KAN ‘N WARE CHRISTEN IN SONDE BLY LEEF?

KAN ‘N WARE CHRISTEN IN SONDE BLY LEEF?

Sakkie Parsons

Iemand skryf aan my as volg:

“1 Johannes 3 vers 9
Sal waardeer as u vir my ‘n verduideliking kan gee.”

Kom ons lees dan eers 1 JOH 3:9:

1 JOH 3:9 Almal wat uit God gebore is, hou nie aan sonde doen nie omdat God se saad in hulle bly.  Hulle kan ook nie aanhou sonde doen nie omdat hulle uit God gebore is.

Eerstens wil ek dadelik noem, dat Johannes verseker nie hier sê, dat ‘n ware – en ek beklemtoon “wáre” Christen, nooit sondig nie.

As hy hier dit sou  sê, praat hyself uit twee monde en hy het geskryf wat ons Here hom laat skryf het.  So, dit kan nie dit wees nie, want hy skryf ook:

1JHN 1:8  As ons beweer dat ons nie sonde het nie, mislei ons onsself en leef ons nie volgens die waarheid nie.

En verder:

1JHN 1:10  As ons beweer dat ons tot nou toe nie gesondig het nie, maak ons Hom tot ‘n leuenaar.  Dit beteken ook dat Sy Woord nie in ons lewe plek gekry het nie.

Onthou ook ek praat nie as ek verder skryf van verslawing nie, solank die verslaafde nie besluit, dat sy/haar verslawing is die norm in sy/haar lewe en dit is nou maar hoe dit is nie.

Dus –
Wanneer jy dit afsny tot op die been, gaan dit hierom: 
Om ‘n Christen te wees – of:   Om ‘n wáre Christen te wees.

Wat is ‘n wáre Christen?
Dit is wanneer jy God se roepstem en Sy offer en uitnodiging aan jou tot redding antwoord – deur Sy Seun, Jesus Christus, met jou hele hart aan te neem as jou persoonlike Redder en Here van jou lewe. 
En jouself dan onvoorwaardelik aan Hom te gee, in ‘n innige liefdesverhouding met Hom te staan en om jou lewe dan in geloof, gehoorsaamheid en toewyding aan Hom te leef. 

Om tot bekering te kom beteken ‘n vernuwing en ‘n verandering van jouself.  Dit is om opreg berou oor jou sondes te hê.

‘n Ware Christen sondig nie moedswillig, of dan met opset; met ander woorde met voorbedagte rade nie.

Ek noem twee alledaagse voorbeelde:  Hy sal nog ‘n teken vir ‘n ‘taxi’ se bestuurder wys wat iets verkeerd voor hom doen – maar dit dadelik berou.  Want ons almal struikel dikwels.
Hy sal nie met opset dink:
“Nou gaan ek hom wys nie” en dit dan met daardie voorbedagte rade doen nie.

Ek mag byvoorbeeld voel om iets te steel wat aste ware vir my vra om gesteel te word – maar, ek sal dit nie doen nie.

Daarom is 80% van die mense in Suid-Afrika Christene maar net ‘n baie klein deeltjie is wáre Christene, of dan kinders van God.

Van die oorgrote meerderheid Christene in die wêreld sê die Woord:

OPG 3:15  Ek ken jou handel en wandel.  Ek weet dat jy nie koud of warm is nie.  Ek sou wat wou gee as jy maar net koud of warm was.
OPG 3:16  Omdat jy só louwarm is, nie warm nie en ook nie koud nie, is Ek op die punt om jou uit my mond te spoeg.

Die tragedie word wat die tipe Christen aanbetref ook uiteindelik net groter, as jy onthou dat daar ook geskryf staan:

HEB 6:4-6 
4-6 Intussen moet julle besef dat dit onmoontlik is om hulle wat een maal deur God verlig is, maar daarna hulle rug op God gedraai het, weer tot ware inkeer te bring – hulle wat die wonderlikheid van God se geskenk ervaar het, wat die Heilige Gees ontvang het, wat die lieflikheid van God se Woord en die kragte van God se toekomstige wêreld beleef het.  As hulle dan tog hulle rug op God draai, kan hulle nie weer tot inkeer gebring word nie, want wat hulleself betref, kruisig hulle die Seun van God opnuut deurdat hulle Hom verwerp, en hulle maak Hom openlik tot ‘n bespotting.

Daarom behoort die mense wat net in naam Christene is, of dalk net Sondag Christene is, of wanneer dit hulle ookal pas Christene is, deeglik van bogenoemde, sowel as Jesus se uitdruklike persoonlike woorde in hierdie verband kennis te neem:

MAT  7:16-21 
16 “Julle sal hulle aan hulle optrede uitken, net soos ‘n mens ‘n boom aan sy vrugte kan uitken.  ‘n Mens pluk tog nie druiwetrosse van doringbosse af, of vye van dissels nie. 
17  ‘n Gesonde boom dra immers goeie vrugte en ‘n siek boom slegte vrugte.
18  ‘n Gesonde boom kan nie slegte vrugte dra en ‘n siek boom goeie vrugte nie.
19  Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi.
20  So sal julle hierdie mense aan hulle vrugte uitken.
21  Nie almal wat ewe vroom vir My ‘Here, Here’ sê, sal in God se koninkryk ingaan nie.  Wat die deurslag sal gee, is of hulle aan my hemelse Vader gehoorsaam was.”

