JY MOET DUS NOOIT SKAAM WEES OM ANDER VAN ONS HERE TE VERTEL NIE

JY MOET DUS NOOIT SKAAM WEES OM ANDER VAN ONS HERE TE VERTEL NIE.

Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my oor ‘n, om dit so te noem, ‘n vete wat tussen haar en iemand anders bestaan maar die ander persoon is nie ‘n Christen nie en sy glo nie dit gaan werk  as sy die minste is en na die persoon toe gaan nie.

So sy glo nie die kool is die sous werd, om met die persoon te gaan praat nie.

Hier volg dan hoe ek hierdie soort omstandighede in my eie lewe sou probeer hanteer het:

Dit gaan nie hier oor of die kool die sous werd is nie – maar oor ek, wat getuig dat ek ‘n kind van ons Here is, en as ons Here my Vader is, behoort die familie ooreenkoms tussen Hom en myself gesien te kan word.

As ek bely dat ek ‘n kind van ons Here is, behoort ek te begin, deur van my kant af te sorg dat eerstens, daar niks tussen my en my Here staan nie:

MAT 5:23  As jy dus jou offer na die altaar toe bring en dit val jou daar by dat jou medemens ‘n grief teen jou koester,  (of jy onthou, dat jy iets teen hom het)

MAT 5:24  los jou offer net daar voor die altaar en gaan maak eers vrede (of versoen jou) met daardie persoon.  Kom dan terug en bring jou offer. (dan sal jou gawe aanneemlik vir ons Here wees en sal jou verhouding met jou Vader ook wees wat dit behoort te wees.)

Met ander woorde:

ROM 12:18  Sover dit vir julle moontlik is, moet julle goeie verhoudings handhaaf met alle mense.

Rom 12:19  Geliefdes, julle moet julleself nie wreek nie.  Laat die straf aan God oor:  Daar staan mos in die Skrif:      ‘Dit is my reg om te straf;  Ek sal vergeld, sê die Here.’

Asook:

FIL 4:8  Ten slotte, liewe broers en susters, beplan alles wat waar, eerbaar, skoon (rein) suiwer, lieflik en lofwaardig is.

Soos wat ek die Woord verstaan en praktiese ondervinding na my bekering van meer as oor die 44 jaar in my eie lewe het, wil ek dan nou die volgende met jou deel:

Van ons – as kinders van ons Here – word op ons reis deur hierdie lewe na ons eindbestemming, deur ons Here verwag, om op te tree soos wat die mense in die wêreld nie sál of kán optree nie.  Want jy sien –

Wáre Christen wees, is nie vir sussies nie maar dan ons kan nooit sussies wees nie.  Ons is ons Here se soldate en wat meer is, Hy het ons elkeen, om dit so te stel, met die hand uitgesoek.

2TIM 1:9  Dit is God wat ons gered en gekies het om ’n toegewyde (heilige) lewe te lei.   Hy het dit gedoen, nie omdat ons dit verdien het nie, maar omdat dit sy plan was lank voor die begin van die wêreld, naamlik om sy onverdiende goedheid aan ons te bewys deur Christus Jesus.

Nie net het Hy ons as Sy soldate, soos ek genoem het, met die Hand uitgesoek nie maar Hy, ons Aanvoerder, het aan ons die voorbeeld in hierdie saak gestel:

2TIM 1:10  En nou het Hy dit alles aan ons duidelik gemaak deur die koms van Christus Jesus, ons Verlosser, wat die mag van die dood verbreek het en aan ons, deur die Goeie Nuus, die weg gewys het na die onverganklike lewe.

So my vriend en vriendin wat hier lees –

Doen wat gedoen moet word want:

2TIM 1:7  Want God het ons nie ’n gees van (geestelike) skugterheid gegee nie, maar van krag, liefde en selfbeheersing.

2TIM 1:8  Jy moet dus nooit skaam wees om om ander van ons Here te vertel nie.

Ek het ook in hierdie verband, “Handhaaf ‘n voorbeeldige leefstyl onder die nie-Christene” geskryf wat handel oor die gedagte wanneer ek moet ophou praat en ‘die stof van my voete moet afskud’ wat ek met groot graagte op jou versoek aan jou stuur.

Groete,

Sakkie

E-pos:  bediening@sakkieparsons.co.za