JULLE HET VAN DIE GENADE VERVAL

JULLE HET VAN DIE GENADE VERVAL

Sakkie Parsons

Iemand skryf as volg aan my na aanleiding dat ek verkondig dat ons nie meer onder die Mosaïese wet is nie:

“Wat beteken die volgende wat Jesus self gesê het dan?:MAT 5:17-20 

17 Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete te ontbind nie. Ek het nie gekom om te ontbind nie, maar om te vervul.
18  Want voorwaar Ek sê vir julle, voordat die hemel en die aarde verbygaan, sal nie een jota of een titteltjie van die wet ooit verbygaan totdat alles gebeur het nie.
19  Elkeen dus wat een van die minste van hierdie gebooie breek en die mense só leer, sal die minste genoem word in die koninkryk van die hemele; maar elkeen wat dit doen en leer, hy sal groot genoem word in die koninkryk van die hemele.
20  Want Ek sê vir julle dat, as julle geregtigheid nie oorvloediger is as dié van die skrifgeleerdes en Fariseërs nie, julle nooit in die koninkryk van die hemele sal ingaan nie. “

Laat ek net gou weer een ding baie duidelik maak:
Ek neem niks van die Mosaïese wet weg nie en ek sit niks by nie maar ek sê wel, dat as jy een van die wette van die Mosaïese wette op jou van toepassing maak, is jy verplig om die hele wet van Moses in alle opsigte te hou.
Ek sê verseker ook, soos ek nou weer gaan poog om te verduidelik, dat ‘n Christen onder geen verpligting is om een van die Mosaïese wette te hou nie.
Ons, na my mening, is nou onder ‘n ander wet, die wet van Christus.
Nou goed.
Ek dink om mee te begin, moet ek eers verduidelik, hoe ek glo, wat dit beteken.

MAT 5:17  Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete te ontbind nie. Ek het nie gekom om te ontbind nie, maar om te vervul.

Jesus het die wet vervul.
Hy het nie een van die wette van Moses oortree nie.  As Hy net een oortree het, sou Hy teen die Vader gesondig het.
Of Hy gesondig het of nie, daaroor lees ons byvoorbeeld.

2KOR 5:21  Want Hy het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom.

Hy het die Mosaïese wet ten volle tot in die fynste kom vervul.  Ja, tot op die offer van Sy eie lewe.
Met die oog daarop, het Hy vir ons ‘n nuwe gebod gegee.
In die plek van die Mosaïese wet, het Hy vir ons Sy liefdeswet gegee.

JHN 13:34  ‘n Nuwe gebod gee Ek julle, dat julle mekaar moet liefhê; soos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê.
JHN 13:35  Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het.

Hoe lyk hierdie “nuwe gebod?”

MAT 22:36-40 
36 Meester, wat is die groot gebod in die wet?
37  En Jesus antwoord hom: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand.
38  Dit is die eerste en groot gebod.
39  En die tweede wat hiermee gelykstaan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.
40  Aan hierdie twee gebooie hang die hele wet en die profete.

As ek hierdie twee gebooie uitleef,  vervul ek, om dit so te stel Jesus se nuwe liefdesgebod wat Hy my gegee het.
Daarom dan ook, dat my groot held Paulus kon skryf:

ROM 13:9  Want dít: Jy mag nie egbreek nie, jy mag nie doodslaan nie, jy mag nie steel nie, jy mag geen valse getuienis gee nie, jy mag nie begeer nie, en watter ander gebod ook al word in hierdie woord saamgevat: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.

As ek nog op die hele, of gedeeltes van die Mosaïese wet sou leun, sou ek, soos ek die Woord verstaan, in effek verkondig, dat Jesus nie werklik die wet, of dan ten minste nie die hele wet van Moses vervul het nie maar ek lees, verstaan en verkondig, dat Christus, die einde van die Mosaïese wet is.

ROM 10:4  Want Christus is die einde van die wet tot geregtigheid vir elkeen wat glo.

Nou, omdat ek in Christus glo, is die Mosaïese wet as sulks nie deel van my aanbidding of lewe nie.

GAL 3:23-25 
23 Maar voordat die geloof gekom het, is ons onder die wet in bewaring gehou, ingesluit met die oog op die geloof wat geopenbaar sou word.
24  Die wet was dus ons tugmeester na Christus toe, sodat ons geregverdig kan word uit die geloof.
25  Maar nou dat die geloof gekom het, is ons nie meer onder ‘n tugmeester nie.

Nou mag daar dalk nog iemand wees, wat tot hier gelees het en steeds vra:
“Behoort ‘n Christen volgens die Mosaïese wet te lewe?”

