KAN EK MY MEDEMENS NET SO LIEF HÊ SOOS MYSELF?

KAN EK MY MEDEMENS NET SO LIEF HÊ SOOS MYSELF?

Sakkie Parsons

Ek wil graag met jou deel, hoe God hierdie besondere probleem wat ek ook gehad het, vir my opgelos het:

Lukas 10 vanaf vers 25:

Die Samaritaan wat sy medemens liefgehad het

25Iemand wat ’n deskundige oor die wet was, staan toe op om Hom met ’n vraag vas te trek. “Meneer” , het hy gevra, “wat moet ek doen om die ewige lewe te kry?”

 26“Wat lees jy in die wet?” vra Jesus. “Wat sê die wet hieroor?”

 27Die man antwoord: “Daar staan geskryf: ‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en siel en met al die krag wat jy het. Jy moet Hom liefhê met jou hele verstand. Jy moet ook jou medemens net so liefhê as wat jy jouself liefhet.’ ”

 28“Dit is heeltemal reg,” sê Jesus. “As jy dit doen, sal jy die ewige lewe hê.”

 29Maar die man wou nog sy eie opinie verdedig en vra toe: “En wie is my medemens?”

 30Jesus verduidelik toe met ’n gelykenis: “Daar was eendag ’n Joodse man wat op pad was van Jerusalem af na Jerigo toe. Langs die pad het rowers hom aangeval en sy klere afgevat. Hulle het hom so geslaan dat hy half dood bly lê het toe hulle daar weg is.

31“Dit gebeur toe so dat ’n Joodse priester met daardie pad verbykom. Maar toe hy die man daar sien lê, het hy ’n wye draai om hom geloop en aangegaan. 32Daar het ook ’n Leviet verbygekom, maar toe hy die man daar sien lê, het hy ook ’n wye draai om hom geloop en aangegaan. 33’n Samaritaan wat op reis was, kom toe daar aan. Toe hy die man sien, het hy hom in sy hart jammer gekry. 34Hy het na die man toe gegaan en sy wonde verbind nadat hy olie en wyn daaraan gesmeer het. Toe help hy die man om op sy donkie te klim en vat hom na ’n herberg toe waar hy hom versorg het. 35Die volgende oggend het die Samaritaan twee silwergeldstukke vir die eienaar van die herberg gegee en gesê: ‘Versorg hom asseblief goed. As jou onkoste meer is as hierdie geld, sal ek dit self aan jou terugbetaal as ek weer hier langs terugkom.’ ”

 36Jesus vra toe: “Nou hoe dink jy? Watter een van die drie was die medemens van die man wat deur die rowers aangerand is?”

 37Die deskundige oor die wet se antwoord was: “Dit is die een wat hom met meegevoel behandel het.”

Toe sê Jesus: “Nou gaan en maak jy ook so!” 

Hoe kan ek my medemens regtig net so lief hê soos myself?

Ek het baie daaroor gedink.

Hoe kan ek vir die vrou wat vir ons tee by die werk bring en die manne wat die blomme voor die kantoor snoei en die man of die vrou wat in die kantoor langs my werk, wat ek net so nou en dan sien, net so lief wees as vir myself.

God sê dat ons, ons medemens moet lief hê.  Dit is ‘n bevel.  Met ander woorde, ek as God se kind word nie ‘n keuse gegee nie.

Lukas 10 vers 27 (NLV):

27 Die man het geantwoord:  “’Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart, jou hele siel, al jou krag en jou hele verstand.’  En ‘Jy moet jou medemens liefhê soos jouself.’”

Dit was iets wat ek nie mooi kon verstaan nie en God wat my probleem gesien het, het my toe, terwyl ek met die probleem geworstel het, na die gedeelte in die Bybel geneem en toe ek mooi daarna kyk was dit vir my baie mooi duidelik en ek hoop dat as jy of iemand wat jy van weet wat met die probleem sit, die e-pos gelees het, dan ook soos ek, sal insien dat dit tóg moontlik is om my medemens net so lief te hê soos myself.

Iets wat ek sommer gou na my bekering agtergekom het, is dat Jesus nie met woorde mors nie.

As Jesus iets op ‘n sekere manier sê, is daar ‘n baie goeie rede hoekom Hy dit so sê en as Hy ‘n sekere woord gebruik is daar ‘n baie goeie rede hoekom Hy daardie besondere woord gebruik.

Hoekom het Jesus ‘n Samaritaan die hoofrol in die verhaal laat speel?

