AS JY VOLKOME VREDE WIL HÊ

AS JY VOLKOME VREDE WIL HÊ

Sakkie Parsons

Ek wil vandag begin met ‘n vraag:
 

Hoekom het baie van ons sulke ondinge soos Blou Maandae?
Hoekom is so baie van ons onvergenoeg?
Hoekom het so baie van ons nie werklik vrede nie?

Ek dink die antwoord is die volgende:

Ons kyk nie geestelik nie en omdat ons nie reg kyk nie, sien ons nie reg nie en omdat ons nie reg sien nie, verval ons in wanhoop.

Nou praat ek geestelik.
Ek wil jou vandag aanmoedig om jou kop geestelik op te lig en in die gees te kyk en Jesus te sien, want jy sien, dit is moontlik om Jesus te sien en wat meer is, as jy Jesus raaksien word die lewe ‘n fees.

Dit maak nie saak hoe groot, wat jy dalk die ‘gemors’ noem, om jou is nie.
Dit maak selfs nie saak hoe swak jou omstandighede is nie.  As jy in jou gees opkyk, sal jy Jesus kan sien en volkome vrede hê.

Miskien klink dit vir jou net te goed om waar te wees.  So kom ek vertel jou van een van die beste voorbeelde, van iemand wat in die mees wanhopigste omstandighede gewees het, waarin ‘n mens seker kan beland – en opgekyk het en met sy geestelike oë Jesus gesien het en volkome vrede gehad het.

Eintlik gaan ek jou nie vertel nie.  Jy kan dit sommer self lees:

HAN 7:54-60 Toe hulle dit hoor, het hulle op die tande gekners want hulle was briesend kwaad.
55Maar Stefanus was vol van die Heilige Gees en het na die hemel opgekyk. Daar kon hy die majesteit van God sien en hy kon ook sien hoe Jesus in die ereplek aan die regterkant van God staan.
56Toe sê hy: “Kyk daar sien ek nou hoe die hemel oopgegaan het, en die Redder staan in die ereplek regs van God.”
57Maar hulle het hulle ore toegedruk en geskree so hard as hulle kon terwyl hulle almal saam op hom afstorm.
58Toe gryp hulle hom en sleep hom uit die stad uit, en daar het hulle hom met klippe doodgegooi. Die getuies, wat die eerste klippe moes gooi, het hulle mantels neergesit by ’n jongman met die naam Saulus.
59Terwyl hulle hom met klippe gooi, het Stefanus gebid: “Here Jesus, ontvang my gees!” 60Toe kniel hy neer en roep uit: “Here, laat hierdie sonde wat hulle nou doen, nie teen hulle tel nie!” En so het hy gesterf.

Wat ‘n geweldige menslik gesproke hopelose toestand was Stefanus nie in gewees nie.
Daar staan hy en hy weet hierdie mense gaan met niks minder as my dood tevrede wees nie. Hy het geweet, soos hulle in Engels sou sê:
“He was a dead man walking.”

Kom ons wees nou eerlik.  Jou omstandighede was nog nooit só sleg soos Stefanus s’n nie.
Wat doen Stefanus in hierdie haglike omstandighede?
Hy kyk op en in die gees sien hy vir Jesus en ontvang volkome vrede.

Kyk gou weer hoe volkome was sy vrede:

HAN 7:59-60 Terwyl hulle hom met klippe gooi, het Stefanus gebid: “Here Jesus, ontvang my gees!” 60Toe kniel hy neer en roep uit: “Here, laat hierdie sonde wat hulle nou doen, nie teen hulle tel nie!” En so het hy gesterf.

Kom ons wees nou realisties.
Net Goddelike vrede kan jou na mense laat kyk en die klippe sien kom en voel hoe dit teen jou kop en lyf klap en weet, dat hierdie mense nie gaan ophou voordat jy dood is nie en dan bid:

HAN7:60 Toe kniel hy neer en roep uit: “Here, laat hierdie sonde wat hulle nou doen, nie teen hulle tel nie!” En so het hy gesterf.

Jy en ek dink partykeer ons het probleme.  Lees gou wat skryf Paulus oor sy lewe:

2KOR 11:23-27…ek het baiemaal by die dood omgedraai.
24Vyf maal het ek die Jode se straf van nege en dertig houe met ’n stok gekry,
25en drie maal het ek die Romeinse lyfstraf van slae met stokke gekry. Een maal het hulle my met klippe gegooi om my dood te maak. Dit het drie maal gebeur dat die skip waarop ek was, gesink het, en een van die kere was ek ’n hele nag en ’n dag in die see voor ek gered is.
26Hoe baie het ek nie te voet gereis nie. Ek moes deur gevaarlike riviere gaan en op paaie waar daar rowers was. Gevaar was daar orals, of ek nou onder my eie mense, die Jode, was of onder die ander nasies. Daar was gevaar in die stede maar ook in die onbewoonde dele en op see. Daar was die gevaar van mense wat gemaak het of hulle Christene is, maar in werklikheid vyande was.
27Harde werk en moegheid het ek geken en baie nagte sonder slaap. Ek het honger en dors gely en baiemaal nie genoeg gehad om te eet nie. Ek moes koue verduur en het nie altyd genoeg klere gehad om aan te trek nie.

