JULLE IS MEER WERD AS ‘N HELE SWERM MOSSIES – DEEL 2

JULLE IS VIR HOM MEER WERD AS ‘N HELE SWERM MOSSIES – DEEL 2

Sakkie Parsons

In my vorige skrywe in hierdie kort reeks van 2 gedagtes uit die Woord, het ek met jou begin deel oor my antwoord aan iemand wat as volg aan my geskryf het:

“Help asb. As  die Here nie “favourites” het nie hoekom is daar dan mense wat meer talente het en ryker is as ander?“

In my antwoord toe op die gedeelte uit die persoon se vraag naamlik:
“…As  die Here nie “favourite” het nie hoekom is daar dan mense wat … ryker is as ander?“ het ek toe gewys, so glo ek, dat nie alle mense rykdom kan hanteer nie en as dit by ons Here se kinders kom, weet Hy wie Hy met wat en hoeveel daarvan kan vertrou. As jy dan tog jouself met rykdom wil oorlaai, jy net moet onthou, dat soos daardie ou Afrikaanse gesegde gaan, jy net seker by ons Here moet maak, of jy daardie rykdom perd maar kan opsaal, want jy saal ‘n perd op waar die meeste Christene nie lank in die Christen-saal op daardie perd bly sit nie.

Vandag wil ek so ‘n bietjie oor talente ens praat en dan wil ek deur die gelykenis oor die talente net weer uitwys, dat dit nie is, dat ons Here sommige mense voortrek nie maar dat ons Vader, juis omdat Hy ons Vader en ons Sy kinders is, Hy ons en ons vermoëns baie goed ken en Sy doel is, om so ver dit van Hom afhang, ons in die Hemel te kry- al moet dit dan vir van ons ‘n moeilike pad wees om te loop.

Anders as die prosperity preachers ons graag wil laat glo omdat, om dit so te stel, dit hulle sakke pas, leer die Woord my dat ons Here eerstens my by Hom in die Hemel wil kry en as dit vanweë die mens se sondige geaardheid dan so moet wees, dat ek sonder rykdom of baie talente, soms onder moeilike omstandighede deur hierdie lewe moet gaan, wel dan moet dit maar so wees, omdat ek en hoe heerlik van een ding baie seker kan wees:

ROM 8:28 En ons weet dat God alles ten goede laat saamwerk vir hulle wat Hom liefhet, hulle wat geroep is volgens sy doel vir hulle lewe.

Nou oor ons talente:

In die gelykenis van die talente, sien ek hoe die man aan mense gee soos wat hulle vermoëns is.
Jy kan dit self gaan lees daar vanaf Matteus 25:14.  Ek gaan net die gedeeltes kwoteer wat na my mening vir hierdie skrywe relevant is.

Vir een gee die man volgens Jesus 5 talente.  Vir een 2 talente en vir ‘n derde net 1 talent.
Twee van die diensknegte maak 100% profyt met dit wat aan hulle toevertrou is en een maak geen wins nie.
Die eerste twee diensknegte het, om dit so te stel, die maksimum bereik met dit wat aan hulle toevertrou is, naamlik 100%
Let nou op dat die eerste twee diensknegte, alhoewel hulle nie dieselfde hoeveelheid in waarde aan hulle heer kon oorhandig nie, hulle presies dieselfde lof van hulle heer ontvang het.
Ons lees dat hulle heer aan die eerste een sê:

MAT 25:21 Die eienaar het hom geprys en gesê: 'Uitstekend! Jy is 'n voortreflike slaaf; een op wie ek kan staatmaak. In die kleine het jy jou betroubaar bewys. Daarom gaan ek nog baie groter verantwoordelikhede aan jou toevertrou. Kom vier saam met my fees!'

In die tweede dienskneg se geval sê sy heer:

MAT 25:23 Die eienaar het hom geprys en gesê: 'Uitstekend! Jy is 'n voortreflike slaaf; een op wie ek kan staatmaak. In die kleine het jy jou betroubaar bewys. Daarom gaan ek nog baie groter verantwoordelikhede aan jou toevertrou. Kom vier saam met my fees.'

Jy sien:
Uiteindelik was die een dienskneg nie minder belangrik as die ander een vir hulle heer nie.
Hulle het gedoen wat van hulle verwag was.   Hulle het na die beste van hulle vermoë gedoen dit wat hulle kon, met dit wat hulle heer aan hulle toevertrou het, omdat hulle Here elkeen se vermoëns geken het.

