Ek is die lig van die wêreld; wie My volg, sal sekerlik nie in die duisternis wandel nie, maar sal die lig van die lewe hê.

Jy kry dus Lig en Duisternis
Jy kry GOD en die bose
Jy kry Goedheid teenoor Boosheid
Jy kry Ewige Redding of Ewige Verlorenheid

So, as jy dit afsny tot op die been is die volgende waarheid, wat jy en ek van moet weet en deeglik kennis daarvan neem:

LUK 11:34  Die lamp van die liggaam is die oog. As jou oog dan reg is, is jou hele liggaam ook verlig; maar as dit verkeerd is, is jou liggaam ook donker.

Net so is dit met jou gees in jou liggaam gesteld:

LUK 11:35  Pas dan op dat die lig in jou nie duisternis is nie.
LUK 11:36  As jou hele liggaam dan verlig is en nie enige deel het wat donker is nie, sal dit heeltemal verlig wees, net soos wanneer die lamp met sy skynsel jou verlig. (net so sal jou gees ook dan heeltemal verlig word en almal sal Jesus in en deur jou sien)

Daar is ook net een manier wat Jesus, die Lig in hierdie wêreld  in, en deur jou gesien kan word en dit is; as jy HOM wérklik as jou Verlosser en Saligmaker aangeneem het.

As jy Jesus nog nie aangeneem het as jou Verlosser en Saligmaker nie of as dit in jou hart is, dat Hy nog nooit na jou gekom het nie, wel dan kom Hy vandag deur hierdie skrywe na jou en Hy laat jou uit Sy kosbare Woord die volgende lees, wat nou hier waar jy lees aan jou gerig is:

OPB 3:20  Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe en saam met hom maaltyd hou, en hy met My. (jy sal saam met Hom die ewigheid in die hemel deel, wanneer jy uit hierdie lewe die ewigheid in tree)

Dink net –
Almal wat Jesus aangeneem het en deur hierdie lewe Hom volg, totdat hulle hier uittree en die ewigheid intree, Het hierdie heerlike wete:

JHN 10:27-30 
27  My skape luister na my stem, en Ek ken hulle, en hulle volg My.
28  En Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie, en niemand sal hulle uit my hand ruk nie.
29  My vader wat hulle aan My gegee het, is groter as almal; en niemand kan hulle uit die hand van my Vader ruk nie.
30  Ek en die Vader is een.

Groete,
Sakkie