As ek dit nou vergelyk met baie van die mense wat by my kom kla oor byvoorbeeld ‘n blou Maandag, dan het Paulus se jaar bestaan uit 52 blou weke.
Paulus het egter vir Jesus gesien en sy oë op Jesus gehou en daarom kon hy ook vol van Goddelike vrede skryf:

2KOR 4:6-9 Dit is God wat heel aan die begin gesê het: “Laat daar lig wees in plaas van die donkerte.” Dit is dieselfde God wat ook sy lig in ons harte laat val het, en nou kan ons iets sien van die heerlikheid van God as ons na Jesus Christus kyk.
7Die wonderlike krag wat deur my werk, is God se krag en nie myne nie. Ek is soos ’n eenvoudige erdepot waarin daar iets baie kosbaars gesit is. 8Van alle kante af sak moeilikhede op my toe, maar hulle druk my nie plat nie. Ek verstaan nie altyd waarom dinge gebeur nie, maar dit maak my nie moedeloos nie. 9Daar is mense wat my vervolg, maar ek staan nie alleen nie—die Here is by my. Partymaal is ek platgeslaan, maar ek gaan weer aan.

Fisies kan ekself nie sien nie maar in 1973 en ek praat nou geestelik, het ‘n man langs my kom staan en sy hand met Christelike liefde op my skouer gelê terwyl hy met die ander hand beduie het, waar ek moet kyk om Jesus raak te sien en ek het gekyk en Jesus gesien en Hom aangeneem as My Verlosser en Saligmaker.

In 1981 het ‘n verskriklike tragedie my getref.  Dit het vir my gelyk of alle vreugde uit my lewe verdwyn het maar ek het my kop opgelig en in die oë van Jesus gekyk en die lewe het ‘n fees geword.

In 1997 sê die dokter vir my en my vrou, dat ek Melanome kanker het en toe ek hom vra hoe erg dit is, sê hy vir my, dat as hulle dit nie kan keer nie, het ek drie maande om te lewe en as ek gelukkig is, dalk ses en ek kyk op in die oë van Jesus en die lewe word ‘n vreugdevolle fees.
Soveel so, dat by al die ander wonderlike wat ek in die lewe kon geniet het, ek ook nog in 1998 in die derde plek eindig as sportman van die jaar in my maatskappy, ten spyte daarvan, dat ek die hele 1998 en ‘n klein gedeelte van 1999 vir kanker behandel gewees het.

In 2012 sê ‘n neuroloog vir my, nadat sy vir my vertel het dat my vrou dementia het, op my vraag van hoe lank ek nog my vrou by my sal kan versorg, dat dit ‘n jaar of dalk 2 kan wees en sy was amper presies reg.

Daarna het ek en my gidshond, tot 26 April 2019, wat vir my die skrikwekkendste tyd in my lewe was,  elke dag vir haar gaan kuier, al het sy my later nie eens meer herken nie.
Sy het op 27 April 2019 na Jesus verhuis en ek kyk op in die oë van Jesus en ek kon weer voortgaan met my lewe want, omdat ek na Jesus kyk, kon ek sien hoe Hy vir my die sin in my lewe wys en die lewe word ‘n fees.

So wat ek jou vertel, het ek nie gekry van hoorsê nie, ek was daar.
So, as jy volkome vrede in jou lewe wil hê, kyk net op en sien Jesus raak, wat met wyd oop arms staan en wag om jou met Sy vrede wat alle verstand te bowe gaan te omvou.

FIL 4:6-7 Julle moet julle nie oor enigiets bekommer nie. Bid daaroor en sê vir God duidelik wat julle wil hê. Vra Hom om dit vir julle te doen en sê vir Hom dankie!
7Dan sal God julle sy wonderlike vrede gee wat ’n mens nooit met jou verstand kan verklaar nie. Sy vrede sal wag hou oor julle hart en julle gedagtes omdat julle aan Christus Jesus behoort.

As jy Jesus nog nie ken nie, lees hier wat sê Hy vandag vir jou.

MAT 11:28 “Kom na My toe, dan sal Ek julle rus gee, julle almal wat moeg is en swaarkry onder die laste wat julle dra.

OPG 3:20 Luister, Ek staan voor die deur en klop. As iemand hoor dat Ek hom roep en die deur oopmaak, sal Ek inkom en saam met hom eet en hy sal ook saam met My eet.

KOL 1:15 Al kan ’n mens God nie sien nie, is Christus vir ons ’n aanduiding van hoe God is, want Hy is presies net soos God. Hy is belangriker as alles wat God geskape het.

KOL 1:20-23 God wou alles wat Hy gemaak het—alles wat op aarde en in die hemel is—weer in die regte verhouding met Homself bring. Dit kon alleen gebeur nadat God vrede gebring het deur die bloed van Christus wat op die kruis gesterf het.
21Hierdie vrede is ook vir julle bedoel, julle wat vroeër so ver van God af geleef het en sy vyande was.
22Hy het hierdie vyandskap weggeneem toe sy Seun ’n mens geword het en gesterf het. God het dit gedoen sodat Hy julle voor Hom kan laat staan en julle heilig en sonder fout kan wees, sonder enige aanklag teen julle.
23Maar dan moet julle aanhou om op Hom te vertrou en vas bly staan op daardie fondament.

Groete,
Sakkie