Daar is baie lesse in hierdie gelykenis oor die talente maar vir die relevansie van hierdie skrywe, terwille van die vraag wat aan my gevra was, deel ek met jou die volgende:

(1)       Ons Here gee nie noodwendig vir al Sy kinders dieselfde hoeveelheid talente nie, gewoon omdat nie almal dieselfde bekwaamheid/vermoë/bevoegdheid of aanleg het nie.
(2)       Maak nie saak wat my talent is nie, as Christen/dissipel van Jesus, behoort ek eerstens altyd daarna te strewe, om my talent tot eer van Hom te gebruik.
(3)       Ons Here sal ons beoordeel volgens dit wat ons bereik het met dit waarmee Hy ons    geseën het.
(4)       Mense sal nie net geoordeel woord oor wat hulle verkeerd gedoen het nie.  Hulle sal ook veroordeel word, omdat hulle nagelaat het om te doen dit wat reg is.

Dink maar aan die ryk man in die verhaal van die ryk man en Lasarus.
Nêrens lees ons dat hy ‘n verkeerde en of sondige lewe geleef het nie maar tog het hy sy oë in die hel oopgemaak.
Hy is nie in die hel oor wat hy gedoen het nie.
Hy is in die hel oor wat hy nie gedoen het nie.
Byvoorbeeld, hy het nie Jesus aangeneem as sy Verlosser en Saligmaker nie.

(5)     Dink ook ‘n bietjie hieroor:
As die dienskneg wat die een talent ontvang het, om dit so te stel, in die hel gewerp was
alhoewel hy niks sleg met sy talent gedoen het nie, wat kan diegene verwag wat hulle
talente misbruik, en al is dit net soms, hulle talente tot ons Here se oneer misbruik?

Dan moet ons natuurlik ook nie mense se talente en geestelike gawes verwar nie.
Die een gesamentlike ooreenkoms tussen die twee is, dat albei ontvang die mens van ons Here af – maar talente kry jy by alle tipe mense, of hulle Jesus aangeneem het as Verlosser en Saligmaker en of hulle dit nie gedoen het nie.
‘n Goddelike geestelike gawe, kry jy net, as jy Jesus Christus aangeneem het as jou Verlosser en Saligmaker.

1 KOR 12:4-11
4 Daar is 'n hele verskeidenheid geestelike gawes, en tog kom hulle van dieselfde Gees.
5 En daar is 'n hele verskeidenheid bedienings, maar ons dien dieselfde Here.
6 Daar is talle aktiwiteite in die gemeente, maar dit is dieselfde God wat al hierdie dinge kragtig in ons almal aktiveer.
7 Elkeen van ons ontvang 'n manifestasie van die Gees om die gemeente te bevoordeel.
8 Aan die een gee die Gees die bekwaamheid om goddelike wysheid te verkondig, aan 'n ander gee Hy die gawe van spesiale kennis.
9 Aan iemand anders gee hierdie selfde Gees 'n heel besondere geloof, aan nog een gee Hy gawes van genesing,
10 aan 'n volgende een die vermoë om wonders te verrig, aan 'n ander die gawe van profesie, aan nog een die vermoë om te onderskei tussen geeste,
aan iemand anders die gawe van praat in tale, aan nog een die bekwaamheid om die tale uit te lê.
11 Dit is een en dieselfde Gees wat al hierdie gawes bewerk en wat aan elkeen uitdeel soos Hy dit goedvind.

Wat jy en ek moet doen, is om daaraan te werk dat ons so na aan Jesus deur hierdie lewe beweeg as moontlik.
Want hoe verder van Hom af jy Hom volg, hoe minder kan en sal jy vir Hom wil doen en hoe minder natuurlik sal jy jou talente of gawes vir Hom gebruik.
Daarom skryf my groot held Paulus ook by geleentheid:

1 KOR 3:11-15
11 Want niemand kan 'n ander fondament lê as die een wat alreeds gelê is nie – Jesus Christus.
12 As enigiemand op daardie fondament bou, kan hy goud gebruik of silwer of edelstene of hout of hooi of stoppels.

Dit hang net af van hoe groot of klein die afstand tussen jou en Jesus is waarop jy volgens jou eie getuienis, Hom volg.

13 Daar kom egter 'n dag wanneer die kwaliteit van elkeen se werk aan die lig sal kom, want die vuurtoets sal dit bekendmaak. Dié vuurtoets sal elkeen se werk beproef – of dit standhou.

14 Die mense wie se bouwerk standhou, sal deur God beloon word.

15 Maar die mense wie se bouwerk deur die vuur verteer word, sal skade ly, alhoewel hulle self gered sal word. Hulle sal egter wees soos mense wat
op die laaste oomblik uit 'n brand gered word.

So, of ek volgens ons Here se siening van my bekwaamheid/vermoë/bevoegdheid of aanleg, ryk of arm is.
Of ek baie of min talente het.
Of ek net een of dalk meer as een geestelike gawe het.
Van hierdie feit kan ek as kind van ons Here baie, baie seker wees:

OPB 22:12 Jesus sê: "Kyk, Ek kom gou! My loon kom saam met My om almal te beloon volgens wat hulle gedoen het.

Groete,
Sakkie