KAN ‘N BOSE GEES IN MY KOM WOON WANNEER EK ‘N KIND VAN GOD IS?
Sakkie Parsons
Iemand skryf aan my met die vraag wat daarop neerkom of ‘n mens ‘n bose gees kan ontvang wanneer jy, soos hulle dit noem, ‘begrafnis-kos’ eet by ‘n begrafnis.
Ek deel met jou my antwoord aan die persoon, want daar is ongelukkig ook baie Christene en Christelike herders, wat veral deur hulle optrede in eredienste verkondig, dat ‘n ware Christen ‘n vreemde of dan ‘n bose gees in haar/hom kan hê.
Nou goed –
Daar is baie Afrika kulture waar daar die, (wat ek ‘n bygeloof sal noem) is, waar mense glo dat wat begrafnis kos genoem word, wat by begrafnisse geëet word, met bose geeste besmet kan word maar dit is, soos ek in die Woord lees en verstaan, gewoon net ‘n bygeloof.
Dit het waarskynlik sy ontstaan waar dit by baie kos vir baie mense voorberei word en die kos soms lank staan en soms nie higiënies genoeg voorberei is nie en dan besmet word met die een of ander.
Ek deel dan nou met jou my antwoord aan die persoon wat my die vraag gevra het:
Eerstens – Daar is geen gedeelte in die Woord/Bybel wat jy eens amper kan gebruik, om te sê, dat ‘n vreemde/bose gees of watter gees ook al ‘n Christen fisies deur jou mond kan inkry nie – en wat dit aanbetref, is daar ook geen ander wyse wat ‘n vreemde/bose gees ‘n ware Christen kan binnedring nie – maar daaroor praat ek ‘n bietjie later in hierdie skrywe.
Die enigste wyse wat sogenaamde begrafniskos ‘n ware Christen en dan ook net sy/haar liggaam kan beïnvloed, is as die kos nie goed voorberei is en of besmet met die een of ander is nie.
Lees gou hier wat sê die Woord en by name Jesus Self aangaande dit wat ek nou net met jou gedeel het:
MAT 15:11 Nie wat in die mond ingaan, maak die mens onrein nie; maar wat uit die mond uitgaan, dit maak die mens onrein.
Dan verduidelik Jesus dit net ‘n bietjie verder nog meer toe Hy sê:
MAT 15:17-20
17 Begryp julle nog nie dat alles wat in die mond ingaan, in die maag kom en in die heimlikheid uitgewerp word nie?
18 Maar die dinge wat uit die mond uitgaan, kom uit die hart, en dit is dié wat die mens onrein maak.
19 Want uit die hart kom daar slegte gedagtes, moord, egbreuk, hoerery, diewery, valse getuienis, lastertaal.
20 Dit is hierdie dinge wat die mens onrein maak; maar om met ongewaste hande te eet, (is nie goeie higiëne nie maar kan jou nie geestelik besmet nie) maak die mens nie onrein nie.
Ek het genoem, dat daar ook geen ander wyse is wat ‘n vreemde/bose gees ‘n ware Christen kan inneem, of dan van die ware Christen besit neem nie.
Ek noem spesifiek “ware Christen,” want byvoorbeeld sê 80% van Suid-Afrika se bevolking, dat ons Christene is en ons sit met die hoogste misdaadsyfer per 100,00 mense in die wêreld.
Hoekom weet ek met absolute oortuiging uit die Woord, dat wat ek nou vir jou gesê het die waarheid is?
Omdat dit volgens wat ek in die Woord van ‘n ware Christen lees, dit gewoon vir watter soort vreemde/bose gees net onmoontlik is om in ‘n ware kind van God te woon, of dan te wees, as jy dit so wil stel – en dit as gevolg van die volgende redes wat ek in ons Here se kosbare Woord lees:
Eerstens lees ons van ‘n ware kind van ons Here die volgende:
Jy en ek is met Christus beklee en ons lees in die verband en soos my gewoonte is, deel ek net twee voorbeelde uit die baie in die Woord wat ek kon gebruik het, anders gaan hierdie skrywe baie lank wees:
GAL 3:27 want julle almal wat in Christus gedoop is, het julle met Christus beklee.
GAL 3:28 Daar is nie meer Jood of Griek nie, (Paulus het die Grieke van sy tyd as sinoniem vir heidene gebruik) daar is nie meer slaaf of vryman nie, daar is nie meer man en vrou nie; want julle is almal een in Christus Jesus.
