KIES DAN DIE LEWE, DAT JY KAN LEWE, JY EN JOU NAGESLAG

KIES DAN DIE LEWE, DAT JY KAN LEWE, JY EN JOU NAGESLAG

Sakkie Parsons

Iemand het my gevra:
Waarom het Noag vir Kanaän vervloek as dit Gam was, wat verkeerd opgetree het?”

GEN 9:24-28 
24 Toe Noag van sy wyn wakker word en merk wat sy jonger seun hom aangedoen het,
25  sê hy: Vervloek is Kanaän! ‘n Kneg van die knegte moet hy wees vir sy broers.
26  Verder het hy gesê: Geseënd is die HERE, die God van Sem. Maar Kanaän moet sy dienskneg wees.
27  Mag God aan Jafet ruimte verskaf, en mag hy woon in die tente van Sem! Maar Kanaän moet sy dienskneg wees.
28  En Noag het ná die vloed drie honderd en vyftig jaar gelewe.

Omdat ek iemand is wat met die genade van ons Here probeer om nooit iets voor te gee wat nie so is nie, moet ek dadelik vir jou sê, dat my antwoord is soos ek persoonlik dit sien en dat daar sekerlik mense gaan wees wat met my gaan verskil.  Ook het na my mening wie die grootste apostel van alle tye is die volgende gesê, omdat hy geweet het net soos ek en ek is seker ook jy weet – en dit is dat ons nie al die antwoorde het nie en dat baie van ons antwoorde maar net die helfte van die volle antwoord is.
Paulus het naamlik gesê.

1KOR 13:12  Want nou sien ons deur ‘n spieël in ‘n raaisel, maar eendag van aangesig tot aangesig. Nou ken ek ten dele, maar eendag sal ek ten volle ken, net soos ek ten volle geken is.

Ek sien die antwoord op jou vraag so en alhoewel ek nie kan verklaar hoekom ons Here dit so doen nie, want ek kyk maar in ‘n spieël en sien wat hierdie saak aanbetref, net soos ook in baie ander sake,  net gedeeltelik, die res is vir my op die oomblik ook maar ‘n raaisel.

Die gedeelte wat ek sien is dit.
Als in die Woord is daar vir ons om deeglik kennis van te neem en wat ek hier van kennis neem, al verstaan ek dit nie nou ten volle nie , is dit
Met die sondeval het sonde gekom en baie van die ellende wat daarmee gepaard gaan het ook oorerflik geword.
Sekere families het dit in hul families dat hulle genyg is tot hoë bloeddruk.
Ek weet ook van ‘n familie wat ‘n hoë voorkoms van drankverslaafdes het.
As ek die Woord reg verstaan, lyk dit vir my dat iemand êrens in die verlede iets oor sy nageslag kan bring en tensy iemand dit nie verbreek nie, gaan dit maar net aan en aan.

EXO 20:5  …Ek, die HERE jou God, is ‘n jaloerse God wat die misdaad van die vaders besoek aan die kinders, aan die derde en aan die vierde geslag van die wat My haat;
EXO 20:6  en Ek bewys barmhartigheid aan duisende van die wat My liefhet en my gebooie onderhou.

DEU 30:19  Ek neem vandag die hemel en die aarde as getuies teen julle; die lewe en die dood, die seën en die vloek het ek jou voorgehou. Kies dan die lewe, dat jy kan lewe, jy en jou nageslag,
 

Alle mense is geskape na GOD se beeld en die twee eienskappe wat alle mense het en nooit verloor nie, omdat hulle almal na Sy beeld geskape is of hulle nou gered is of nie is:

Eerstens:
GOD kan nie doodgaan nie.
Geen mens wat ooit gebore was en gebore sal word, gaan ooit dood nie.  Net my liggaam gaan tot niet.
Ek gaan hierdie liggaam een of ander tyd verlaat maar ek gaan nie dood nie.  Alle mense het in die verlede en sal in die toekoms die dood oorlewe.
Ek gaan of verewig in die Hemel by ons Here wees, of ek gaan verewig in die hel dood gaan en tog sal ek nooit doodgaan nie.
Almal in die hel, is verewig besig om die verskriklikste dood te sterf.

Tweedens het jy en ek soos GOD ‘n wil van ons eie.

GOD wil hê dat alle mense moet Hemel toe gaan .

JHN 3:16  Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.

