JULLE IS MEER WERD AS ‘N HELE SWERM MOSSIES – DEEL 1

JULLE IS VIR HOM MEER WERD AS ‘N HELE SWERM MOSSIES – DEEL 1

Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my die volgende:

“Help asb. As die Here nie “favourites” het nie hoekom is daar dan mense wat meer talente het en ryker is as ander?“

Kom ek gesels eerstens gou met jou oor jou vraag oor rykdom en dan in ‘n opvolg skrywe oor talente:
Jy vra:
“…As  die Here nie “favourites” het nie hoekom is daar dan mense wat … ryker is as ander?“
Die satan is die grootste manipuleerder van rykdom om mense in die hel te kry in die heelal.
Ek meen hy het dan selfs daardie “trick” op Jesus probeer.

MAT 4:8 Vervolgens neem die duiwel Hom na die top van ‘n baie hoë berg en wys vir hom al die koninkryke van die wêreld met hulle prag en praal.
MAT 4:9 Daarop sê hy vir Jesus:  “Dit alles sal ek vir jou gee.  Al wat jy moet doen, is om neer te kniel en my te aanbid.”

Die meeste mense dink dit is ‘n groot seën om aan die mens se standaard gemeet, ryk te wees.

Ek wil egter net noem, en kyk maar na dit wat in die wêreld om jou gebeur (en sluit sommer jouself in by die na wie jy kyk om te sien of dit wat ek nou met jou gaan deel meriete het) en dit is dat hoe meer die mens het, en hier praat ek net van Christene, hoe moeiliker is dit vir die meeste mense om hulle oë op ons Here te hou.

Ek kan nie dieselfde van die mens in die wêreld sê nie, gewoon omdat hulle, soos ek dit uit die Woord verstaan, in elk geval nie hulle oë op ons Here het nie – nie eens die wat dink dat hulle, hulle oë op ons Here het nie.  Want  hulle, dit is nou die mense wat in die wêreld is, het nie vir Jesus aangeneem as hulle Verlosser en Saligmaker nie.
So, hulle bedryf  hoogstens ‘n godsdiens, maar ‘n verhouding met die wáre God het hulle verseker nie.

Terug by die Christene.
Neem maar net in die gewone omgang van die lewe.
Ons is gou om, om dit so te stel, aan die voete van Jesus te lê as dinge moeilik gaan – maar na mate die oorvloed kom, maak die meeste van ons al hoe minder, om dit so te stel, ‘n draai by Jesus.

Ek wil dit wat ek verder in hierdie verband gaan sê, met woorde van Jesus begin en Jesus behoort te weet, want Jesus is God wat mens geword het en wat ook Skepper van die skepping is, ook Skepper van jou en my.

JOH 1:1 Heel aan die begin het die Woord (dit is Jesus) reeds bestaan.
Die Woord (dit is Jesus) was by God, en die Woord (dit is Jesus) was self God.
JOH 1:2 Hy (dit is Jesus) was reeds in die begin by God.
JOH 1:3 Alles het deur Hom (dit is Jesus) ontstaan, en sonder Hom het nie een ding wat bestaan, ontstaan nie.

JOH 1:14 En die Woord (dit is Jesus) het mens geword en by ons kom woon. Ons het sy heerlikheid duidelik gesien, 'n heerlikheid soos dié van die enigste Seun van die Vader,
vol liefdevolle goedheid en waarheid.

Wel hierdie Jesus sê:

LUK 18:24 Toe Jesus sien dat hy so afgehaal lyk, sê Hy: "Hoe moeilik is dit tog nie vir mense wat ryk is aan aardse besittings om aan die koninkryk van God deel te kry nie!
LUK 18:25 Want dit is makliker vir 'n kameel om deur die oog van 'n naald te gaan as vir 'n ryke om aan die koninkryk van God deel te kry."

Ek ken mense wat bely dat hulle Christene is, wat baie harder daaraan werk om ryk te word of ryk te bly, as wat hulle daaraan werk om ‘n beter verhouding met Jesus te hê en as Christen hulle lig vir Jesus te laat skyn.

Jesus sê by geleentheid:

LUK 12:15 Toe het Hy gesê: "Pas op! Moenie gierig wees nie. Ware lewe word nie gemeet aan hoeveel ons besit nie."

Die satan kan en het al geld en of rykdom gebruik om menige persoon so ver te kry om hulle rug op ons Here te draai en hel toe te stap – en die meeste van hulle het dit nie eens agtergekom dat hulle op pad hel toe is nie, totdat hulle, hulle oë, soos die ryk man van wie Jesus ons ook vertel, sy oë in die hel oopgemaak het.

Buiten vir die ooglopende geval van Judas Iskáriot, skryf my groot held Paulus by geleentheid:

1TIM 6:9 Maar mense wat begeer om ryk te wees, val in versoeking en trap in die strik van baie dwase en skadelike begeertes wat hulle in die verderf en ondergang stort.

1TIM 6:10 Want die liefde vir geld is die wortel van alle soorte kwaad. En sommige mense wat geld begeer, het weggedwaal van die geloof en hulleself met baie ellende deurboor.

