KAN EK AS CHRISTEN MY REDDING VERLOOR? DEEL 1

KAN EK AS CHRISTEN MY REDDING VERLOOR? – DEEL 1

Sakkie Parsons

Ek deel graag die volgende vraag wat iemand aan my gestuur het:

Kan ons as Christene ons redding verloor volgens Heb 6:4-6?

Daar is baie, baie mense wat sê: “Dit is darem te heerlik.  Ek het Jesus aangeneem as my Verlosser en Saligmaker en nou kan ek maar net my lewe lewe en maak nie saak wat ek doen nie, ek is op my pad Hemel toe.”

Hier is die verskil tussen die meeste “eenmaal gered, altyd gered”-teoloë se verklaring van die Woord en hoe ek die Woord probeer verkondig:

Ek neem nie ‘n teksgedeelte en sê so en so is dit nie, al staan dit nie so daar nie en wanneer ek wel so iets doen, probeer ek altyd onthou om by te voeg: “Dit is hoe ek die Woord hier verstaan.”  Ek is nie slim genoeg om allerlei slimmighede uit te dink nie.  Daarom lees ek maar die Woord soos ‘n kind.  Dit is hoe Jesus wil dat ek die Woord moet lees en enige verduideliking wat ek gee moet uiteindelik ooreenstem met hoe ek die res van die Woord verstaan.  Met ander woorde, ek moet nie probeer slim wees nie.

HEB 6:4  Want dit is onmoontlik om die wat eenmaal verlig geword het …

Dit is iemand wat, die Hemelse gawe gesmaak het.  Hier verstaan ek persoonlik, iemand wat die liefdevolle vergewing van sy sonde deur Jesus se kruisdood as ‘n werklikheid in sy hart ervaar het maar los, as jy wil,  hoe ek dit verstaan, en onthou net, dat hierdie persoon verlig geword het en die Hemelse gawe gesmaak het.

HEB6:4  … en die hemelse gawe gesmaak …

Iemand wat die Heilige Gees deelagtig geword het. 

Hier kan ‘n mens tog net verstaan, dat die persoon die Heilige Gees ontvang het en dat die Heilige Gees met ander woorde in die persoon gewoon het.

As dit so is, is die vraag noodwendig:  “Sal die Heilige Gees van God in ‘n ongelowige woon?

HEB 6:4  … en die Heilige Gees deelagtig geword het..

Iemand wat ook aste ware, soos wat ek dit sien, al klaar in hulle harte ‘n wonderlike verhouding met ons Here gehad het, maar los, as jy wil, soos hoe ek dit verstaan en onthou maar net:

HEB 6:5  en die goeie woord van God gesmaak het en die kragte van die toekomstige wêreld. 

So, hier het ons iemand op wie die volgende van toepassing is:
• Die persoon is Bybels verlig.
• Het die hemelse gawes gesmaak.
• Iemand wat die Heilige Gees van God inwonend in haar/hom gehad het.

Terloops, die HAT sê van die woord “deelagtig”, die volgende:
Deelagtig. Met ’n deel van; in besit van;

Nou sê die Woord vir my in geen onsekere terme nie, dat so ‘n persoon afvallig van ons Here kan word en dat in so ‘n geval, dit onmoontlik is om so ‘n persoon weer tot bekering te help.

HEB 6:6  en afvallig geword het—om dié weer tot bekering te vernuwe, …

Let nou op wat jy nou gelees het.  Daar staan: Heb 6:6  … dié weer tot bekering te vernuwe, … Jy kan nie iemand wat nog nooit bekeerd gewees het, weer tot bekering bring nie, gewoon, omdat die persoon nog nooit in die eerste plek bekeerd gewees het nie.

Die skrywer praat dan tog hier verseker van iemand wat bekeerd moes gewees het – want, dit maak nie saak hoe jy of ek al die ander eienskappe van die persoon wat hier as voorbeeld vir ons voorgehou word verstaan nie, oor twee eienskappe van hierdie persoon, is daar tog geen twyfel hoegenaamd nie:

Die eerste is, dat die persoon die Heilige Gees van Jesus Christus inwonend in haar/hom gehad het: Heb 6:4  … en die Heilige Gees deelagtig geword het, 

Die tweede feit wat soos ‘n paal bo water staan, is dat die persoon van wie hier as voorbeeld gepraat word, op ‘n tyd bekeerd gewees het.  Want dit is mos heeltemal onlogies om te redeneer dat die persoon onbekeerd was, of dan nog nooit bekeerd gewees het nie, as jy lees: Heb 6:6  en afvallig geword het—om dié weer tot bekering te vernuwe,  Jy kan nie iets weer doen, as dit in die eerste plek nog nooit gedoen gewees het nie.

Sommige mense wil iets op ‘n sekere wyse verstaan en niks wat jy doen gaan hulle laat verander nie.  Al lees hulle dit op wit en swart in die Woord.  Ek het al mense teëgekom wat uit die Woord vir jou sal wys, deur die Woord te verdraai natuurlik, dat daar net wit mense in die Hemel is en gaan wees.  Ek het selfs al te doen gekry met mense wat jou sal vertel en selfs die geskiedenis van die mens sal verdraai, om jou te wys, dat die Afrikaner en net die wit Afrikaner die uitverkore volk van ons Here is.