Tog gaan die meeste hel toe, omdat hulle nie kies om ons Here te dien nie.

My ouers byvoorbeeld het verkeerde keuses gemaak en ek en my broers en susters is deur die welsyn weggeneem.
Ek het ‘n keuse in die lewe gehad.
Ek kon groot geword het, aartjie na my vaartjie maar ek het my wil gebruik en ‘n ander rigting ingeslaan maar as ek wou kon ek ook soos my ouers ‘n alkoholis geword het.

Gam het iets sleg oor sy familie gebring maar almal na hom, het ‘n keuse gehad:
Aartjie na my vaartjie of doen iets aan my omstandighede.
Iemand wat byvoorbeeld weet dat sy familie ‘n geneigdheid het tot hoë kolesterol, kan weg bly van vet kos, of hy kan die pad loop wat ‘n mens maar loop as jou kolesterol te hoog word, hy het ‘n wil en hy gebruik sy wil om ‘n keuse te maak.

Waar dit by ons Here kom is dit onmoontlik om nie ‘n keuse te maak nie.  Met ander woorde – waar dit by ons Here kom is dit onmoontlik om neutraal te staan.

MAT 12:30  Hy wat nie met My is nie, is teen My; en hy wat nie saam met My versamel nie, verstrooi.

HY het ook nie wat ons betref neutraal gestaan nie.

JES 53:3-5 
3 Hy was verag en deur die mense verlaat, ‘n man van smarte en bekend met krankheid; ja, soos een vir wie ‘n mens sy gelaat verberg; Hy was verag en ons het Hom nie geag nie.
4  Nogtans het Hy óns krankhede op Hom geneem, en óns smarte—dié het Hy gedra; maar óns het Hom gehou vir een wat geplaag, deur God geslaan en verdruk was.
5  Maar Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom.

Daar is baie dinge wat ek nie verstaan nie.
Dink ‘n bietjie hieroor:
As GOD voor die skepping satan tot niet gemaak het, sou ek dalk nou in die paradys gewees het.
Ek weet nie hoekom ons Here dit nie gedoen het nie maar glo vir my, met al die getuienis omtrent ons Here wat ek in my lewe opgetel het, het ek hierdie sekere wete en dit is dat daar ‘n baie goeie rede is en ek gaan verseker eendag my hande saam slaan en uitroep:
“Dat ek nou so blind kon wees en nie die antwoord kon sien nie!”

In die tussentyd neem ek dit wat tot my beskikking is en dien ons Here met als wat ek het, so ver as wat dit menslik moontlik is en die dinge wat ek nie verstaan nie:
Wel, Hy weet dat ek dit nie verstaan nie en omdat Hy dit nie vir my verstaanbaar maak nie steur ek my ook nie daaraan nie.  Want as dit goed is vir Hom dat ek dit nie nou al moet verstaan nie en niemand wat Hy my pad langs stuur verstaan dit ook nie, dan is dit goed genoeg vir my.

1KOR 13:12  Want nou sien ons deur ‘n spieël in ‘n raaisel, maar eendag van aangesig tot aangesig. Nou ken ek ten dele, maar eendag sal ek ten volle ken, net soos ek ten volle geken is.

My uitkyk op hierdie en vele ander sake is dit:

Ek volg Jesus na die beste van my vermoë  en waar ek te kort skiet sal Hy my help en ek sal verseker weet wat ek moet weet wanneer ek dit moet weet.  In die tussentyd bestudeer ek net gereeld die Woord en steek kers op by ander kinders van ons Here maar bo alles, wag ek op Sy leiding.

Ten slotte nog net dit.
As ek die Woord reg lees, het die vloek in elk geval op Gam begin, want net sy broers was geseën.

GEN 9:26  Verder het hy gesê: Geseënd is die HERE, die God van Sem. Maar Kanaän moet sy dienskneg wees.
GEN 9:27  Mag God aan Jafet ruimte verskaf, en mag hy woon in die tente van Sem! Maar Kanaän moet sy dienskneg wees.

As jy nie die seën het nie, wel dan het jy die vloek.

DEU 30:19  Ek neem vandag die hemel en die aarde as getuies teen julle; die lewe en die dood, die seën en die vloek het ek jou voorgehou. Kies dan die lewe, dat jy kan lewe, jy en jou nageslag.

Groete,
Sakkie