1KOR 12:13 Want ons is almal ook deur een Gees gedoop tot een liggaam, of ons Jode of Grieke is, slawe of vrymanne; en ons is almal van een Gees deurdronge.
Het jy hierdie grootse heerlikheid raak gelees?
Die ware kind van ons Here is aste ware deurweek deur ons Here se Heilige Gees:
1KOR 12:13 … en ons is almal van een Gees deurdronge.
So, elke ware Christen is geheel en al omring deur Jesus Christus se Heilige Gees. Ja, ons is, om dit so te stel, deurweek deur Sy Gees en om nog verder te onderstreep wat ek nou met jou gedeel het. As ek werklik vir Jesus aangeneem het, nie net met lippetaal nie, maar as my Verlosser en Saligmaker, is ek omring deur Jesus se Gees. Ja, ek is deurweek deur Sy Gees en hoe absoluut wonderlik. Christus leef nou in my:
GAL 2:20 Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het.
Kan jy nou sien?
Enige vreemde/bose gees van watter aard ook al wat in jou wil wees moet eers by Jesus se Heilige Gees verby kom en dan – wat dink jy is die kanse dat dít kan gebeur – moet daardie vreemde/bose gees nie net by Jesus verby kom nie, maar ook saam met Jesus in jou woon! Jesus se Heilige Gees sal nooit saam met ‘n bose gees in die hart van Sy kind kan woon nie.
Ek glo jy begryp nou, dat geen vreemde/bose of watter ander gees daar ook al mag wees in jou, ware kind van God, kan kom woon nie.
Daar is maar net twee wyses, dat ‘n vreemde/bose gees in ‘n mens kan wees, of die een of ander tyd in ‘n mens homself kan tuismaak:
Die een omstandigheid in ‘n mens se lewe is, as jy nog nié vir Jesus werklik aangeneem het as jou Verlosser en Saligmaker nie, en die ander nog erger scenario is, as jy vir Jesus aangeneem het as jou verlosser en Saligmaker – en jy dan jou rug op Hom gedraai het.
So, die enigste beskerming wat daar teen vreemde/bose geeste is, en ek deel weer met jou twee gedeeltes uit ons Here se kosbare Woord van die baie wat ek kon gebruik het – en ek wil jou wie hier lees en dit nog nie gedoen het nie aanmoedig om dit te doen:
HAN 2:38 En Petrus sê vir hulle: Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, (en hier kom jou belofte van totale beskerming teen watter vreemde/gees ook al) en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang.
HAN 2:39 Want die belofte kom julle toe en julle kinders en almal wat daar ver is, die wat die Here onse God na Hom sal roep.
Lees net hier die heerlike versekering wat Jesus jou gee as jy dit werklik in alle opregtheid doen:
As jy dit lees, onthou dan ook, dat dit God wie mens geword het is wat dit vir jou sê – en Jesus wie God in ‘n mense liggaam was, het dit met ‘n eed gesê:
JHN 5:24 Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie my woord hoor en Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe en kom nie in die oordeel nie, maar het oorgegaan uit die dood in die lewe.
Het jy daardie sekerheid dat geen vreemde/bose of watter ander gees van jou besit kan neem nie?
Met ander woorde het jy al in alle opregtheid vir Jesus aangeneem as jou verlosser en Saligmaker?
As jy onseker is of jy dit al gedoen het, wel dan het jy dit nog nie gedoen nie. Want dit is by verre die belangrikste besluit wat jy ooit in jou lewe hier op aarde kan neem en ‘n mens gaan nie so ‘n belangrike besluit vergeet nie.
Om jou te verduidelik wat ek bedoel net die volgende: Ek sal nooit in my lewe twyfel of ek en my vrou, wie nou by Jesus is, getroud was nie, want dit was vir my die tweede belangrikste besluit wat ek ooit in my lewe geneem het.
So, maak seker in jou hart, dat jy vir Jesus aangeneem het as jou Verlosser en Saligmaker en dan werk jy daaraan om daardie verhouding met Hom net sterker en sterker te maak.
Dit is ‘n liefdesverhouding en liefde is nie ‘n emosie nie, dit is ‘n aksie wat met baie emosie gepaard gaan.
Enige liefdesverhouding kwyn as jy nie daaraan werk nie – en jou verhouding met Jesus, as jy nie bly werk daaraan nie, gaan ook kwyn tot daar niks oor is nie. Daarom, neem Sy Woord op en lees Sy woorde aan jou – en praat en gesels met Hom – jou HERE wat jou liefhet en vir jou ‘n ewige toekoms by Hom voorberei.
Groete,
Sakkie