Ek lees die Woord soos wat ons Here wil dat ek dit lees:

MAT 11:25  In daardie tyd het Jesus gespreek en gesê: Ek loof U, Vader, Here van die hemel en die aarde, dat U hierdie dinge verberg het vir wyse en verstandige mense en dit aan kindertjies geopenbaar het.
MAT 11:26  Ja, Vader, want so was dit u welbehae.
MRK 10:15  Voorwaar Ek sê vir julle, elkeen wat die koninkryk van God nie soos ‘n kindjie ontvang nie, sal daar nooit ingaan nie. 

Niémand – geen engel, geen bose gees en geen mens kan my uit die hand van ons Here ruk nie maar ek kan besluit, om dit so te stel, om myself uit Sy arms los te maak en my rug op Hom te draai en hel toe te stap.

Ek besluit hier waar ek sit en elke dag om my oë vasgenael op Jesus te hou en Hom te bly volg en net soos wat dit my besluit is om dit te doen, net so is dit my besluit, as ek dit nie meer wil doen nie.  Ek is nie ‘n marionet nie, ek is die beeld van ons Here en soos Hy is, is een van my eienskappe dat ek ‘n wil van my eie het.

Ek kan ook enige dag besluit, om daardie fatale stap te doen en my rug op Hom te keer.

Daarom is een van die dinge wat ek altyd onthou en myself op attent maak en ook altyd sal verkondig:

MAT 24:42-44  

42 Waak dan, omdat julle nie weet watter uur julle Here kom nie.
43  Maar weet dit: as die huisheer geweet het in watter nagwaak die dief sou kom, sou hy gewaak en nie toegelaat het dat in sy huis ingebreek word nie.
44  Daarom moet julle ook gereed wees, (dit sê dan tog ook, dat jy ongereed kan wees) want die Seun van die mens kom op ‘n uur dat julle dit nie verwag nie. 

Ek wil altyd gereed wees, want, soos ek die Woord verstaan, kan ek ongereed wees en voor ‘n toe deur te staan kom. Daarom verkondig ek wat ek verkondig, sodat ander nie ongereed by ‘n toe deur aankom nie, omdat aan hulle verkondig was: “eenmaal gered, altyd gered.”

As ons kyk na die gelykenis van ‘Die verlore seun’ met die volgende gedagte:

Daardie man kon soos baie mense al in die verlede gemaak het, sy wil gebruik het en gesê het: “Alles is nou net een teveel vir my” en sy eie lewe geneem het en hy sou nooit weer by sy vader uitgekom het nie maar hy het sy wil gebruik.

Onthou nou ook, dat dit Jesus is wat hierdie gelykenis vertel en soos ek altyd sê, sê ek nou ook maar weer – As Jesus iets op ‘n sekere wyse sê, moet jy aandag gee van hoé Hy dit gesê het. So, let nou op as jy dit lees – nêrens, in dit wat jy nou gaan lees, is daar eens amper ‘n indikasie, dat ons Here se Gees hom gedwing het nie.  Hy het na sy omstandighede gekyk en hyself het ‘n besluit geneem:

LUK 15:17-20  

17 Maar hy het tot homself gekom en gesê: Hoe baie huurlinge van my vader het oorvloed van brood, en ek vergaan van honger!
18  Ek sal opstaan en na my vader gaan, en ek sal vir hom sê: Vader, ek het gesondig teen die hemel en voor u,
19  en ek is nie meer werd om u seun genoem te word nie; maak my soos een van u huurlinge.
20  En hy het opgestaan en na sy vader gegaan. En toe hy nog ver was, het sy vader hom gesien en innig jammer vir hom gevoel en gehardloop en hom omhels

Daar is nog iets baie mooi in dit wat jy nou gelees het:  Hoe wonderlik wys Jesus nie aan ons, ons Hemelse Vader se liefde nie.
Hierdie seun berei ‘n hele toespraak voor om met sy vader te deel van hoe ‘n slegte mens hy nou eintlik is maar as gevolg van sy vader se groot liefde vir hom, het hy toe nooit eens die geleentheid gekry om sy voorbereide toespraak te lewer nie.

Hoe oneindig jammer voel ‘n mens nie vir mense wat nie ‘n verhouding met so ‘n liefdevolle Vader het nie, omdat hulle nie vir Jesus wil aanneem as Verlosser en Saligmaker nie.

Daar is baie tragedies in hierdie lewe maar daar is volgens my mening nie ‘n groter tragedie, as dit, dat Jesus op die een of ander wyse aan ‘n mens se hart klop en daardie mens Jesus wegstuur nie want Jesus is die énigste toegang na ons VADER – na die ewige lewe. 

Jesus sê:

JOH 10:9 Ek is die hek;  as iemand deur My ingaan, sal hy beslis gered word. ..

HAN 4:12 “Daar is geen redding by iemand anders nie.  Daar is geen ander naam op aarde wat mense kan aanroep om gered te word nie.”

Sê dit vir ons dat ons gedurig moet twyfel as ons sonde doen as wedergebore kind van God, of ons nou gered is al dan nie en of ons eendag Hemel toe gaan al dan nie? 

Hierdie vraag bespreek ek in my volgende Gedagte uit die Woord:  Die volkome sekerheid van die hoop tot die einde toe.

Vir nou:

Ek kan my saligheid/redding verloor, deur weer die wêreld te kies en so my saligheid met my vrye wil waarmee ek geskape is, in my Saligmaker se gesig terug te gooi.

Groete
Sakkie