KAN EK AS CHRISTEN MY REDDING VERLOOR? DEEL 2

KAN EK AS CHRISTEN MY REDDING VERLOOR?-  DEEL 2

Sakkie Parsons

My vorige skrywe in hierdie kort reeks van twee het ek so afgesluit:

Sê dit vir ons dat ons gedurig moet twyfel as ons sonde doen as wedergebore kind van God, of ons nou gered is al dan nie en of ons eendag Hemel toe gaan al dan nie?
Die volkome sekerheid van die hoop tot die einde toe.

Asook:  Vir nou –

Ek kan my saligheid/redding verloor, deur weer die wêreld te kies en so my saligheid met my vrye wil waarmee ek geskape is, in my Saligmaker se gesig terug te gooi.

So, eers dan oor:
Die volkome sekerheid van die hoop tot die einde toe.

Ek wil begin deur gou met jou iets te deel uit ‘n program wat ek eendag oor die TV geluister het.  Ek sê “geluister,” omdat ek blind is.
So hou ook in gedagte, dat ek dalk nou nie presies dit gaan verduidelik soos wat dit daar gebeur het nie maar ek is baie seker dit is baie naby aan dit wat daar gebeur het.

Dit is ‘n toeriste aktiwiteit.
Hulle neem jou op ‘n boot uit die see in, na waar daar baie haaie is.
Dan gooi hulle bebloede, vis en aas in die water.
Dan klim die toeriste in ‘n soort hok van yster raamwerk en sak hulle onder die water in.
Nou is daar om hulle baie haaie wat hulle kan bestudeer, terwyl hulle nie ‘n gedagte aan die dood of enige gevaar gee nie, want om hulle is hierdie heerlike yster raamwerk maar as een van hulle uit daardie hok sou beweeg, is dit ‘n heeltemal omgekeerde situasie.
Dan is hulle onmiddellik in doodse gevaar en is dit iets wat verseker deurentyd in hulle gedagtes sal wees.
Al oorweeg niemand in daardie hok, daardie opsie om uit die hok te gaan nie, het hulle verseker daardie keuse.

Dit is ook hoe dit werk na my bekering.

Vir solank ek in die hand van ons Here is-
Ja, vir solank as wat ek my oë op Jesus hou en in Sy weë wandel, is ek volkome veilig en hoef daar nie eens ‘n gedagte van gevaar in my hart op te kom nie – maar hoe verder ek van Jesus af beweeg, hoe groter raak die gevaar en as ek aanhou weg beweeg, kom daar ‘n tyd, wat Jesus nie eens meer op my geestelike horison is nie en dan skeel dit my ook nie meer waar Jesus is nie.

Dan word die Woord waar wat sê:

HEB 6:4-6
4 Want dit is onmoontlik om die wat eenmaal verlig geword het en die hemelse gawe gesmaak en die Heilige Gees deelagtig geword het,
5  en die goeie woord van God gesmaak het en die kragte van die toekomstige wêreld,
6  en afvallig geword het—om dié weer tot bekering te vernuwe, omdat hulle ten opsigte van hulleself die Seun van God weer kruisig en openlik tot skande maak.

O!
Ekself struikel baie en soms struikel ek so geweldig dat ek selfs val en ek het al so hard in my lewe geval, dat dit vir my gevoel het dat ek my nou heeltemal te pletter geval het.
Maar een ding, ek staan op en al gaan dit soms vanweë die harde val, strompel-strompel, van een ding maak ek seker, ek sorg dat ek Jesus nie uit die oog verloor nie.

Want, ek het dit al so baie in my lewe gesien, dat mense val en die lê so lekker vind, dat hulle nie meer wil opstaan nie en so toelaat, dat Jesus, vir wie hulle eens op ‘n tyd met soveel ywer gevolg het, in die verte oor hulle geestelike horison verdwyn.  Want hoe lekker om myself te bluf en my gewete te sus en te dink: ‘Ek was eenmaal gered, so ek is vir altyd gered.’

