JY HET ‘N KEUSE WAARNATOE JY WIL GAAN

JY HET ‘N KEUSE WAARNATOE JY WIL GAAN
 

Sakkie Parsons

Iemand skryf ‘n baie eerlike brief aan my en onder andere skryf die persoon:

“Ek is bekommerd oor die soewereine wil van God vir my.
Beteken dit, dat as Hy besluit het ek gaan hel toe dan kan niks dit verander nie?
Hoekom ek vra is, ek wil eerlik wees met oom, ek sukkel om rêrig met mense oor die weg te kom, ek is nie 'n mens-mens nie. Ek help nie sommer graag mense nie want dit voel of mense jou net gebruik en dan seer maak.
Dis baie lelike eienskap.
Al sulke goed weet ek, ek is ongehoorsaam.  Moet ek net aanhou smeek by God om my te help om in die Hemel te kom?”

Ek deel graag met jou my antwoord aan die persoon:

God se soewereine wil wat die redding van die mens aanbetref is volgens wat ek die Woord verstaan baie, baie duidelik en dit is dat God graag sou dat alle mense wie Hy geskep het, in die Hemel moet wees:

JHN 3:16  God het die mensewêreld (dit is alle mense in Sy skepping) só liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.
JHN 3:17 God het immers nie die Seun na die mensewêreld toe gestuur om die mense te veroordeel nie, maar sodat die mense (dit is almal wat Jesus Christus aangeneem het) deur Hom gered kan word.

Die meeste van ons egter, omdat ons Here ons ook ‘n wil van ons eie gegee het, verander soms ‘n bietjie aan Sy soewereine wil en soms baie en soms sommer geheel en al. Soveel so, dat die meeste mense die plek wat Hy vir ons in die Hemel gereed het verruil vir ‘n plek in die hel.
In hierdie verband sê Jesus self, terwyl Hy op pad is om op Golgota dit vir ons almal moontlik te gaan maak om in die Hemel vir ewig saam met Hom te wees, die volgende:

MAT 7:13 “Gaan die koninkryk deur die nou poort binne.  Want wyd is die poort, en breed is die pad wat na ondergang lei, en daar is massas mense wat daar ingaan.
MAT 7:14 Hoe bitterlik nou is die poort, en hoe smal is die pad na die lewe nie!  Min is die mense wat dit kry!”

Van watter ‘nou poort’ en/of ‘deur/hek’ praat Jesus hier?

JOH 10:7  Toe het Jesus weer ‘n keer gesê:  “Ek verseker julle, Ek is die hek vir die skape.

Op ‘n ander plek sê Jesus hierdie woorde wat enige ander sienswyse of verklaring sinneloos onsinnig maak:

JHN 14:6  Daarop het Jesus gereageer:  “Ek is die pad en die waarheid en die lewe.  Niemand kom by die Vader uit behalwe deur My nie.”

Dus, soos wat ek die Woord verstaan, besluit God nooit dat hierdie of daardie persoon hel toe moet gaan nie.  Die mens besluit met die wil waarmee ons Here haar/hom geskep het -“Ek gaan nie vir Jesus aanneem as my Verlosser en Saligmaker nie” en God respekteer net die wil van die mens.

Omdat Hy ons ‘n wil van ons eie gegee het en ons nie God se marionette is nie maar Sy kinders, het ons die vermoë om te besluit of ons Jesus deur hierdie lewe die graf in en anderkant uit wil volg en so op die nou pad Hemel toe is, as ons hierdie lewe uittree en of ons op die breë pad wil voortgaan en uit hierdie lewe die hel in wil ploeter.

Dan ook, wat jy gevra het:
Ja, Natuurlik behoort ons gedurig vir ons Here te vra, of dan om jou woorde te gebruik, “te smeek” om ons te help om nader, steeds nader aan Hom en Sy wil in ons lewe te beweeg maar ekself moet ook daagliks my eie wil gebruik om daaraan te  werk dat satan nie sý wil met my kry nie en so moet ek strewe om ons Here se liefdeswet vir my uit te lewe:

MAT 22:36-40
36 “Leermeester,” vra hy, “wat is die belangrikste opdrag in die wet van Moses?”
37 Jesus se antwoord was:  ‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand.’
38 Dit is die eerste en belangrikste opdrag.
39 Die tweede, ewe belangrike opdrag is:  ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’
40 Al die ander vereistes van die wet en die profete berus op hierdie twee hoof gebooie.”

ROM 13:8  Betaal alles wat julle verskuldig is, maar die een rekening wat julle altyd verskuldig sal bly, is om mekaar lief te hê.  As jy  jou naaste liefhet, vervul jy die wet.

Ek het in my lewe ondervind, dat hoe nader ek aan hierdie liefdesbeginsel van ons Here beweeg hoe harder probeer satan om die teenoorgestelde in my lewe ’n werklikheid te maak.

Dit kan egter ook nou nie juis anders nie, want na alles moet satan met die bietjie tyd tot sy beskikking so veel mense as moontlik probeer kry om die teenoorgestelde van hierdie wet uit te lewe en so op die breë pad na die hel voort te strompel en jy hoef maar net om jou te kyk om te sien hoe suksesvol hy is maar hier is die groot heerlikheid in hierdie hele opset –

Jy en ek hoef nie deel van die statistieke van hierdie sukses van satan met mense in die wêreld te wees nie.
Ons moet maar net in gehoorsaamheid van Jesus te lewe en natuurlik gaan satan dit juis deur middel van veral mense vir jou en my so moeilik as moontlik maak maar hoe heerlik om te weet dat ekself die mag deur ons Here gegee is om my eie besluit in hierdie verband in gehoorsaamheid aan Sy Woord te maak:

JHN 10:27-30 
27 “My skape luister na my stem, en Ek ken hulle, en hulle volg My.
28  Ek sal ook die ewige lewe aan hulle gee, en hulle sal so nimmer as te nooit verlore gaan.  Niemand sal hulle uit my hand steel nie.
29  My Vader, wat hulle aan My gegee het, is magtiger as almal, en niemand kan hulle uit die hand van die Vader steel nie.
30  Ek en die Vader is een.”

Sien jy?
Niemand maar niemand anders in hierdie heelal kan jou uit die hand van ons Here ruk nie. 
Moet jy nou net nie jouself met die wil wat jy het omdat jy na Sy beeld geskape is, jouself uit Sy arms los draai nie – want dit is die enigste wyse wat jy uit Sy arms kan beweeg.  Want jy, omdat jy na Sy wil geskape is, het ‘n wil van jou eie wat Hy respekteer, net soos wat Hy verwag, dat jy Sy wil sal respekteer.

Dan terwyl ons hierdie groot sekerheid het, dat niemand ons uit ons Here se hand kan ruk nie,  en ons kyk so na die mense om ons, laat ons dan ook onthou wat ons Here in hierdie verband onder andere aan ons laat skryf het, veral in die lig dat jy sê, dat jy nie ‘n mens-mens is nie:

GAL 6:7-10 
7 Moenie ‘n fout maak nie.  God laat nie met Hom spot nie:  Wat mense saai, sal hulle ook maai!
8  Hulle wat op die land van hulle sondige geaardheid saai, sal op grond daarvan die dood oes, terwyl hulle wat op die land van die Gees saai, op grond daarvan die ewige lewe sal oes.
9 Moet dus nie moeg word om goed te doen nie, want as ons nie tou opgooi nie, sal ons op die regte tyd oes.
10 Terwyl ons die kans het, moet ons dus goeddoen aan alle mense,maar veral aan medegelowiges.

Groete,
Sakkie