KAN EK TE VEEL VAN JESUS MAAK?

KAN EK TE VEEL VAN JESUS MAAK?

Sakkie Parsons

Iemand gesels met my en die persoon vra my toe of ek nie dalk te veel van Jesus maak nie.  Hy vra my toe of ‘n mens nie kan oorgaan tot Jesus aanbidding nie en so tussen die lyne waarsku hy my toe teen wat hy Jesus aanbidding noem.

Ek wil dit ook baie duidelik sê dat ek nie met hierdie skrywe wil te kenne gee dat soos ek redeneer die Alfa en die Omega is van hoe Christene moet dink nie maar omdat ek deur die genade van ons Here vir baie mense e-pos stuur en daar nog mense mag wees wat redeneer soos die man wat die gesprek met my gevoer het, wil ek net graag hê dat jy moet verstaan hoe ek hierdie saak sien.

Nou wil ek ook die vraag vra en dan antwoord soos ek dit sien maar eers moet ek verduidelik hoe ek ons Here sien.

Hoe sien ek God die Vader en God die Seun en God die Heilige Gees?
Ek verduidelik dit graag so:
As ek Sakkie by my vrou is, tree ek teenoor haar op soos haar man want ek is haar man.
As ek Sakkie by my kinders is, tree ek teenoor hulle op soos hulle vader want ek is hulle vader.
As ek Sakkie by die werk is, tree ek op soos ‘n werknemer van die maatskappy waar ek werk want ek is ‘n werknemer van daardie maatskappy.
In al drie gevalle tree ek met oorgawe heeltemal verskillend op, amper soos drie verskillende mense en tog is en bly ek Sakkie.

Dit is dan ook hoe ek na ons Here kyk:
Vir my is God die Vader en God die Seun en God die Heilige Gees, God Almagtig.

1JHN 5:7  Want daar is drie wat getuig in die hemel: die Vader, die Woord en die Heilige Gees, en hierdie drie is een;

JAK 2:19  Jy glo dat God één is. Jy doen goed; die duiwels glo dit ook, en hulle sidder.

Kan ek Sakkie ‘n  wedergebore kind van God, wat Jesus Christus aangeneem het as my God, Verlosser en Saligmaker, te veel maak van Hom?

Kom ons kyk net gou weer wat sê God in Sy Woord van Jesus en soos ek jou al by ‘n vorige geleentheid gewys het, God kan in Sy Woord amper – en weer sê ek dit met die grootste respek, God kan nie ophou om oor Sy Seun Jesus te praat nie.  So, ek gaan net ‘n paar voorbeelde noem.

Wie is Jesus oor wie God nie uitgepraat kan raak nie?
Hy is God Almagtig wat alles geskep het, sonder wie niks ontstaan het wat ontstaan het nie.

JHN 1:1  In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God.
JHN 1:2  Hy was in die begin by God.
JHN 1:3  Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie.

Hierdie Woord wat by God was en wat self God was, het ‘n menslike liggaam aangeneem en onder ons kom woon:

JHN 1:14  En die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon—en ons het sy heerlikheid aanskou, ‘n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom—vol van genade en waarheid.

Kan ek te veel van God Almagtig maak – wat ‘n menslike liggaam aangeneem het en toe Golgota toe gestap het en toegelaat het, dat Hy vir my sondes geslag word!?

1KOR 5:7  Suiwer dan die ou suurdeeg uit, sodat julle ‘n nuwe deeg kan wees—soos julle inderdaad ongesuurd is—want ook ons paaslam is vir ons geslag, naamlik Christus.

Is dit werklik moontlik, dat ek Sakkie teveel van my Jesus kan maak?
In ekstase skreeu ek dit in my hart uit:
“Nee! O! Nee! ‘n duisend maal nee!  Nooit sal ek eens genoeg van my Jesus kan maak nie, wat nog te sê te veel!”