Vir my persoonlik is die antwoord eenvoudig.
Nee, natuurlik nie.

In die eerste plek, was die Mosaïese wet net vir Israel gegee.
Nêrens in die Bybel lees ek iets wat vir my sê, dat die wet vir iemand anders, soos byvoorbeeld die Christene gegee is nie.
Soos jy hier bo gelees het en ek deel weer met jou een van my voorbeelde, het die wet, wat deur Jesus vervul is nie op my betrekking nie.

GAL 3:23-25 
23 Maar voordat die geloof gekom het, is ons onder die wet in bewaring gehou, ingesluit met die oog op die geloof wat geopenbaar sou word.
24  Die wet was dus ons tugmeester na Christus toe, sodat ons geregverdig kan word uit die geloof.
25  Maar nou dat die geloof gekom het, is ons nie meer onder ‘n tugmeester nie.

Nee!!!
Ek is onder die wet van Christus.

GAL 6:2  Dra mekaar se laste en vervul so die wet van Christus.

Van watter wet van Christus word hier gepraat?

MAT 22:36-40 
36 Meester, wat is die groot gebod in die wet?
37  En Jesus antwoord hom: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand.
38  Dit is die eerste en groot gebod.
39  En die tweede wat hiermee gelykstaan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.
40  Aan hierdie twee gebooie hang die hele wet en die profete.

Hoe kan ek?
Anders gestel –
Hoe is dit moontlik vir my om Christus se wet te vervul, soos ek in Gal 6:2 aangesê word om te doen?
Persoonlik, na alles wat ek in hierdie verband in die Woord lees, lê die antwoord glashelder daar in die laaste gedeelte van Rom 13:8.:

ROM 13:8  … want hy wat ‘n ander liefhet, het die wet vervul.

Ten slotte vir diegene wat voel hulle wil die wet van Moses, of dan uitgesoekte gedeeltes daarvan, nog steeds op hulleself van toepassing maak, net die volgende:

Die wet van Moses, die Mosaïese wet, is nie ‘n klomp losstaande wette, waaruit jy kan kies, hierdie wil ek op my van toepassing maak en daardie nie.
Die wet van Moses, is ‘n eenheid wat nie van mekaar losgemaak kan word nie en daarom, volgens die Woord, ook nie van mekaar losgemaak mag word nie.
Dus, maak jy die een wet uit die Mosaïese wet op jou van toepassing maar oortree die ander een omdat jy dit nie op jouself van toepassing wil maak nie, oortree jy die hele wet en sondig jy dan so moedswillig omdat jy weet wat die Woord oor die wet sê:

JAK 2:10  Want wie die hele wet onderhou, maar in een opsig struikel, het aan almal skuldig geword.

Kan jy sien hoe verskriklik dit is, om te probeer om net gedeeltes uit die Mosaïese wet op jouself van toepassing te maak?
Dan my vriend/vriendin, hoe erg dit ook al is wat jy nou gelees het – Ek het, om dit so te stel, die ergste van so ‘n dwase leefwyse, nog nie met jou gedeel nie.
Lees hier wat sê die Woord nog in hierdie verband:

GAL 5:4  Julle wat geregverdig wil wees deur die wet, is losgemaak van Christus; julle het van die genade verval.

So, as iemand die Mosaïese wet op hom of haar van toepassing wil maak, doen dit.
Jy kry dit in die Woord.  Elke jota en elke tittel en dit sal altyd daar wees en onthou, dat jy die hele Mosaïese wet moet hou. So moet nie moedswillig opsetlik sondig, deur net sommige te hou nie.

JAK 2:10  Want wie die hele wet onderhou, maar in een opsig struikel, het aan almal skuldig geword.

Want oor moedswillige opsetlike sonde sê die Woord baie duidelik:

HEB 10:26  Want as ons opsetlik sondig, nadat ons die kennis van die waarheid ontvang het, bly daar geen offer vir die sondes meer oor nie,
HEB 10:27  maar ‘n verskriklike verwagting van oordeel en ‘n vuurgloed wat die teëstanders sal verteer.

Ekself, leef heerlik onder die liefdeswet van Christus.

GAL 6:2  Dra mekaar se laste en vervul so die wet van Christus.

ROM 13:9  Want dít: Jy mag nie egbreek nie, jy mag nie doodslaan nie, jy mag nie steel nie, jy mag geen valse getuienis gee nie, jy mag nie begeer nie, en watter ander gebod ook al, word in hierdie woord saamgevat: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.

Groete,
Sakkie