Sê ek nou ons mag nie poog om ryk en gemaklik te lewe nie?
Nee natuurlik nie, maar my eerste prioriteit moet altyd wees en altyd so bly:

MAT 6:19 “Moenie vir julle hier op aarde skatte bymekaarmaak waar motte en roes dit wegvreet en diewe inbreek en roof nie.

MAT 6:20 Maak vir julle skatte in die hemel bymekaar waar geen mot en roes dit sal kan bykom nie, en waar diewe nooit sal kan inbreek en roof nie.

MAT 6:21 Onthou, waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees.

Jy sien, dit is waar die meeste mense, ook Christene, die fout maak.
Hulle prioriteite skuif baie vinnig na die skatte wat deur mot en roes verwoes gaan word en dit word en bly dan altyd hulle prioriteit.  Soveel so, dat hulle kan begin dink, dat ons Here mense wat ryker as hulle is, bo hulle voortrek, wat soos ek hoop ek jou sal kan wys nooit so is nie.

So, wat is die oplossing vir hierdie dilemma waarmee die meeste mense worstel?

Jesus self gee ons in sulke heerlik eenvoudige woorde die antwoord.

MAT 6:33 “Nee, maak die koningsheerskappy van God en dit wat voor Hom reg is, julle heel eerste prioriteit, dan sal God vir julle al hierdie ander dinge as ‘n bonus byvoeg.”

In ‘n ouer vertaling lees hierdie gedeelte so:

MAT 6:33  “Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.”

Daar is ‘n ou Afrikaanse gesegde wat min of meer so gaan:
“Maak seker dat jy die perd wat jy opsaal, sal kan ry.”

Hoe kan ek weet of my ingesteldheid  in my lewe van so ‘n aard is, dat ek rykdom sal kan hanteer?
Wel, vra jouself die volgende eenvoudige vrae:

*Is my verhouding met Jesus werklik die belangrikste in my lewe?
*Op wat spandeer ek op die oomblik die meeste van my tyd en vermoëns – (En ek praat hier veral van my innerlike)
Is dit op dié dinge ens wat tydelike waarde het, of is dit op dié dinge wat ewigheidswaarde het?”

Dan onthou jy weer Jesus se woorde toe Hy gesê het:

LUK 18:24 Toe Jesus sien dat hy so afgehaal lyk, sê Hy: "Hoe moeilik is dit tog nie vir mense wat ryk is aan aardse besittings om aan die koninkryk van God deel te kry nie!

LUK 18:25 Want dit is makliker vir 'n kameel om deur die oog van 'n naald te gaan as vir 'n ryke om aan die koninkryk van God deel te kry."

Asook:

MAT 6:33 “Nee, maak die koningsheerskappy van God en dit wat voor Hom reg is, julle heel eerste prioriteit, dan sal God vir julle al hierdie ander dinge as ‘n bonus byvoeg.”

Dan, voordat jy besluit om die rykdom perd met jou Christelike saal op te saal, maak eers werklik seker dat jy die toestemming van ons Here het.  Want self weet jy nie of jy daardie perd tot aan die einde van jou lewe hier op aarde sal kan ry nie en jou ewige lewe is op die spel.

Toe Jesus hier op aarde gewandel het, soos ek die Woord verstaan, was daar wonderlike vermoënde volgelinge van Hom wat dwarsdeur Sy lewe hier op aarde Hom en Sy dissipels versorg het.
Een het selfs sy eie graf vir Jesus se begrafnis gegee maar hulle kon die rykdom waarmee ons Here hulle geseën het, hanteer.

So, alhoewel daar lieflike ryk Christene is (en ek het die eer om ‘n paar te ken), het ek ook in my lewe gesien hoe die rykdom-perd baie mense wat bely het dat hulle Christene is, uit die Christen saal waarmee hulle die rykdom perd opgesaal het, binne in die arms van satan gegooi het.

Seker, so glo ek ook daarom, dat ons Here in Sy groot liefde nie een finansiële ryk apostel daar aan die begin gehad het nie.
Soos dit was, was hulle stryd al groot genoeg en buiten vir Judas en ons weet die, om dit so te stel, rykdom perd  het hom van sy rug af tot in die hel gegooi.
So ver ons uit die getuienis uit die Woord weet, het nie eens een van die ander daaraan gedink om by alles wat hulle reeds moes hanteer, nog die rykdom-perd ook op te saal nie.

Onthou nou, dat ek nie sê om ryk te wees is uit die bose nie.
Verseker sê ek dit nie.
Wat ek wel verseker sê is dit:

Moet nie die rykdom perd sonder die toestemming van ons Here opsaal nie, want jy weet nie of jy hom enduit sal kan ry nie.

Jy en ek is God se kinders, kom ons vertrou en dien Hom met ons lewens en wat Hy in ons lewens toelaat.

As dit rykdom is, prys die Naam van die Here en as dit nie rykdom is nie, prys die Naam van die Here.
Omdat ons met groot vrede in ons harte onthou:

MAT 10:29 “Julle weet dat twee mossies vir ‘n skamele sent verkoop word,  Tog beland nie een van hulle hulpeloos op die grond sonder dat julle Vader daarvan weet nie.

MAT 10:30 Wat julle betref, is elke haar op julle kop getel.

MAT 10:31 Wees daarom nie bang nie.  Julle is vir Hom meer werd as ‘n hele swerm mossies.”

Groete,
Sakkie