KAN ‘N STERRETEKEN MY TOEKOMS VOORSPEL?

KAN ‘N STERRETEKEN MY TOEKOMS VOORSPEL?

Sakkie Parsons

Iemand het my, my opinie gevra oor wat ek dink van die artikels in die tydskrifte oor die sterre wat dan jou toekoms kan voorspel en of ek in al die sterretekens glo.

Ek wil graag met jou deel, wat ek vir die persoon gestuur het.
Dan moet ek ook begin deur eers vir jou te sê, soos wat ek al vantevore ook gesê het.
As ek sekerheid oor iets wil hê, gaan ek na die Woord en kyk wat ons Here daar vir ons sê en ek laat toe dat Sy Gees my lei om dit reg te verstaan.
So kom ons kyk gou hoe ons Vader oor hierdie saak voel.

DEU 4:19  dat jy ook jou oë nie na die hemel opslaan, en as jy die son sien en die maan en die sterre, die hele leër van die hemel, jou laat verlei en voor hulle neerbuig en hulle dien nie…

Het jy al gedink?
Hoe hopeloos bespotlik, hoe absoluut belaglik moet iemand of iets wees, as ons genadige liefdevolle Vader, met so iemand en iets die spot dryf!

JES 47:7-14
7 …Jy het hierdie dinge nie ter harte geneem nie, aan die einde daarvan nie gedink nie.
8  Hoor dan nou dit, wellustige wat so veilig sit, wat in jou hart sê: Dit is ek en niemand anders nie! Ek sal nie as weduwee sit of kinderloosheid ken nie.
9   Hierdie twee dinge sal dan in ‘n oomblik, op een dag, oor jou kom: kinderloosheid en weduweeskap; in volle maat sal hulle jou oorval, ondanks die veelheid van jou towerye, ondanks die groot menigte van jou besweringe.
10  En jy het op jou boosheid vertrou, jy het gesê: Niemand sien my nie! Jou wysheid en jou kennis het jou verlei, sodat jy in jou hart gesê het: Ek is dit, en niemand anders nie!
11  Daarom oorval ‘n onheil jou wat jy nie sal weet om te besweer nie; en ‘n onheil val op jou wat jy nie kan versoen nie, en skielik oorval jou ‘n verwoesting sonder dat jy dit weet.
12  Tree tog op met jou besweringe en met die menigte van jou towerye waarmee jy jou vermoei het van jou jeug af; miskien kan jy iets uitrig, miskien kan jy skrik aanjaag!
13  Jy het jou vermoei met die menigte van jou planne; laat hulle tog optree en jou red—die wat die hemel indeel, die sterrekykers wat elke maand laat weet wat oor jou sal kom.
14  Kyk, hulle het geword soos stoppels, vuur het hulle verbrand; hulle kan hulself nie red uit die mag van die vlam nie—dit is geen kool om by warm te word nie, geen vuur om daarvoor te sit nie!

God behoort tog te weet hoe nutteloos dit is om in die soort gemors te glo?  As ek praat van gemors, dan praat ek nie van die sterre nie maar van die belaglike geloof, dat deur na hulle te kyk jy iemand se toekoms kan voorspel.

Ek doen eerder wat die Skepper van daardie sterre en die heelal vir my sê en ek vertrou net op Hom.

Die Skepper van al die sterre sê dan ook vir my en jou:

JES 45:9-12 
9   Wee hom wat met sy Formeerder twis—’n potskerf by erdepotskerwe! Sal dan die klei sê aan die wat dit vorm: Wat maak jy? Of jou werk sê: Hy het geen hande nie!
10  Wee hom wat vir die vader sê: Waarom verwek u? en vir die vrou: Waarom het u weë?
11  So sê die HERE, die Heilige van Israel en sy Formeerder: Vra My aangaande die toekomstige dinge; vertrou my seuns en die werk van my hande aan My toe!
12  Ek het die aarde gemaak en die mens daarop geskape; Ek—my hande het die hemel uitgespan, en Ek het aan sy ganse leërskare bevel gegee.

Ek weet ook dat ons Here my met geen ander god of dan, sogenaamde krag gaan deel
nie.