Hoe kyk God Almagtig na hierdie Jesus wat ek met soveel geesdrif verkondig?

MAT 11:27  Alles is aan My oorgegee deur my Vader, en niemand ken die Seun nie, behalwe die Vader; ook ken niemand die Vader nie, behalwe die Seun en elkeen aan wie die Seun dit wil openbaar.

Het jy gesien wat jy nou gelees het?
God Almagtig, wat jou lief het, soos net ons Here jou kan liefhê – laat dit aan Jesus
oor om te besluit of jy God wat jou so lief het mag ken.

MAT 11:27  … ook ken niemand die Vader nie, behalwe die Seun en elkeen aan wie die Seun dit wil openbaar.

Daarom kan Jesus dan ook met al die gesag van God almagtig sê:

MAT 11:27  Alles is aan My oorgegee deur my Vader, …

Om dan op te som soos ek hierdie saak sien:

Vir my begin en eindig alles by Jesus Christus.

OPG 1:7  Kyk, Hy kom met die wolke, en elke oog sal Hom sien, ook hulle wat Hom deursteek het; en al die geslagte van die aarde sal oor Hom rou bedryf; ja, amen!
OPG 1:8  Ek is die Alfa en die Oméga, die begin en die einde, sê die Here, wat is en wat was en wat kom, die Almagtige.

OPG 21:6  En Hy het vir my gesê: Dit is verby! Ek is die Alfa en die Oméga, die begin en die einde. Aan die dorstige sal Ek gee uit die fontein van die water van die lewe, verniet.
OPG 21:7  Hy wat oorwin, sal alles beërwe; en Ek sal vir hom ‘n God wees, en hy sal vir My ‘n seun wees.

Iemand vra my of ek Jesus aanbid!?
Elke keer as ek net aan my Jesus dínk jubel my hele wese saam met Thomas dit uit!

JHN 20:28  En Thomas antwoord en sê vir Hom: My Here en my God!

KOL 1:15  Hy is die Beeld van die onsienlike God, die Eersgeborene van die hele skepping;
KOL 1:16  want in Hom is alle dinge geskape wat in die hemele en op die aarde is, wat sienlik en onsienlik is, trone sowel as heerskappye en owerhede en magte—
alle dinge is deur Hom en tot Hom geskape.

EXO 20:11  Want in ses dae het die HERE die hemel en die aarde gemaak, die see en alles wat daarin is, …

KOL 1:17-20 
17 En Hy is voor alle dinge, en in Hom hou alle dinge stand.
18  En Hy is die Hoof van die liggaam, naamlik die gemeente; Hy wat die begin is, die Eersgeborene uit die dode, sodat Hy in alles die eerste kan wees.
19  Want dit het die Vader behaag dat in Hom die ganse volheid sou woon
20  en dat Hy deur Hom alles met Homself sou versoen nadat Hy vrede gemaak het deur die bloed van sy kruis—ek sê deur Hom—die dinge op die aarde sowel as die dinge in die hemele.

Waarom is ek so entoesiasties oor Jesus dat iemand selfs te kenne gee, dat ek te veel van Jesus maak?
Want, net oor die tweeduisend jaar gelede het ons Here gedoen wat Hy lank vantevore laat profeteer het:

JES 9:5   Want ‘n Kind is vir ons gebore, ‘n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy is op Sy skouer, en Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors—

ROM 10:9-11 
9 As jy met jou mond die Here Jesus bely en met jou hart glo dat God Hom uit die dode opgewek het, sal jy gered word;
10  want met die hart glo ons tot geregtigheid en met die mond bely ons tot redding.
11  Want die Skrif sê: Elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaam word nie.

Daarom sal die hooftema van my skrywe altyd wees, soos wat my groot held Paulus dit ook by geleentheid gestel het:

1KOR 2:2  want ek het my voorgeneem om niks anders onder julle te weet nie as Jesus Christus, en Hom as gekruisigde.

Groete
Sakkie