JESUS VERANDER ‘N FOUT IN ‘N TRIOMF

JESUS VERANDER ‘N FOUT IN ‘N TRIOMF

Sakkie Parsons

Ek wil jou iets wys wat ek weer opnuut geleer het en dit is die volgende:

As jy Jesus in jou lewe het, of soos in die geval wat ek jou nou gaan wys, as jy Jesus uitgenooi het om deel van jou lewe te word, met ander woorde, as Hy deel het in jou omstandighede, is dit nooit ‘n werklike probleem as jy per ongeluk fouteer of dan sommer net droogmaak nie.

Lees net hierdie wonderlike verhaal om die volle prentjie van wat ek wil wys te sien.  Ek haal die Skrifte aan uit meer as een Vertaling om dit vir jou uit te lig:

JOH 2:1-11
1 Op die derde dag het daar ‘n bruilof in Kana, in die gebied van Galilea, plaasgevind.  Jesus se ma het dit bygewoon
2 en Hy en sy dissipels was ook na die bruilof toe genooi.
3 Toe die wyn opraak, sê Jesus se ma vir Hom:  “Hulle het nie meer wyn nie.”
4 Jesus se reaksie was:  “Wat het dit met my en jou te doen, Mevrou?  My tyd het nog nie gekom nie.”
5 Sy ma sê toe vir die kelners:  “Wat Hy ook al vir julle sê, moet julle noukeurig gaan doen.”
6 Daar het ses klipkanne gestaan met water wat die Jode vir hulle rituele reiniging gebruik het.  Elkeen het ongeveer 100 liter gehou (twee of drie ankers).
7 Jesus sê toe vir die kelners:  “Maak die kanne vol water!”  Hulle het dit tot heel bo volgemaak. 
8 Toe sê Jesus ook nog vir hulle:  “Skep nou daarvan uit en vat dit vir die seremoniemeester.”  Hulle het dit gedoen.
9 Toe die seremoniemeester die water proe wat wyn geword het, roep hy die bruidegom. (Die seremoniemeester het nie geweet waar dit vandaan kom nie, maar die kelners wat die water geskep het, het dit geweet.)
10 Die seremoniemeester sê toe vir die bruidegom:  “Elke gasheer sit volgens gebruik eers die goeie wyn voor en wanneer die gaste nie meer so goed kan onderskei nie, die swakker gehalte;  jy het egter die goeie wyn tot nou toe teruggehou.”
11 Hierdie eerste wonderteken het Jesus in Kana, in die gebied van Galilea, gedoen.  Hy het sy Goddelike heerlikheid op só ‘n manier sigbaar gemaak, en sy dissipels het in Hom begin glo.

Destyds moes die bruidegom feitlik al die reëlings van die bruilof doen en dit het die drank gedeelte ingesluit.
Duidelik het hierdie bruidegom en heel menslik ook ‘n bietjie uitgehaak met sy gastelys, of dalk het hy so bietjie onder begroot vir die spys en drank. Hoe dit ook al sy, hy het soos my vrou sou sê, ‘n bietjie “opgeslip” met sy reëlings en toe raak hy uit wyn uit op sy bruilof.
Gelukkig was hy bevriend met Jesus en het hy Jesus uitgenooi om deel van hom en sy omstandighede te wees.
Dit kon vir hom katastrofies gewees het as dit rugbaar geword het dat daar nie meer genoeg gewees het om te drink nie. Veel meer so as jy onthou dat die norm destyds was dat ‘n huweliksfees tot sewe dae aangehou het.
Hier is nou die wonderlik heerlikheid van kind van God wees soos wat ek dit al so baie in my lewe ondervind het.
Onthou nou ek praat nie van moedswilligheid nie, want ‘n kind van God behoort nie moedswilligheid in sy binneste te hê nie. Nee, ek praat nou van; fouteer omdat jy ‘n mens is.
Ek moet Jesus uitnooi in my lewe en omstandighede, want dit is presies wat hierdie bruidegom gedoen het:

JOH 2:2 En Jesus en sy dissipels was ook na die bruilof genooi.

Jesus was daar, midde in daardie bruidegom se omstandighede en dilemma.
Kyk nou hoe verander Jesus die bruidegom se dilemma in ‘n, jy kan maar sê, ‘n heerlike triomf –
Nie net gee Jesus vir hom wyn wat beter is as wat hy gehad het nie:

JOH 2:9-10 En toe die hoof dienaar die water proe wat wyn geword het—en hy het nie geweet waarvandaan dit was nie, maar die dienaars wat die water geskep het, het geweet—roep die hoof dienaar die bruidegom10 en sê vir hom: Elke mens sit eers die goeie wyn op en, wanneer hulle goed gedrink het, dan die slegste; maar u het die goeie wyn tot nou toe bewaar.

Hy gee dit in só ‘n oorvloed, ek dink die mense het nog vir maande, as dit nie jare gewees het nie, oor daardie bruilof gepraat en hoe wonderlik dat ons vandag daarvan ken lees.

Daar staan in die HAT, derde druk 2003, dat ‘n anker is ‘n vaatjie wat ongeveer 36 liter hou.

Ons lees:
JOH 2:6 En daar het volgens die reinigingsgebruike van die Jode ses klip kanne gestaan, wat elkeen twee of drie ankers hou.
JOH 2:7 Jesus sê vir hulle: Maak die kanne vol water. En hulle het hul tot bo toe volgemaak.

As my berekeninge nou reg is, het Jesus vir daardie bruidegom, tussen 432 en 648 liter van die beste wyn wat daar is verskaf.
Ek wil uitroep:  “Sjoe! wat ‘n bruilof!!!”

Dit is my ondervinding in my lewe met Jesus, wat ek met jou wil deel:

Ek het al so baie gefouteer, eintlik moet ek sê, sommer “plain” droog gemaak maar as ek opreg vol berou na Jesus gaan en om vergifnis vra, het Hy my nie net gehelp nie maar Hy het my fout om gedraai, tot my voordeel.

So, ek wil jou aanmoedig. Maak Jesus deel van jou lewe en dan kan jy eintlik na jou omstandighede kyk en soos ek dikwels in ekstase saam met Paulus dit uitjubel:

ROM 8:35-39
35  Wie sal ons skei van die liefde van Christus verdrukking of benoudheid of vervolging of honger of naaktheid of gevaar of swaard?
36 Soos geskrywe is: Om U ontwil word ons die hele dag gedood, ons is gereken as slagskape.
37 Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat ons liefgehad het.
38 Want ek is versekerd dat geen dood of lewe of engele of owerhede of magte of teenwoordige of toekomende dinge
39 of hoogte of diepte of enige ander skepsel ons sal kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie.

Al wat jy moet doen, is om jou hart se deur vir Hom oop te maak. Hy wil deel van jou lewe wees en dit is nie te laat om dit te doen nie.
Jy kan dit doen net daar waar jy nou hierdie e-pos sit en lees.

Hy sê nou ook vir jou, as jy dit nog nie gedoen het nie –

OPG 3:20 Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe en saam met hom maaltyd hou, en hy met My.

OPG 3:21 Aan hom wat oorwin, sal Ek gee om saam met My te sit op my troon, soos Ek ook oorwin het en saam met my Vader op sy troon gaan sit het.

Groete,
Sakkie