EXO 20:4  Jy mag vir jou geen gesnede beeld of enige gelykenis maak van wat bo in die hemel is, of van wat onder op die aarde is, of van wat in die waters onder die aarde is nie.
EXO 20:5  Jy mag jou voor hulle nie neerbuig en hulle nie dien nie; want Ek, die HERE jou God, is ‘n jaloerse God wat die misdaad van die vaders besoek aan die kinders, aan die derde en aan die vierde geslag van die wat My haat;

Onthou ook, dat daar nie ‘n middeweg is nie.

MAT 7:13  Gaan in deur die nou poort, want breed is die poort en wyd is die pad wat na die verderf lei, en daar is baie wat daardeur ingaan.
MAT 7:14  Want die poort is nou en die pad is smal wat na die lewe lei, en daar is min wat dit vind.

 

As daar dalk iemand êrens is wat dink, dat jy tog in die gemors kan glo en ook ‘n
ware kind van God kan wees, moet daardie persoon maar weer dink, want Jesus sê:

MAT 6:24-26 
24  Niemand kan twee here dien nie; want òf hy sal die een haat en die ander liefhê, òf hy sal die een aanhang en die ander verag. Julle kan nie God én (byvoorbeeld) Mammon dien nie!
25  Daarom sê Ek vir julle: Moenie julle kwel oor jul lewe—wat julle sal eet en wat julle sal drink nie; of oor jul liggaam—wat julle sal aantrek nie. Is die lewe nie meer as die voedsel en die liggaam as die klere nie?
26  Kyk na die voëls van die hemel; hulle saai nie en hulle maai nie en hulle bring nie bymekaar in skure nie, en tog voed julle hemelse Vader hulle. Is julle nie baie meer werd as hulle nie?

As Jesus sê:

MAT 6:24  Niemand kan twee here dien nie…

Dan is dit niémand.  Dan bly daar nie een oor wat dit kan doen nie. 
Dan kan nie ek of jy of enige iemand anders ‘n uitsondering wees nie.
Daar is net EEN op wie ek mag en kan vertrou, wat my lewe en die toekoms
Aanbetref:
Dit is net God, of dan Jesus, God wat Vlees geword het.

JHN 1:1-3 
1 In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God.
2  Hy was in die begin by God.
3  Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie.

JHN 1:14  En die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon—en ons het sy heerlikheid aanskou, ‘n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom—vol van genade en waarheid.

Enige – en ek meen, énige ander rigting wat ‘n mens inslaan, wat hierdie dinge
aanbetref, maak my ‘n dienaar van satan en ‘n vyand van God.

MAT 12:30  Hy wat nie met My is nie, is teen My; en hy wat nie saam met My versamel nie, verstrooi.

Ek is nie ‘n bul of ‘n kreef of wat ook al nie.
Ek is ‘n Christen, met ander woorde, ‘n kind van God en dit alleen, want ek kan en
wil nie twee here dien nie.
Ek het nie ‘n sterrebeeld nie.
Ek het maar een teken die kruis van my Jesus.
Ek is onder geen sterreteken nie.
Ek is onder die liefdevolle genade van God.

EFE 1:5-9 
5  deurdat Hy ons voorbeskik het om ons as sy kinders vir Homself aan te neem deur Jesus Christus, na die welbehae van sy wil,
6  tot lof van die heerlikheid van sy genade waarmee Hy ons begenadig het in die Geliefde.
7  In Hom het ons die verlossing deur sy bloed, die vergifnis van die misdade na die rykdom van sy genade,
8  wat Hy oorvloedig aan ons bewys het in alle wysheid en verstand,
9  deurdat Hy aan ons die verborgenheid van sy wil bekend gemaak het na sy welbehae wat Hy in Homself voorgeneem het.

Persoonlik kyk ek na hierdie dinge en ek sê met heerlike vrede in my hart, soos my
groot held Paulus gesê het.

1KOR 2:2  want ek het my voorgeneem om niks anders onder julle te weet nie as Jesus Christus, en Hom as gekruisigde.

Groete,
Sakkie