Want die Samaritane was verskriklik deur die Jode gehaat.  Soveel so, dat ‘n respektabele Jood nie eens vir hom die vieslike woord, Samaritaan sou gebruik nie.

Daarom dan ook, selfs nadat Jesus die man oortuig het van wie die rowers se slagoffer se medemens was, hy nog nie homself sover kon kry om die woord Samaritaan te sê nie.

Lukas 10 vanaf vers 36 (NLV):

36Nou, watter van hierdie drie sou jy sê, was ‘n naaste vir die man wat deur die rowers aangeval is?” het Jesus gevra.

37 Die man het geantwoord:  “Die een wat aan hom medelye bewys het.”  Toe het Jesus gesê:  “Ja, gaan nou, en doen dieselfde.”

Iets anders wat ons Vader by my tuisgebring het is dit:

Al die tyd wat die Samaritaan die Jood verpleeg het terwyl hy daar op die grond gelê het,  moes daardie Jood opkyk na die man, na wie hy normaalweg nie eens sou afkyk nie.  Nee hy sou normaalweg eenvoudig net anderpad gekyk het.

Vervolgens wil ek die volgende logiese vraag aangaande hierdie onderwerp probeer beantwoord:

Hoe lyk hierdie liefde wat ek vir my naaste moet voel en hoe ervaar ek hierdie liefde vir my naaste?

Ekself noem hierdie liefde “compassion “ liefde.

Die rede waarom ek die Engelse woord “compassion “ gebruik is die volgende:

Lees net watter wonderlike Afrikaanse woorde, wat so absoluut deel behoort te wees van ‘n ware Christen se lewenswyse, gebruik die woordeboek alles onder andere vir “compassion.”

“Compassion:” Barmhartigheid, bejammer, deelnemend, erbarming, empatie, medelye, simpatie,

Weet jy, soos ek die Woord verstaan –

As jy en ek met “compassion” liefde na die mens kyk en waar nodig, soos die barmhartige Samaritaan, met “compassion” liefde teenoor die mens wat nou my naaste geword het, optree – dán my vriend/vriendin, sê die Woord, het ons die wet, Jesus se liefdeswet, vervul.

Romeine 13 vanaf vers 9 (NLV):

9 Want elke verbod, dié teen egbreuk, teen moord, teen diefstal, teen verkeerde begeertes – en watter ander een daar ook mag wees – word opgevang in hierdie een groot opdrag:  “Jy moet jou medemens net so liefhê soos jouself.” 10 Die liefde doen niemand kwaad aan nie.  Daarom voldoen die liefde aan al God se vereistes.

Laat dit jou en my strewe, as Jesus se volgelinge wees, om na ons medemens te kyk met die liefde van:

Barmhartigheid, bejammering, deelnemend, erbarming, empatie, medelye, simpatie.

Want, dit is tog alles wyses van hoe ons na onsself kyk – en so het ons dan ons medemens net so lief soos ons onsself het.

Groete,

Sakkie

E-pos:  bediening@sakkieparsons.co.za

Webtuiste:  www.sakkieparsons.co.za

Sel:                         083 457 6669

Judas 1:24-25 „Aan Hom nou wat magtig is om  julle van struikeling te bewaar en julle sonder gebrek voor Sy heerlikheid te stel met gejuig,  aan die alleenwyse God, ons Verlosser, kom toe heerlikheid en majesteit, krag en mag, nou tot in alle ewigheid!  Amen.”

Indien u hierdie e-pos lees en wel gereëlde e-pos van my wil ontvang, stuur asseblief u volle e-pos adres in die “subject box” na:   bediening@sakkieparsons.co.za

Moet asseblief nie ‘n leë e-pos stuur nie.

Aangesien ek blind is en gebruik maak van ‘n sagteware program waar die rekenaar met my praat, sal ek nie weet of dit ‘n foto of leë e-pos is wat ek ontvang nie.  In albei gevalle sal my rekenaar net stil bly.

Sommige Gedagtes uit die Woord is ook in Engels beskikbaar.

Indien jy dit met een van jou Engelse vriende wil deel, kan jy my net vra en ek stuur dit aan jou.

Ek sal ook, as jy my vra, vir jou ‘n lys stuur van al die Afrikaanse gedagtes uit die Woord wat tot op datum vertaal is.  Waar jy dan self kan besluit watter gedagte uit die woord om met jou Engelse vriende te deel, jy van my wil bestel en dit is natuurlik alles gratis.