Om dan in baie kort op te som wat ek nou met jou gedeel het:

‘n Wáre, Christen sondig nie, gewoon omdat hy nie moedswillig is en met opset sal sonde doen nie – maar omdat ons Here weet, dat ons as mense almal struikel en ons dan vergifnis vra, kyk ons liefdevolle genadige God na dit wat ons in gestruikel het en voor vergifnis gevra het – en Hy sien Jesus ons Voorspraak by die Vader raak, nie die sonde nie.

Daar is selfs mense wat dink:
“Ek kan maar hierdie sonde doen en dan net vir ons Here vergifnis gaan vra.”
Hoe verskriklik!
By dit wat hulle dan doen, deur Jesus se offer bespotlik te maak, maak hulle ook nog of God swaksinnig is!

Ek onthou ook, dat ons Here in Sy Woord, by alles wat jy reeds gelees het, ook vir ons laat skryf het:

2PET 2:20-22 
20 En as mense ontsnap het van die besmettings van die wêreld deurdat hulle ons Here en Verlosser, Jesus Christus, leer ken het, en hulle weer daarin vasgevang en daaraan verslaaf word, dan is hulle aan die einde slegter daaraan toe as aan die begin.
21  Dit sou defnitief vir hulle beter gewees het as hulle die pad van geregtigheid (wat voor God reg is) nie leer ken het nie, as dat hulle dit wel leer ken het en toe afgewyk het van die heilige voorskrif (gebod) wat aan hulle oorgelewer is.
22  Van hulle is dié spreekwoord waar:  “’n Hond gaan terug na sy braaksel toe.” En:  “’n Vark word gewas, net om weer in die modder te rol.”

Dus:
Wat ‘n wáre Christen aanbetref:

JAK 3:2  Ons maak almal baie foute.  Maar ‘n mens wat sy tong in toom kan hou, kan dit ook met sy hele liggaam regkry. (een van ‘n legio voorbeelde)

Ek herhaal 1JOH 3:9:

1 JHN 3:9 Almal wat uit God gebore is (wat tot bekering gekom het) hou nie aan (willens en wetens) sonde doen nie omdat God se saad (die nuut ingeplante lewe/ die Woord/ Sy Gees) in hulle bly.  Hulle kan ook nie aanhou (moedswillig) sonde doen nie omdat hulle uit God gebore is. (nuutgebore wanneer ons Jesus Christus as ons Redder en Here aanneem)

Die vraag wat ek myself in hierdie tyd waar die mens net meer en meer boos raak moet vra is:

“Is ek ‘n Christen net in naam en wanneer dit my geval – wat nog die sonde doen al weet ek dit maak ‘n bespotting van wat Jesus vir my geoffer het?”

Of:

Is ek ‘n wáre volgeling van Jesus wat nog struikel maar dit nie die norm in my lewe is om moedswillig die sonde te doen nie?

Luk 6:43-45  Van ‘n braambos oes jy tog nie druiwe nie!
43 ‘n Goeie boom kan nie slegte vrugte dra nie, en ‘n slegte boom nie goeie vrugte nie.
44  ‘n Boom word geken aan die soort vrugte wat hy dra.  Vye groei tog nie aan doringbosse, of druiwe aan braambosse nie.
45  ‘n Goeiemens bring goeie dade voort uit ‘n goeie hart, en ‘n slegte mens bring slegte dade voort uit ‘n bose hart.  Wat ook al in jou hart leef, bepaal wat jy sê.” (en hoe jy leef)

TITUS 2:11-14
11 Die liefdevolle goedheid van God wat verlossing bring, het inderdaad vir almal sigbaar geword.
12 Dit voed ons op om die goddelose leefstyl en die wêreldse begeertes af te lê en gebalanseerd, met opregtheid en toewyding aan God, in die huidige tyd te leef.
13 Ons verwag ook dat die seën waarop ons hoop, ‘n werklikheid word.  By daardie geleentheid sal die heerlikheid van ons groot God en Verlosser, Jesus Christus, ook sigbaar word.
14 Hy het sy lewe vir ons gegee om ons los te koop van alles wat voor God verkeerd is, en om ons te reinig van alle sonde sodat ons Sy volk kan wees wat net aan Hom behoort, entoesiasties om die goeie te doen.

Die volgende ‘Gedagtes uit die Woord’ wat hierby aansluit kan ook met vrymoedigheid per epos bestel word wat ek dan met graagte aan jou sal stuur, of op die Webtuiste onder die opskrif ‘eposbediening’ gelees word:

“Bekering, Waterdoop en Wedergeboorte”
“Moedswillige sonde pas nie by ‘n ware Christen nie”

Groete,
Sakkie