Die Woord sê van daardie mense, wat so ‘eenmaal gered altyd gered’ net soos die ongelowiges om hulle lewe die volgende….

2PET 2:22  Maar oor hulle het gekom wat die ware spreekwoord sê: Die hond het omgedraai na sy eie uitbraaksel, en die gewaste sog om in die modder te rol.

Dit bring my by wat ek in my persoonlike lewe, om dit so te stel, as die grofste belediging teen die offer wat Jesus vir ons op Golgota gebring het beskou en dit seker omdat ek die pastoor so goed geken het en hy so ‘n goeie en ywerige herder gewees het.

Ek deel dit baie kortliks met jou:

‘n Vriendin vertel my eendag, dat die pastoor haar gekontak het en vir haar gesê het dat hy verlief op haar is en dat hulle met ‘n verhouding moet begin.
Toe sy vir hom vra:
“Pastoor, wat sal die Here daarvan sê?”
Sê hy aan haar:
“Ons bely dit net aan die Here en dan is alles weer reg”
en toe is die herder uit die bediening en daar is die herder van die gemeente terug in sy braaksel, al rollende in die modder.  Want hy het toe ook as getroude man ‘n ander dame verwagtend gemaak.

Jesus sê aan die gemeente in Sardis:

OPB 3:2 Word wakker en herstel wat nog oor is, wat op die drumpel van die dood is.
Jou optrede vind Ek nie gepas in die teenwoordigheid van my God nie.

Op die drumpel van die dood en dit is nie jou fisiese dood nie, kan jy nog omdraai maar as jy eers oor die rand is, is daar geen maar geen omdraai nie.
Kyk wat sê Jesus aan Sy volgelinge, sodat ons wat dit doen, kan weet ons hoef nooit te twyfel oor ons saligheid nie:

JOH 15:9-11
9 Soos die Vader My liefgehad het, het Ek julle ook liefgehad. Bly in hierdie liefde van My.
10  As julle my gebooie bewaar, sal julle in my liefde bly, net soos Ek die gebooie van my Vader bewaar en in sy liefde bly.
11  Dit het Ek vir julle gesê, dat my blydskap in julle kan bly en julle blydskap volkome kan word.

Wees altyd nugter en waaksaam.  Met ander woorde:
Met groot respek gesê – Moet net nie uit die hok van Jesus se omarming uitbeweeg nie.
Want sien, buite die omarming van Jesus in jou lewe, is daar nie mensvreter haaie wat jou nog sal laat wegkom, met dalk net een ledemaat minder of ‘n groot wond nie.
Buite die liefdevolle beskerming van Jesus waarsku die Woord ons:

1PET 5:8  Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos ‘n brullende leeu, en soek wie hy kan verslind.

So:
Kan ek as Christen my redding verloor?
Dan is my antwoord:
Geen engel, geen gees, geen omstandighede kan my saligheid van my ontneem nie.  Net ekself  egter, kan my saligheid verseker afstaan.

As jy hierdie skrywe lees en dit lyk vir jou of jy al hoe verder van Jesus af beweeg.  Dalk wil-wil Jesus al vanweë jou leefwyse al uit jou sig verdwyn.
Moet nie dat satan jou buite die omarming van Jesus betrap nie, soos wat hy die pastoor van wie ek jou vertel het ook betrap het nie.

Jesus se Gees sê nou hier waar jy lees wat jy nou lees:

OPB 3:2 Word wakker en herstel wat nog oor is, wat op die drumpel van die dood is.
Jou optrede vind Ek nie gepas in die teenwoordigheid van my God nie.

Ek sluit af met ‘n gedeelte wat iemand aan my gestuur het terwyl ek hierdie gedagte uit die Woord geskryf het en wat ek graag ook nou vir jou wil sê:

HEB 6:11  Maar ons verlang dat elkeen van julle dieselfde ywer mag toon om te kom tot die volkome sekerheid van die hoop tot die einde toe;
HEB 6:12  sodat julle nie traag word nie, maar navolgers van hulle wat deur geloof en lankmoedigheid erfgename van die belofte is.

Groete,
Sakkie